
'n Matie wat bande bou, van Stellenbosch tot Frankfurt
In Duitsland ontmoet ons Arnim Ritter, 'n finansiële foendi met 'n hart vol aangename Stellenbosse herinneringe, 'n groeiende jong gesin, en 'n passie om by die Matie-gemeenskap betrokke te bly.
Arnim woon 20 minute buite Frankfurt am Main, waar hy 'n druk werkslewe met die vreugdes van gesinstyd balanseer. Bedags verdiep hy hom in finansiële omsigtigheidsondersoeke vir samesmeltings en verkrygings ('M&A') – 'n terrein wat hy as intellektueel uitdagend én uiters bevredigend ervaar.
Sy lewe buite die kantoor is vol boeke, reis en gesinstyd. Hy beplan selfs om as 'n stokperdjie te begin seil. “Ek is nog nie heeltemal seker wanneer of waar nie, maar ek sal dit graag behoorlik op die proef wil stel," glimlag hy.
Waarom hy as vrywilliger werk
Op die vraag oor wat hom 'n alumni-vrywilliger laat word het, antwoord hy sonder aarseling: “Ek het van my beste jare by Stellies deurgebring," sê hy. “Nóú nog wanneer ek 'n mede-Matie ontmoet – of ek hulle nou ken of nie – is daar altyd 'n natuurlike, spesiale band. Ek koester dit regtig."
Dit is hierdie gevoel van verbondenheid en gemeenskaplike ervaring wat hom aanspoor om in Maties te herbelê. Vrywilligerdiens is 'n manier om in voeling te bly met die unieke Matie-waardes, en met mense te kan gesels wat weet wat dit beteken om in Victoriastraat te kon loop, die Rooiplein te kon oorsteek, en Stellenbosch huis te kon noem.
Werk, groei, en 'n onverwagte kant-joppie
Arnim het van 2010 tot 2015 BRekLLB op Stellenbosch studeer, gevolg deur 'n jaar se nagraadse studie. Hoewel sy honneurspoging nie heeltemal uitgedraai het soos hy beplan het nie, het hy die ervaring as dryfveer vir die volgende fase van sy reis gebruik – om 'n meestersgraad in Regte en Finansies in Duitsland te verwerf.
Deesdae pas hy sy kundigheid op M&A-transaksies in verskillende bedrywe toe, en leer en groei hy nog elke dag. “Ek sou nou nie sê ek is besonder talentvol nie," sê hy beskeie. “Maar as ek fokus behou en aanhou leer, is daar net een pad, en dis vorentoe." Hy put motivering uit die tydlose woorde van Marcus Aurelius (“The most noble thing is to be yourself"), Hemingway (“There is nothing noble in being superior"), en die roerende verse van If deur Kipling én Invictus deur Henley. Die boodskap van ál hierdie werke is dat krag, karakter en moed van binne af kom.
Nie alles omtrent hom pas egter by die stereotipe van die ernstige prokureur of rekenmeester nie. Trouens, een van sy mees onvergeetlike ervarings was om in 2009 gedurende 'n politieke byeenkoms in Walvisbaai in die protokolspan – en kortstondig as 'n lyfwag – van die Namibiese opposisieleier Hidipo Hamutenya te dien. “Dit was beslis die tipe ervaring wat jy net een keer in 'n leeftyd het," lag hy.
Lekker herinneringe, en 'n kykie na die toekoms
As hy aan sy studentedae terugdink, staan 'n paar herinneringe uit, veral die Joolmentorskakels in die koshuis Helderberg (oftewel die Republiek) en luilekker middae op die stoepe van die koshuisseksies Kanonkop en Lokkenfekker. Hoewel hy nie nou meer gereelde kontak met baie van sy klasmaats het nie, is die vriendskappe wat hy uit sy studentedae behou het sterk en betekenisvol.
Wat die toekoms betref, wil Arnim graag sy betrokkenheid as 'n vrywilliger verdiep en sterker bande met ander Maties in die streek bou. “Ek geniet dit om met mede-Maties te skakel – daar's net iets lekker daaraan om mense met dieselfde agtergrond te ontmoet, al is ons baie ver van die kampus."
Vir hom persoonlik is sy grootste vreugde om te sien hoe sy jong seun grootword, en om die wêreld saam met hom te verken. “Om saam buite te wees, hom nuwe dinge te leer – dís waarna ek vanjaar die meeste uitsien."