Skip to main content
'n Vegter vir verandering

'n Vegter vir verandering

Rozanne Engel/Corporate Communication Division
05 Desember 2017

Siobhan Clulow (22) van Durbanville het reeds vroeg in haar tienerjare besef dat die lewe nie altyd volgens plan verloop nie.  Op ouderdom 17 is sy met Keratitis gediagnoseer – dit is 'n seldsame oogsiekte wat inflammasie in die kornea veroorsaak en tot 'n verlies aan sig lei

Siobhan vertel: "Tydens my graad 11-eksamen het ek agtergekom dat na 'n paar uur se studie, my sig verswak.  Ek het aanvanklik gedink dit was as gevolg van moegheid, maar na 'n besoek aan 'n oogspesialis het dit duidelik geword dat die dowwe sig ernstiger van aard was."

Nadat sy talle toetse en behandelings ondergaan het, het geneeshere aanbeveel dat Siobhan onmiddellike oogchirurgie moet ondergaan om 'n algehele verlies aan sig te voorkom.

Siobhan sê die nuus was vir haar as 17-jarige, asook vir haar ouers, 'n enorme skok.  “Ek het altyd 20/20 visie gehad – skielik was dit nie meer die geval nie.  Ek onthou dat sommige van my klasmaats by die skool nie te besorgd was toe hulle die nuus gehoor het nie – nogal te verstane, want op daardie ouderdom dink tieners mos maar eintlik net aan hulleself."  Dit het my egter meer vasbeslote gemaak en 'n nuwe perspektief op die lewe gegee."

As gevolg van die toenemende uitwerking van die siekte op haar sig, moes Siobhan haar droom om rekeningkunde te swot, laat vaar. In plaas daarvan het sy besluit om 'n verskil in die onderwyssektor te maak deur 'n BEd (Algemene Onderwys) (Grondslagfase)-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) te volg. Sy het haar studies suksesvol voltooi, en sal sewe onderskeidings ontvang met dié graad, wat op die derde gradeplegtigheid van 2017 op 5 Desember om 17:30 aan haar toegeken word.

Sy sê sy het persoonlik die gebrek aan geriewe en ondersteuningsdienste vir gesiggestremde leerders in die openbare skoolstelsel ervaar.  “Ek hoop om dié situasie in die basiese onderwyssektor eendag te help verbeter, of selfs in samewerking met my ma, wat tans haar studie in onderwyssielkunde voortsit, 'n praktyk te open."

Sy sê voordat sy nog haar studie aan die US begin het, het sy geweet die werkslading op tersiêre vlak gaan meer intens wees – sy het egter nooit van dosente verwag om haar hand gedurende die vierjarige graadstudie te hou nie.  Maar, sê sy, die geweldige ondersteuning wat sy van universiteitskant af as fisies-gestremde student ontvang het, was ongelooflik.

Sy verduidelik: "Die Universiteit het my deurentyd onderwys- en diensondersteuning gegee wat my gehelp het om my studies suksesvol te kan voltooi.  Ook die Braille-sentrum se ondersteuning en aanmoediging, was ontsaglik goed."

Siobhan sê sy sal volgende jaar terugkeer na die US om die nagraadse BEd-graad (Grondslagfase) te voltooi.

Sy stel dit so: "Ek is lief vir hierdie Universiteit.  Dit het my gehelp om as individu te groei en my wêreldbeskouing uit te brei deur 'n diverse en oop gemoed met betrekking tot die gemeenskaps- en studentelewe te ontwikkel.  My intense begeerte is dat ek in die toekoms deur onderwys 'n soortgelyke verskil kan maak."