
Nóg topmatrieks van 2021 kies Maties
Die Universiteit Stellenbosch (US) wil die beste talent lok. En te oordeel na die eerstejaarinname van 2022, kry die instelling dít ongetwyfeld goed reg. Benewens Ulrich le Roux, Suid-Afrika se toppresteerder in die Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS-)eksamen van 2021, is die leerders in die landwye tweede en derde plek albei óók onderweg na Maties.
Simone Wessels, wat die tweede plek behaal het, sal die baccalaureusprogram in Rekeningkunde volg, en Ah-Young Moon, wat derde geëindig het, sal vir Aktuariële Wetenskappe inskryf.
'n Droom wat waar word
“Ek het nog altyd daarvan gedroom om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer," sê Simone, wat aan die Hoërskool Stellenberg gematrikuleer het. “Buiten die hoë gehalte onderwys wat die Universiteit voorsien, is ek mal oor die pragtige kampusomgewing. Ek kan nie wag om in daardie strate te stap nie. Ek's ook opgewonde om die lewe in Nerina te ervaar, want ek het nog nooit voorheen in 'n koshuis gewoon nie."
Sy was altyd passievol oor rekeningkunde, so dit was nie vir haar moeilik om op 'n studieprogram te besluit nie. “My ma is 'n rekenmeester, so ek ken die vakgebied," verduidelik sy. “Toe ek in graad 8 met Rekeningkunde as vak begin, het ek geweet dít is wat ek eendag wil studeer." Simone sê sy wil haar driejaargraad en dan 'n honneurs verwerf, waarna sy graag haar leerkontrak by PricewaterhouseCoopers sal wil voltooi. “Daarna oorweeg ek dit dalk om vir 'n rukkie oorsee te gaan werk."
Die gevoel toe sy gehoor het sy is in die landwye tweede plek was onbeskryflik. “Dit het eers veel later by my ingesink. Ek was verras en so opgewonde."
Wat sou sy sê is die geheim vir haar sukses? “Vir my was dit selfdissipline. Ek het nooit my doelwitte uit die oog verloor nie. Ek het nie te veel gedink oor hoe moeilik dinge op daardie oomblik was nie. Ek het my studiedoelwitte vir elke dag bepaal en seker gemaak ek bereik dit." Sy het ook motivering geput uit iets wat haar pa gesê het: “Hy het eenmaal opgemerk: 'As daar nou 'n jaar is wat jy jou beste wíl doen, is dit matriek.'" In plaas daarvan dat die pandemie haar van stryk gebring het, kon sy eintlik méér aandag aan haar leerwerk gee omdat daar minder afleiding was.
Voorkeurkampus
Ook vir Ah-Young was die US die natuurlike keuse. Sy is in Korea gebore, maar het in 2004 op eenjarige ouderdom saam met haar sendelingouers na Suid-Afrika verhuis. Die gesin het hulle op Stellenbosch gevestig en Au-Young was 'n leerder by die Rynse Hoër Meisieskool.
“Die Universiteit Stellenbosch voorsien wêreldklasonderrig en 'n wye verskeidenheid geleenthede vir studente," sê sy. “Omdat ek jare lank al op Stellenbosch woon, weet ek watter spesiale ervaring die pragtige kampus bied." En noudat sy aan die US sal studeer, sal sy ook steeds as vrywilliger kan werk in 'n groot informele nedersetting buite Franschhoek, waar haar ouers 'n kerk gebou het.
Ah-Young en haar ma was op besoek aan Suid-Korea toe hulle die nuus ontvang dat sy die algehele derde plek in die NSS-eksamen behaal het. “Ek was opreg dankbaar." Sy het uit Seoel na 'n regstreekse YouTube-uitsending van die matriekprysuitdeling gekyk.
Sy glo een van die beste wenke om goed te vaar in die eksamen is “om uit te pluis wat die beste vir jou werk". Sy voeg by: “Elkeen is uniek, so stel verskillende studiemetodes, glimpenne en peuselgoed op die proef totdat jy kry wat vir jou werk wanneer jy leer. Daarna sal jy sien hoe jy stadigaan beter word."