
Fakulteit AgriWetenskappe verwelkom HORTGRO Science as nuwe intrekker by Welgevallen
Die daknatmaakseremonie van HORTGRO Science se nuwe kantore op die Welgevallen Proefplaas op 22 Februarie het 'n nuwe era vir die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe en vir die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf in die breë ingelui. Daardeur word bestaande navorsingsbande uitgebrei en samewerkingsooreenkomste verder verstewig.
HORTGRO Science, die navorsingsarm van die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf, het onlangs 'n langtermyn-ooreenkoms vir die huur van kantoorspasie in die Wintergraangebou op die proefplaas gesluit. Na verwagting sal ander navorsingsinstellings in die vrugtebedryf ook in die volgende paar maande hul intrek hier neem.
"Sodoende word die aktiewe betrokkenheid van die Fakulteit AgriWetenskappe in die Suid-Afrikaanse landboubedryf verder uitgebrei," sê prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe .
Hugh Campbell, HORTGRO Science se algemene bestuurder, het in 'n persverklaring gesê dat die nuwe kantore by Welgevallen die kulminering is van 'n langtermyn strategiese visie vir die organisasie, om 'n samekomspunt of sogenaamde "hub" vir navorsinginisiatiewe te kon skep.
"Ons voorsien dat deur die konsep van 'n 'hub' 'n werksplek geskep sal kan word vir soortgelyke bedrywe," reken Campbell. "In 'n era van beperkte fondse en kapasiteit is alliansies belangrik, en kan ons nie in isolasie werk nie."
HORTGRO Science se intrek versterk die jarelange verhouding wat reeds tussen die sagtevrugtebedryf en die Universiteit Stellenbosch bestaan. Volgens Campbell word een derde van HORTGRO Science se navorsingsbegroting aan navorsers verbonde aan die US toegedeel. Dit sluit onder meer personeel en studente van die Departement Hortologie en die Departement Plantpatologie in.
Die daarstelling van insektariums vir die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie en by die Welgevallen Proefplaas, asook koelkamers vir die US Departement Hortologie, is onder die onlangse kapitaalprojekte waarin HORTGRO Science belê het.
Stephen Rabe, voorsitter van die HORTGRO Science Adviesraad, het prof Danie Brink uitgesonder vir die visie wat hy gehad het om 'n gesamentlike navorsingspasie daar te stel.