Skip to main content
Deelname aan wiskunde- en wetenskapprojek lewer toekomstige dokter op

Deelname aan wiskunde- en wetenskapprojek lewer toekomstige dokter op

Daniel Bugan
31 Januarie 2022

​'n Samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en 'n nieregeringsorganisasie wat wiskunde- en wetenskappunte in townshipskole help verbeter, het in 2021 die uitblinkermatrikulant Karabo Dinelelo opgelewer. Dié inwoner van Soweto sal vanjaar met sy tersiêre studie aan die Universiteit begin en het vir die program MBChB ingeskryf. 

Die US het in 2021 kragte saamgesnoer met die Kutlwanong-sentrum vir wiskunde, wetenskap en tegnologie, wat beoog om talentvolle jong swart beroepslui toe te rus en te ondersteun om loopbane op die gebied van die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (“STEM") te volg. Die Universiteit het onder meer loopbaan- en vakkeusevoorligting tot die vennootskap bygedra.

Suksesverhaal

Karabo het hom by Kutlwanong aangesluit nadat van sy senior skoolmaats hom vertel het hoe die program hulle gehelp het om akademies beter te presteer. “Die blootstelling aan 'n ander leerstyl en 'n omgewing met strawwe mededinging het my op my tone gehou en my aangemoedig om selfs harder te werk," sê hy. “Die aanlyn klasse het my ook deur die Covid-19-pandemie ondersteun en my sekere verlore inhoud help inhaal."

Sy harde werk was beslis die moeite werd. Dié leerder van die Sekondêre Skool Forte het uiteindelik agt onderskeidings in Tswana, Engels, Wiskunde, Lewensoriëntering, Rekeningkunde, Besigheidstudies, Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskappe behaal.

Hy sê die eerste stap om akademiese sukses te verseker is om die regte studiemetodes en -tye te vind. “As jy dít eers gedoen het, is dit makliker en minder uitputtend om te leer. Ek het gesorg dat ek genoeg slaap deur nie saans lang ure te studeer nie sodat ek tyd gehad het om te 'droom' oor wat ek ook al daardie dag geleer het."

Werk “hard en slim"

Sy grootwordjare in armoede in Meadowlands, Soweto, het hom ook aangespoor om sukses te behaal. “My familieagtergrond het my aangemoedig om hard en slim te werk om ons huidige omstandighede tuis te verander," sê Karabo. “Ek glo 'n mens moet jou sterkpunte gebruik om jou swakpunte te bowe te kom en vooruit te gaan in die lewe."

Hy is dankbaar teenoor sy ouers, Quinton en Eunice, en susters Kgomotso en Katlego wat hom deur alles ondersteun het. “Hulle was nie net altyd gereed om my aan te moedig nie, maar het ook opofferings gemaak soos om broodgeld te gebruik sodat ek op reënerige dae 'n taxi kon haal – hulle liefde en ondersteuning het 'n enorme verskil in my lewe gemaak."

Oor sy besluit om medies te studeer, sê hy: “Ek stel al van kleins af daarin belang om 'n dokter te word. Om mense direk te kan help en hulle lewens beter en aangenamer te maak is wat my op hierdie loopbaan laat besluit het. Ek wil graag hand bysit om te sorg dat die meerderheid van Suid-Afrika se groeiende bevolking, indien nie almal nie, gelukkige en gesonde lewens lei." 

Hy sê hy is gereed en opgewonde om deel te word van die Matiefamilie. “Om ver van die huis af te wees is ietwat vreesaanjaend, maar ek glo dat my studie aan die Universiteit Stellenbosch my aan ander en nuwe omgewings en geleenthede sal blootstel en my ook selfstandiger sal help maak."​