Skip to main content
Plantweefselkultuurwerkswinkels stel hoërskoolleerders aan Instituut vir Plantbiotegnologie bekend

Plantweefselkultuurwerkswinkels stel hoërskoolleerders aan Instituut vir Plantbiotegnologie bekend

Mhlengi Khambule
23 Oktober 2023

Gedurende Julie en Augustus het die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) vir 60 hoërskoolleerders van onderskeidelik Hoërskool Kayamandi en Hoërskool Soneike werkswinkels oor plantweefselkultuur aangebied. Hierdie demonstrasies maak deel uit van die Landbouvolhoubaarheidsonderwyslaboratorium se AgSus Buddies-program, wat daarop gemik is om 'n hoë-gehalte werwingspyplyn na naskoolse landbou-onderrig en -opleiding te ontwikkel. Daarbenewens het die werkswinkel ook die leerders blootstelling aan die Universiteit Stellenbosch se naskoolse landbouprogramme gegee, met onderwysers én leerders wat program- en toelatingsriglyne van die Fakulteit AgriWetenskappe ontvang het.

Die twee groepe leerders is deur Mhlengi Khambule, die programbestuurder van AgSus Buddies, en dr Paul Hills en sy navorsingsgroep oor stowwe wat plantgroei bevorder, ontvang. Khambule is tans hier met sy doktorsgraad besig. Nagraadse studente van die navorsingsgroep en die breër IPB het gehelp met die fasilitering van verskeie aspekte van die demonstrasies. Die demonstrasies is in twee dele verdeel: 'n inleidende sessie wat 'n praatjie oor water, besproeiing en gewasverbetering ingesluit het, asook 'n weefselkultuurdemonstrasie waar baie van die leerders praktiese ervaring in steriele kultuurtegnieke kon opdoen.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe vinnig die leerders kon leer hoe om die apparaat te gebruik en hulle kon ook instruksies doeltreffend volg. Die vaardighede wat hulle by hierdie werkswinkel aangeleer het, het hul belangstelling aangewakker om 'n loopbaan in die wetenskap te volg," het Akhtari Abbas, landbouwetenskappe-opvoeder by Hoërskool Soneike, opgemerk.

“Ons hoop om in die toekoms meer praktiese demonstrasies te hê sodat ons leerders met die nodige vaardighede kan toerus wat nodig is vir universiteit. Ek glo vas dat meer praktiese vaardighede leerders sal help om in die toekoms by tersiêre onderrig aan te pas," het Jody Adams, assistent-onderwyser by Hoërskool Soneike, bygevoeg.

Aangesien steriele tegniek so 'n belangrike deel van plantweefselkultuur uitmaak, kon leerders ook 'n mikrobiese waarnemingsprojek saam met hulle terugneem skool toe wat demonstreer hoe mikroörganismes in alles rondom ons woon, insluitende die lug, sodat hulle presies kan verstaan waarom sulke streng voorsorgmaatreëls getref word om alles steriel te hou wanneer plantweefselkulture uitgevoer word.  Daarbenewens het hulle stelle plantweefselkulture ontvang wat in wortel-, loot- en kalluskulture sal groei, afhangende van die planthormone wat die kulture bevat, wat hulle help om te verstaan hoe plantgroei in 'n weefselkultuuromgewing gemanipuleer kan word. Ter aanvulling het die leerders ook werkkaarte ontvang waarop hulle hul waarnemings kan opteken, asook ander pretaktiwiteite om dít wat hulle geleer het, vas te lê.

“Baie dankie aan die IPB en die laboratoriums wat saamgewerk het om hierdie demonstrasies moontlik te maak het en gehelp het om die ontluikende landbouwetenskaplikes se belangstelling aan te wakker," het Khambule gesê. “Die ondersteuning van die Fakulteit AgriWetenskappe se Sosiale Impak-toekenning om hierdie intervensies op skoolvlak te bekend te stel, was puik. Weer eens dankie aan die IPB en die Agronomie-departement wat ook sedert die eerste demonstrasie in 2022 altesame 60 studente geakkommodeer het deur hulle navorsingsruimtes oop te stel en wonderlike ervarings met die AgSus Buddies-leerders te deel."

Meer oor die Landbouvolhoubaarheidsonderwyslaboratorium

Die Landbouvolhoubaarheidsonderwyslaboratorium (ofte wel die AgSus EduLab) is 'n AET-ekosisteem-instaatsteller wat geposisioneer is vir bewustheid, vaardigheidsontwikkeling (dit wil sê kommunikasie, samewerking en kritiese denke) en agentskap vir volhoubare stelseloorgange in die landbousektor. Dit is 'n multidissiplinêre en kruisnasionale omgewing vir samewerkende ondersoek, en wegspringplek vir 'n volhoubare en veerkragtige landbousektor. Die AgSus EduLab se strategiese ingryping oorweeg hoëronderwysinstellings, veral navorsingsintensiewe universiteite (NIU's), as primêre hefboompunte vir die versnelde transformasie, oorgang – en by verstek die volhoubaarheid en veerkragtigheid – van die landbousektor.