
Saam vorentoe, klas van 2022!
Jy is presies waar jy bedoel is om te wees.
Hierdie gevoel is gistermiddag deur beide die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), prof Wim de Villiers, en die voorsitter van die Studenteraad (SR), me Viwe Kobokana, uitgespreek toe hulle die Universiteit se nuwelingstudente gedurende twee verwelkomingsgeleenthede in die Danie Craven-stadion welkom geheet het.
Die geleenthede was die amptelike begin van die Universiteit se Verwelkomingsprogram, wat uit 'n omvattende en ten volle geïntegreerde reeks verwelkomingsaktiwiteite gedurende die eerste twee weke van Februarie bestaan.
Laat jou drome bewaarheid word
In teenstelling met verlede jaar se verwelkomingsgeleentheid wat virtueel aangebied is, het De Villiers sy dankbaarheid uitgespreek om weer in lewende lywe in die Danie Craven-stadion teenwoordig te wees om die nuwe Maties welkom te heet.
“Ek kan nie vir julle sê hoe wonderlik dit is om 'n stadion vol mense in persoon toe te spreek nie. Die span wat verlede jaar se verwelkomingsprogram saamgestel het, het hulle fantasties van hul taak gekwyt te midde van die beperkings van Covid-19-protokols.
“Vanjaar lyk dinge heeltemal anders. Ons kom steeds die Covid-19-protokols na, maar die bestuur van die pandemie is nou op 'n punt waar ons ten minste ons tradisionele Verwelkomingsgeleentheid kan aanbied – al is dit ook in twee sessies.
“Ek glo 'n geleentheid soos hierdie – wat ons in lewende lywe bywoon – speel 'n belangrike rol om ons nuwe studente 'n gevoel van identiteit en van wat dit beteken om 'n Matie te wees, te gee."
De Villiers het die nuwelinge gelukgewens met hul akademiese prestasies gedurende die moeilike afgelope twee jaar en met hul aanvaarding as studente by die Universiteit.
“Ons het 'n rekord aantal aansoeke vir 2022 ontvang. Om die waarheid te sê, aansoeke het met meer as 150% gestyg in vergeleke met die vorige jaar, en ons het beperkte plek. Julle het dit gemaak, so julle kan trots voel! Gee jouself 'n klop op die skouer, jy verdien dit."
Met die oog op klasse wat op 14 Februarie begin, het De Villiers die nuwelinge aangemoedig om gefokus te bly en om verantwoordelikheid vir hul tyd op Stellenbosch te aanvaar.
“Julle het spesifieke vaardighede en talente wat julle na die tafel bring. Ons is gretig om te sien wat julle gaan bydra. Want Maties is julle 'droombestemming'. Ons sal al die pad saam met julle stap, maar dit is julle verantwoordelikheid om julle drome te bewaarheid," het hy gesê.
“So, vat elke dag, elke klas, elke eksamen soos dit kom. Neem klein treetjies, vier die klein oorwinnings, en hou aan!"
Hy het ook die nuwelingstudente ingelig oor die uitgebreide ondersteuningstrukture wat die Universiteit bied en het hulle aangemoedig om dit te gebruik.
Nuwe reis
SR-voorsitter Viwe Kobokana het ook die nuwelinge gelukgewens met hul keuse om die Universiteit Stellenbosch hul akademiese tuiste te maak.
“Wanneer jy hierdie pad begin stap – in die skadu van hierdie pragtige berg, moet jy asseblief onthou jy is presies waar jy bedoel is om te wees; jy verdien om hier te wees, moet dit nooit vergeet nie!"
Sy het hulle aangemoedig om hierdie “goue jare" van hul lewens as studente te omarm, asook om deel te wees van 'n diverse en inklusiewe kampusgemeenskap.
“Saam met die wonderlike mag van onafhanklikheid kom 'n groot verantwoordelikheid. Daar is geen beter tyd as nou as 'n nuweling om die waardes van ons instelling uit te leef nie: deernis, verantwoordbaarheid, respek, billikheid en uitnemendheid.
“Ons is trots op die diverse en unieke identiteite waaruit ons studenteliggaam bestaan namate ons voortgaan om veilige ruimtes vir ons vroue en queer studente, asook vir vlugteling- en internasionale studente uit Afrika, te skep."
Ter beklemtoning van die transformatiewe reis wat elke student gaan beleef, het Kobokana die volgende gesê: “Die Universiteit Stellenbosch is die rede waarom ek vandag die sterk, selfversekerde en trotse swart vrou kan wees wat ek is. Dit is deur al die lag, liefde, trane, slapelose nagte, nagte uit en die lesse wat ek kon aanhou groei," het Kobokana gesê.
Die nuwelingstudente is ook by die geleentheid voorgestel aan die lede van die Rektoraat, dekane en die burgemeester van Stellenbosch, advokaat Gesie van Deventer, wat die geleentheid bygewoon het.
Die verwelkomingsgeleenthede is gevolg deur die Droomoptog in Victoriastraat om die begin van die nuwelingstudente se reis by die US en die verwesenliking van hul drome te simboliseer.
- Weens die vlak 1-veiligheidsbeperkings ter voorkoming van Covid-19, is net 2 000 mense op 'n slag in die stadion toegelaat. Dit het tot gevolg gehad dat net 'n aantal nuwelingstudente, Universiteitsbestuurslede en studenteleiers die geleenthede kon bywoon. Video-opnames van die verwelkomingstoesprake is op die US se webwerf beskikbaar.
Vir meer inligting oor sake soos die uitgebreide netwerk van ondersteuningsdienste, klik hier.