
Uitdagende gesprekke op Woordfees TV
Tydens die meer as twee dekades dat die Universiteit Stellenbosch (US) een van die borge van Woordfees is, het akademici aan die Universiteit die geleentheid gekry om met feesgangers oor hul onderskeie kennisvelde te praat.
Hoewel die Toyota US Woordfees vanjaar op televisie plaasvind en die formaat anders lyk, is 2021 geen uitsondering nie.
Diskoers-reekse is deel van die amptelike program by verskeie kunstefeeste regoor Suid-Afrika. By Woordfees het dit oor die jare al hoe gewilder geword, en vanjaar sluit dit onder meer Beste Professor en Science Café (Wetenskapkafee) in, asook drie uitdagende sessies oor die gebeure van die dag.
Tydens Mediclinic-gesprek: Etiese vraagstukke rondom COVID-19, lei prof Anton van Niekerk van die Departement Filosofie 'n gesprek met prof Mariana Kruger, hoof van pediatrie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en dr Chris Jones, hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap aan die US se Fakulteit Teologie. Verskeie aktuele temas soos die weerstand teen inentings, “inentingspaspoorte" en die vrae oor die morele beginsels wat ons behoort te lei in ons nadenke oor hierdie kwessies, word bespreek.
In Ongehoord – Covid Diaries kyk prof Amanda Gouws, bekleër van die SARChI-leerstoel in Genderpolitiek in die US se Departement Politieke Wetenskap, na opstelle deur vroue wat in 'n nuwe boek verskyn het. Prof Gouws en Olivia Ezeobi van die Departement Ekonomie was die redakteurs.
Die opstelle in Covid Diaries vang eksistensiële gevoelens van angs en onsekerheid vas. Die skrywes spreek ook uitputting aan, ontdek nuwe lewensdimensies en heroorweeg prioriteite in die lig van die tye waarin ons leef. Die goue draad wat deur die opstelle loop, is vrae oor wat dit beteken om 'n vrou, 'n ma, 'n vriend, 'n reisgenoot en 'n COVID-19-slagoffer te wees in die jaar van die pandemie.
En op 'n ligter noot, gebruik filosowe, woordsmouse en wysgere in Filosofiekafee woorde om mekaar om die bos te lei, kluitjies te bak en spek te skiet. Wie gaan vir wie ore aansit?
Die Toyota US Woordfees is tot 7 Oktober op DStv kanaal 150 te sien. Vir nog inligting, klik hier.
Mediclinic-gesprek: Etiese vraagstukke rondom COVID-19
- 4 Oktober – 16:05
Filosofiekafee
- 4 Oktober – 19:00
Ongehoord: Covid Diaries
- 4 Oktober – 09:33
- 6 Oktober – 06:29
- 7 Oktober – 01:06