Jongste nuus oor die hernoeming van die RW Wilcocks-gebou
In 2020 het ons die amptelike proses om die RW Wilcocks-gebou te hernoem, van stapel gestuur. Ons wil graag die Universiteit Stellenbosch-gemeenskap oor die laaste paar maande se ontwikkelings rakende die proses inlig.
Die Rektoraat van die Universiteit Stellenbosch (US) het by sy vergadering op 29 Oktober 2019 goedkeuring verleen dat die Registrateur en die Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie ’n institusionele en inklusiewe proses om die RW Wilcocks-gebou te hernoem, moes onderneem. Dit het tot die tydelike aanstelling van ’n navorser/verslagskrywer gelei wat die taak opgelê is om onderhoude met verskeie belanghebbendes te voer en om ’n verslag saam te stel oor die bevindings. Die doel hiervan was om sommige van die sienings wat die afgelope paar jaar gelug is en waarvoor daar talle anekdotes bestaan, maar wat meestal nie formeel vasgelê is nie, te sintetiseer; en om rigting aan ’n breë en inklusiewe proses vir die hernoeming van die RW Wilcocks-gebou te gee.
Die Rektoraat het by sy vergadering op 2 Junie 2020 kennis geneem van die verslag, “Synthesis of some perspectives on the change of name of the RW Wilcocks Building”, en het die proses vir die hernoeming van die RW Wilcocks-gebou goedgekeur. Dit het ’n oproep om voorstelle, die “Riglyne vir nominasies en stemming” en die nominasievorm ingesluit. Die Rektoraat het ook die verwydering van die RW Wilcocks-naam goedgekeur wat die begin van die hernoemingsproses aangedui het. Die naam is in Augustus 2020 van die gebou verwyder.
Die oproep om voorstelle is aan alle personeel en studente, asook lede van die gemeenskap (soos verteenwoordig in die strukture wat lede van die Universiteit Stellenbosch se Institusionele Forum is) gerig en was van 27 Julie tot 26 Augustus 2020 oop. Altesame 17 nominasies is ontvang.
Die staande Komitee vir die Naamgewing en Vernoeming van Geboue, Lokale en Ander Fasiliteite/Persele (Naamgewingskomitee), wat vir die doel van die hernoeming van die RW Wilcocks- gebou uitgebrei is, het op 27 Oktober 2020 die proses goedgekeur wat gevolg sou word om op ’n kortlys te besluit vir voorlegging aan die Rektoraat.
Die komitee het uit die volgende verteenwoordigers bestaan:
Registrateur (voorsitter)
Hoofdirekteur: Finansies
Senior Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge
Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie
Direkteur: Ontwikkelingsbeplanning en Ontwerp, Fasiliteite
Verteenwoordiger van Regsdienste
Verteenwoordiger van die Geskiedenisdepartement (wat in die gebou gesetel is)
Verteenwoordiger van die Globale Onderwyssentrum (wat in die gebou gesetel is)
Verteenwoordiger van die Sielkundedepartement (wat in die gebou gesetel is)
Twee studenteleiers – een van die 2019-SR en een van die 2020-SR
Gemeenskapsverteenwoordiger wat in die Institusionele Forum dien
Die Naamgewingskomitee het op 30 Oktober 2020 vergader om die nominasies te bespreek en oor die kortlys te stem. Alle motiverings is vóór die vergadering aan die komiteelede beskikbaar gestel. Elke nominasie is bespreek en oor gestem en ’n kortlys wat verder verfyn is, is saamgestel. Die hernoemingsproses kon egter nie voortgesit word tot ná die middel van die eerste kwartaal van 2021 weens die uitwerking van die COVID-19-pandemie nie, wat die tydsraamwerk beïnvloed het.
Die kortlys van voorstelle vir ’n nuwe naam vir die RW Wilcocks-gebou, soos deur die Naamgewingskomitee saamgestel, is op 1 Junie 2021 aan die Rektoraat voorgelê. Die Rektoraat se aanbeveling sal by die volgende vergadering van die Uitvoerende Komitee van die Raad (UK(R)) op 6 Augustus 2021 voorgelê word. Ingevolge die US se huidige beleid oor die naamgewing en vernoeming van geboue, lokale en ander fasiliteite en persele, neem die UK(R) die finale besluit oor die hernoeming van geboue.
Die nuwe naam sal aangekondig word nadat die UK(R) sy besluit geneem het.
Dit is ook vir ons aangenaam om die Universiteitsgemeenskap mee te deel dat die Visuele Regstelling- konsepbeleid wat, wanneer dit goedgekeur is, ook die naamgewings- en hernoemingsprosesse sal aktiveer en reguleer, by die Raad se volgende vergadering in September ter tafel gelê sal word nadat dit voor verskeie goedkeuringstrukture gedien het.
Personeel en studente is welkom om met die kantoor van die Registrateur ([email protected]) of dié van die Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie ([email protected]) in verbinding te tree oor die naamgewings- en vernoemingsproses van geboue, lokale en ander fasiliteite en persele.