Skip to main content
Top ingenieurstudent ontvang gesogte Kanseliersmedalje

Top ingenieurstudent ontvang gesogte Kanseliersmedalje

Corporate Communication and Marketing [Rozanne Engel]
15 Desember 2020

​Matthew Brandon Baas is as vanjaar se ontvanger van die Universiteit Stellenbosch (US) se gesogte Kanseliersmedalje aangewys.

Die US-student het Dinsdag, 15 Desember 2020 die graad BIng (Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese cum laude by 'n virtuele gradeplegtigheid vir graduandi van die Fakulteit Ingenieurswese ontvang.

Baas het die hoogste gemiddelde punt ooit in die departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en die Fakulteit Ingenieurswese behaal. Hy het 'n finale punt van 100% vir meer as 'n derde van sy modules behaal, en het elke jaar van sy graadstudies met lof geslaag.

Afgesien daarvan het Baas ook 100% vir sy finalejaarprojek ontvang. Die projek is vir voorlegging by SACAIR, 'n internasionale konferensie op kunsmatige intelligensie fokus, aanvaar en 'n artikel getiteld Communications in Computer and Information Science, is aanvaar om in die Springer-boekreeks te verskyn.

“Om die Kanseliersmedalje te ontvang, beskou ek as 'n boodskap van die Universiteitsbestuur dat hulle my werk wat ek sover gedoen het, erken en goedkeur. Dit is ook vir my 'n bevestiging dat ek besig is om myself in die regte rigting te stuur om aan die waardes van die US te voldoen. Ek voel nederig om so 'n bevestiging te ontvang, aangesien dit slegs moontlik was danksy my familie, vriende en kollegas se ondersteuning," sê Baas.

Die Kanseliersmedalje is vir die eerste in 1961 toegeken en word jaarliks aan 'n finalejaar of nagraadse student toegeken wat nie net akademies uitgeblink het nie, maar wat ook op verskeie maniere tot die kampuslewe bygedra het en hard gewerk het om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel.

Dit is die agste keer die afgelope twee dekades dat 'n ingenieurstudent die Kanseliersmedalje verower. Volgens prof Wikus van Niekerk, dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, is hy “baie bly" dat een van hul studente weer eens die gesogte toekenning ontvang het. Volgens hom is dit die “hoogste prestasie vir 'n student by die Universiteit Stellenbosch" en “die grootste eer" wat die Universiteit aan 'n student vir sy/haar akademiese prestasies kan bewys.

Baas sê sy resep vir sukses sluit in om sy passie vir elektroniese ingenieurswese uit te leef en om goeie gewoontes aan te leer.

“Om 'n opregte liefde vir die vakgebied of onderwerp te hê, kan selfs die hersiening van die mees alledaagse kursusinhoud ophelder en terselfdertyd ondersteun dit die aanleer van verstandige gewoontes. Hoe langer 'n mens met hierdie passie en gewoontes volhou, hoe waardevoller raak hierdie opgehoopte voordele," sê Baas.

Baas het regdeur sy studiejare verskeie toekennings vir akademiese prestasie ontvang; hy het verskeie entrepreneurskompetisies en wetenskap-hackathons gewens; en aan nasionale en internasionale konferensies deelgeneem. Hy is nie net 'n uitnemende student nie, maar is ook uiters aktief as navorser. Verskeie artikels wat Baas geskryf het, of waarvan hy die medeskrywer was, het al verskyn. Hy het ook al verskeie praatjies gelewer.

Hy is een van die medestigters van die beginnerstegnologiemaatskappy, Ackerview. Die maatskappy verskaf oplossings vir die intelligente bemesting van steenvrugboorde. Baas is verantwoordelik vir die maatskappy se sagteware agter die skerms en datawetenskapontwikkelings – 'n taak wat hy op 'n deeltydse grondslag verrig.

“Die idee vir Ackerview het eintlik in my laaste jaar op hoërskool by Stellenbosch se Ingenieursweek onstaan. Ek het gedurende hierdie winterweek ongelooflike talentvolle en gemotiveerde mense ontmoet. Een van hulle was Torsten Babl, saam met wie ek Ackerview op die been gebring het. Namate ons egter met ons graadstudies gevorder het, het beperkings op ons tyd en energie ons gedwing om ons werk aan Ackerview af te skaal gedurende ons studies. Ongeag wat Ackerview se eindbestemming is, was die entrepreneurslesse wat ek in die proses geleer het, van onskatbare waarde. Ek beplan om beslis hierdie lesse in die toekoms te benut," sê Baas.

Sy talente en belangstellings strek egter baie verder as die akademiese sfeer. Hy is 'n aktiewe deelnemer aan e-sport en bordspeletjieverenigings op kampus. Hy is 'n lid van die Gilde-studentevereniging vir die kaartspel Magic the Gathering.

Baas beplan om sy navorsingswerk voort te sit, hetsy in die akademie, die korporatiewe wêreld óf as entrepreneursonderneming.