Munira Hoosain onderrig doelgerig en met haar hart
Hierdie Vrouemaand vier ons akademiese personeellede aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat denke vorm en uitnemendheid deur hulle onderrig inspireer. Hierdie merkwaardige opvoeders bring passie, vernuwing en toewyding na die lesinglokaal en help studente om te floreer en sukses te behaal. Hulle stories weerspieël die impak van vroue in die hart van die US se akademiese gemeenskap.
Munira Hoosain is ʼn senior dosent met ʼn PhD in die Afdeling Arbeidsterapie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat passie, innovasie en doelgerigtheid na die lesinglokaal bring. Sy onderrig navorsing aan voorgraadse én nagraadse studente en hou toesig oor hulle navorsing. As ʼn ontvanger van die US se Onderrig-Leer-Assessering-toekenning asook ʼn Navorsingstoekenning kombineer sy leierskap in die klaskamer met gemeenskapsimpak en internasionale samewerking. Van die Kaapse Vlakte tot internasionale genootskappe weerspieël haar reis ʼn diep verbintenis tot maatskaplik responsiewe, inklusiewe en transformerende hoër onderwys.
Vertel ons ʼn bietjie meer oor jou agtergrond.Ek het in Grassy Park op die Kaapse Vlakte grootgeword. My ouers was nie baie geleerd nie – my pa het graad 4 geslaag en my ma graad 8. Maar my gesin het ʼn liefde vir leer by my ingeboesem. Ons het elke week die biblioteek besoek en daar is van ons verwag om by ons ouer broers en susters te leer, en op ons beurt ons jonger broers en susters te onderrig. Hierdie kultuur van 'skool-skool' speel in my vroeë kinderjare het ʼn liefde vir onderrig en leer bevorder, wat ek glo tot ʼn loopbaan in die akademie gelei het. My gesin het nie geld gehad vir hoër onderwys nie (ek was ʼn NSFAS-student), maar ek het myself by die universiteit gesien en vir elke beskikbare befondsingsgeleentheid aansoek gedoen om dit te laat gebeur.Daarbenewens het my pa se dood toe ek drie jaar oud was beteken dat ek met ʼn enkelma grootgeword het. Dit het die belangrikheid van onderwys versterk om ʼn goeie inkomste te verseker sodat ek myself en my familie in enige gebeurlikheid sou kon onderhou. Was daar enige rolmodelle wat ʼn blywende impak op jou gemaak het?My gunsteling-onderwysers by die Hoërskool Grassy Park was mnre Yusuf Johnson en Yaasien Kerbelker. Hulle het innoverende onderwysmetodes toegepas en werklik vir hulle studente omgegee. Mnr Johnson, my wiskunde-onderwyser, het ontdekking aangemoedig en selfs sy aande opgeoffer om hoërgraad-wiskunde te onderrig. Mnr Kerbelker, my biologie-onderwyser, het deur persoonlike stories by studente aanklank gevind en dit maklik gemaak om komplekse konsepte te verstaan.Ek is tydens my BA-studies baie beïnvloed deur proff Elelwani Ramugondo en Lana van Niekerk. Elelwani het ons aan dekoloniale denkwyses bekend gestel lank voordat dit ʼn tendens geword het, en ons aangemoedig om dominante narratiewe te bevraagteken en aan ons geleefde ervarings te ontleen. Lana se visie en leierskap in arbeidsterapie in die Globale Suide inspireer my steeds. Dit is ʼn ongelooflike eer om nou saam met haar by die US te werk. Is daar ʼn spesifieke vakgebied wat jy veral geniet om te onderrig?Ek voel baie sterk oor dekolonisasie in hoër onderwys. Ek glo ons doen so baie hiervan natuurlik as kritiese Suid-Afrikaners, maar ons kan beslis meer afleer en kritiseer van dít wat van die Globale Noorde afkomstig is om ons onderrig aan te pas by die meer kollektivistiese kultuur in Suid-Afrika. Ons kan ook meer doen om van inheemse kennis te ontleen, veral in die gesondheidsberoepe-onderrig. Wat beteken dit vir jou om vandag ʼn vrou in die akademie te wees?As ʼn 44-jarige is ek bly om te sien dat ons vordering gemaak het met die erkenning van die waarde van vroue in die werkplek, en veral in magsposisies. Deur ons beste self te wees sonder om apologeties te wees skep ons ruimte vir ander wat hulleself in ons sien. Verteenwoordiging is belangrik. Nuwe bloed en idees is belangrik. Ek doen elke dag moeite om te luister na menings wat van myne verskil, en indien nodig my eie aannames opnuut in oënskou te neem. Hoe inkorporeer jy tegnologie in jou onderrig?Een van my eerste projekte in die akademie was om plaaslike video's te skep van werklike interaksies tussen arbeidsterapeute en hulle kliënte. Hierdie video's is van onskatbare waarde vir studente om kontekstueel relevante praktyk te ervaar voordat hulle self kliniese werk begin doen, in teenstelling met ander kliniese video's wat dikwels van die Globale Noorde afkomstig is. Wat is die grootste beloning van ʼn dosent aan die US?Ek sê dikwels ek het die beste werk in die wêreld, want ek word betaal om te leer. Deel van my werk is om op die hoogte van die nuutste wetenskaplike navorsing te bly en dit met my studente en eweknieë te deel. Dit is nogal ʼn voorreg. Dit is ook ʼn eer om ʼn rol te speel in die lewe van jong volwassenes en hulle te help om te ontwikkel in sosiaal responsiewe beroepslui wat ander na die beste van hulle vermoë dien. Watter raad sou jy aan jonger vroue gee wat vandag die onderwysberoep betree?Vind ʼn mentor – of twee of drie. Ons kan soveel leer by vroue wat die pad voor ons geloop het en dikwels bereid is om diegene wat pas begin het, te ondersteun. Ek was gelukkig genoeg om by ongelooflike mentors soos proff Nicola Plastow, Laila Asmal, Christine Lochner en Gail Wyatt te leer.Dit is ook belangrik om eweknieë te vind wat die pad saam met jou kan stap, hulpbronne kan deel en jou kan troos wanneer daardie joernaalartikel of befondsingsaansoek verwerp word. In my eerste jaar het ek amper elke geleentheid bygewoon wat ek kon, aanlyn en persoonlik. Dit het my gehelp om my mense te vind en die instelling te verstaan.Vier suksesse én mislukkings. Mislukkings beteken jy probeer en leer en is van deurslaggewende belang op die pad na sukses.
FOTO: Stefan Els