
Jongste nuus: Aankondiging oor eksamen, en inisiatiewe om diskriminasie te bestry
Die Universiteit Stellenbosch (US) volg 'n benadering van geen verdraagsaamheid tot rassisme op kampus. Die Universiteit het uitgebreide maatreëls ingestel om rassisme te bestry, en gaan voort om daarop te verbeter. Gevolglik kon die US, in pas met die tersaaklike wette en interne regulasies, flink en ferm op die Huis Marais-aangeleentheid reageer. Danksy hierdie ferm optrede kan die reg én ons interne dissiplinêre proses nou sy beloop neem.
Weet ook dat ons die slagoffers met die grootste moontlike deernis hanteer. Die Universiteit is daartoe verbind om hulle met voorligting én op ander maniere te ondersteun sodat hulle akademiese vordering en kampusdeelname nie benadeel word nie.
Ons onderneem om ons gemeenskap en belanghebbendes op hoogte te hou van alle ontwikkelings in hierdie verband, en herhaal graag ons onwrikbare verbintenis daartoe om rassisme en diskriminasie uit te roei.
As deel van hierdie verbintenis, is ons flink aan die werk om 'n eksterne onafhanklike kommissie van ondersoek na voorvalle van rassisme en teistering by die Universiteit onder leiding van 'n gerespekteerde regter in te stel. Ons beoog ook 'n ondersoek na die algehele kampuskultuur, tesame met 'n hersiening en oudit van ons beleide, bedryfsprosedures en reaksies. Daarbenewens skep die US 'n aanmeldingsblitslyn vir studente en personeel om voorvalle van diskriminasie of skending van regte, waaronder enige vorme van rassisme, geslagsgebaseerde geweld en teistering, aan te meld. Besonderhede oor die kommissie en die blitslyn sal aangekondig word sodra die prosesse in dié verband afgehandel is.
Die US besef dat die universiteitsomgewing 'n mikrokosmos van die groter Suid-Afrikaanse landskap is. Ons is nie bestand teen die kwessies waaronder die wyer samelewing en gemeenskappe gebuk gaan nie, maar bestaan binne daardie groter konteks.
In 'n buitengewone ontwikkeling het die Rektoraat in oorleg met fakulteits- en studenteleiers besluit om die eksamentydperk vir die eerste semester met een week uit te stel. Hierdie besluit is in die lig van die afgelope week se traumatiese gebeure, en die impak daarvan op ons studente se geestesgesondheid en gemoed. Dít beteken dat die semestereksamen nie eerskomende Maandag 23 Mei sal begin nie, maar op Maandag 30 Mei. Die sperdatums vir assesserings wat dié week ingedien moes word, word óók met 'n week uitgestel. Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, vir wie vergunnings in hierdie verband óók goedgekeur is, sal binnekort self sy spesifieke reëlings aankondig.
Die hele eksamenrooster skuif aan met 'n week, en reses begin op 4 Julie. Dít het egter geen invloed op die aanvang van die tweede semester nie, wat steeds op 18 Julie begin.
In gesprekke met fakulteitsdekane, visedekane vir leer en onderrig sowel as studenteleiers is voorstelle vir die aanpassing van die eksamenrooster gedoen. Die bestuur het tot die finale gevolgtrekking gekom dat die uitstel van die eksamentydperk met 'n week ons studente en personeel tyd sal gun om by die ongelukkige gebeure van die afgelope week aan te pas.
Ons studente- en fakulteitsleierskap staan verenig in hulle versoek vir uitstel, en die Rektoraat glo dit sal ál ons studente die beste moontlike kans op sukses in hulle eksamens en assesserings bied.
Ons besef dié besluit is buitengewoon, en dit is nie ligtelik geneem nie. Ons weet ook dit sal 'n logistieke impak op studente en personeel hê. Die Registrateurskantoor sal so gou moontlik vollediger besonderhede oor die eksamenrooster bekend maak.
Die Universiteit heg groot waarde aan respek, deernis, billikheid, verantwoordbaarheid en uitnemendheid in alle interaksies en optrede. Die Universiteit Stellenbosch bly verbind daartoe om 'n leeromgewing te skep wat vry is van kwessies soos rassisme en diskriminasie, en waar almal veilig is. Ons moet streng waak oor die reputasie en statuur van ons instelling, as 'n wêreldklassentrum van akademiese uitnemendheid waar ons die allerbestes uit ál ons gemeenskappe in Suid-Afrika en verder verwelkom.