Skip to main content
Spesiale eksamenreëlings om studente by te staan aangekondig

Spesiale eksamenreëlings om studente by te staan aangekondig

Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
31 Oktober 2016

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het vandag ad hoc-reëlings in verband met verlore akademiese tyd en die eindeksamen vir 2016 goedgekeurdie eksamens aangekondig.

Lees sy skrywe aan personeel en studente hieronder:

31 Oktober

Beste kollegas en studente

Die Uitvoerende Komitee van die Senaat het laat verlede week ʼn paar buitengewone, ad hoc-reëlings in verband met verlore akademiese tyd en die eindeksamen vir 2016 goedgekeur. Die Rektor se Bestuurspan het ʼn dringende spesiale vergadering van die komitee belê om studente se besorgdheid oor die uitwerking van die onlangse studenteprotes en die voortsetting van die akademiese jaar te bespreek. 

Die Universiteit se benadering is tweeledig, naamlik dat die integriteit en gehaltebeheer van die eksamenstelsel gehandhaaf sal word, soos wat van alle hoëronderwysinstellings vereis word, en dat personeel geaffekteerde studente so ver moontlik met sorg en empatie sal bystaan om die eksamen te voltooi.  Die volgende besluite is ná lang en deeglike gesprekvoering geneem:

  • Dat die Universiteit se gevestigde stelsel van twee gelykwaardige en opeenvolgende eksamengeleenthede reeds geaffekteerde studente die geleentheid bied om bykomende voorbereidingstyd te gebruik om die tweede eksamengeleentheid te benut.
  • Dat ter voldoening aan die beginsel van gelykwaardigheid en die handhawing van die integriteit en gehaltebeheer van ons eksamenstelsel, spesiale pogings aangewend sal word om studente wat deur die onlangse protesaksie geraak is so ver moontlik by te staan om die eksamen te voltooi. 
  • Dat weens die verlore akademiese tyd, meer toegeeflikheid aan die dag gelê sal word in die oorweging van studentetoegang tot die tweede eksamengeleentheid. Spesifieke maatreëls sal op fakulteitsvlak bepaal en aan studente sowel as aan die Registrateur vir bestuurs- en rekorddoeleindes deurgegee word. Let egter daarop dat waar finalejaarstudente kies om aan die tweede eksamengeleentheid deel te neem, dit noodwendig sal beteken dat die betrokke kwalifikasie eers by die Maart-gradeplegtighede toegeken sal kan word. Vir appèlle oor punte na afloop van die eksamen geld die bestaande reëls vir die herevaluering van eksamenskrifte, soos dit in die US Jaarboek Deel I uiteengesit word. 
  • Dat ʼn derde eksamengeleentheid in Januarie 2017 onprakties sal wees in die lig van die logistieke uitdagings wat met die afneem van ʼn eksamen aan die begin van ʼn nuwe akademiese jaar gepaardgaan. 
  • Dat ad hoc-reëlings getref sal word met betrekking tot geskorste studente, wat met hulle studie kan voortgaan noudat die dissiplinêre proses afgehandel is. Hierdie studente moet hulle onderskeie dosente kontak, en die departementshoof moet die maatreëls waarop daar besluit is aan die dekaan en Registrateur deurgee. 

Let asseblief daarop dat die punte hierbo buitengewone reëlings is teen die agtergrond van onlangse uitdagende gebeure en die gevolge van verlore akademiese tyd. Hierdie reëlings kom geensins op die skep van 'n presedent neer nie, maar word beskou as ʼn eenmalige aksie om studente in staat te stel om die akademiese jaar 2016 te voltooi.   Die Uitvoerende Komitee van die Senaat besef dat die personeel van die Universiteit ook deur die onlangse gebeure geraak is, en spreek graag sy waardering uit vir alle pogings deur personeellede om ons studente in hierdie uitdagende tye te ondersteun.  Namens die bestuurspan wens ek u alles van die beste toe vir die laaste weke van die akademiese jaar. Vriendelike groete Prof Wim de Villiers Rektor en Visekanselier