
#USVroue: Navorsing gebruik om vir geslagsgelykheid te veg
Die ongelykhede waarmee ma's in die arbeidsmark én in die huishouding te kampe het, is 'n werklikheid, maar word dikwels oor die hoof gesien. Om dít te probeer verander, is Olivia Ezeobi, PhD-kandidaat en dosent in die Departement Ekonomie, besig met 'n navorsingstudie waarmee sy tot 'n meer geslagsgelyke samelewing wil bydra.
As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, het sy ons meer van haar werk vertel.
Vertel ons meer oor jou navorsing?
My navorsingsbelangstelling is feministiese ekonomie (FE), met 'n bepaalde klem op ma's en die ongelykhede waarmee hulle in die arbeidsmark en in die huishouding te doen het (ongelyke werksverdeling, onbetaalde versorgingswerk, ensovoorts). In my PhD getiteld “Interseksionaliteit van ongelykhede vir werkende ma's in Suid-Afrika" bestudeer ek in die besonder hoe werkende ma's vir hulle moederskap boet (die salarisverskille vir ma's, benewens die salarisverskille tussen mans en vroue waarvoor alle vroue te staan kom) en hoe dit sielkundig met werkende ma's in die land gaan. En wat die interseksionaliteit van ongelykhede betref, verken ek die ongelykhede vir werkende ma's op grond van die oorvleueling van hulle ras, klas, gender en burgerskap/nasionaliteit.
Waarom of hoe het jy in hierdie bepaalde navorsingsgebied begin belang stel?
Ek het nog altyd in geslagsgelykheid belang gestel, maar toe ek in 2018 ma word, het ek hiperbewus geword van die “tydsarmoede" waarvoor baie werkende ma's te staan kom. Deur met ander ma's te praat, het ek ook meer bewus geword van die diskriminasie waarmee ons in die werkplek te kampe het, sowel as die stres van die “tweede skof" (die onbetaalde arbeid wat werkende ma's verrig wanneer hulle tuiskom van hulle betaalde werk).
Waarom dink jy is dít so 'n belangrike navorsingsgebied vir vroue in Suid-Afrika (en wêreldwyd)?
Ons praat dikwels oor die dekolonisering van die kurrikulum. FE kan hiermee help, want dit bevraagteken die Westerse patriargale grondslag van die hoofstroomekonomie. FE gaan oor 'n meer inklusiewe ekonomie wat betref wetenskaplike pluralisme sowel as navorsing oor onderwerpe wat in die hoofstroomekonomie afgeskeep word. Onbetaalde werk is byvoorbeeld 'n belangrike onderwerp in FE. Alle werk maak saak, en die onbetaalde versorging en huishoudelike werk wat meestal deur vroue gedoen word, word dikwels nie in die hoofstroomekonomie verreken nie.
Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?
Die pandemie het die bestaande ongelykhede in Suid-Afrika selfs sterker kom beklemtoon. Die wêreld, waaronder Suid-Afrika, is nou selfs méér ongelyk. Die pandemie het my laat besef dat ek 'n akademiese aktivis wil word: Ek wil deur my werk tot die stryd vir geslagsgelykheid bydra. Ek wil in die besonder graag 'n stem help gee aan gemarginaliseerde vroue wie se stemme nie dikwels gehoor word nie.
Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?
Weens finansieringstekorte moet 'n mens dikwels navorsing doen waaroor jy nie juis passievol is nie. As jy 'n keuse het, moet asseblief nie sommer net tevrede wees met navorsing wat jou nie opgewonde maak nie. Net omdat iets op almal se lippe is, beteken dit nie jy moet daaroor navorsing doen nie. Gesels ook gerus met senior, gevestigde akademici wie se belangstellings met joune ooreenstem – daar is soveel wat jy by hulle kan leer. Ek het prof Amanda Gouws in Januarie 2020 genader om te vra of ons vir koffie kan ontmoet om oor haar ervaring as 'n akademikus-ma te gesels. En in Junie vanjaar het ons die boek Covid diaries: Women's experience of the pandemic uitgegee, wat ons gesamentlik saamgestel het. Om prof Gouws as 'n medewerker en mentor te hê het vir my deure geopen.
Ek begin my PhD op die betreklik hoë ouderdom (vir die akademie) van 45. Ek het dit nie vroeër gedoen nie, want ek het jare lank met major depressie gesukkel. Ander sluit dalk om finansiële redes eers later by die akademie aan. Party ma's het dalk hulle PhD-studie uitgestel omdat hulle jare lank na hulle jong kinders moes omsien. Ek wil vir enige “volwasse student" sê dit is nooit te laat om die werk te doen waaroor jy passievol is nie.