
Week van literêre pryse vir Departement Afrikaans en Nederlands se dosente
Dr Willem Anker en dr Alfred Schaffer, wat albei vir kreatiewe skryfkunde aan die Departement Afrikaans en Nederlands verantwoordelik is, het die afgelope week onderskeidelik die kykNET- Rapportprys vir fiksie en die PC Hooft-prys in ontvangs geneem in seremonies wat weens die pandemie ten volle of grotendeels virtueel moes geskied.
Alfred het reeds op 14 Desember 2020 gehoor dat die gesogte PC Hooft-prys aan hom toegeken word vir sy oeuvre en kon dit uiteindelik op 9 September in Den Haag in ontvangs neem. As deel van die program het ʼn aantal digters, waaronder die Suid-Afrikaners Antjie Krog en Ronelda S. Kamfer, van sy en hulle eie werk voorgelees en gedeel wat hulle so besonders aan sy digkuns vind.
Willem het op 11 September gehoor dat hy vir die tweede maal die kykNET-Rapportprys vir fiksie wen – die keer vir Skepsel. Hy het in 2015 dieselfde prys met sy roman Buys gewen. Die kykNET- Rapportprys is nie die eerste toekenning wat Skepsel ontvang nie. Willem het op 31 Maart met die 2021-UJ-prys vir Skepsel weggestap. (Buys is natuurlik óók met die UJ-prys bekroon en Willem het die 2008-UJ-debuutprys vir Siegfried ingepalm.)
Skepsel is ook vir ʼn ATKV-Woordveertjie – die ATKV-prosaprys – benoem. Die ATKV kondig Vrydag 17 September die wenner aan.
Alfred word later vanjaar by die Breytenbach Sentrum se Tuin van Digters (22 en 23 Oktober) gehuldig.
Die Departement Afrikaans en Nederlands is trots op hierdie twee skrywer-dosente se prestasies en is verheug dat hulle werk sulke erkenning geniet. Dit is natuurlik ook vir voor- en nagraadse studente by die Departement ʼn voorreg om by sulke knap skrywers te kan leer en gee hulle beslis ʼn voorsprong wanneer dit by Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en kreatiewe skryfwerk kom.