Skip to main content
US/ICLD-vennootskap sal inwoners van Stellenbosch en omgewing baat

US/ICLD-vennootskap sal inwoners van Stellenbosch en omgewing baat

Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
23 Augustus 2021

​Getrou aan sy verbintenis tot doelgerigte vennootskappe op onderwys- en navorsingsgebied het die Universiteit Stellenbosch (US) 'n memorandum van verstandhouding (MvV) met die Sweedse Internasionale Sentrum vir Plaaslike Demokrasie (ICLD) onderteken. Die ooreenkoms sal oor die volgende twee jaar tot samewerking ter bevordering van plaaslike demokrasie lei.

Die MvV is in afsonderlike virtuele plegtighede op 15 Julie deur die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en die sekretaris-generaal van die ICLD, Johan Lilja, onderteken. Dit sal betrokke akademieskap tussen verskeie navorsingsinstitute, universiteite en munisipaliteite in Suid-Afrika, Swede en sekere Afrikalande moontlik maak. Vennote is met die ICLD se munisipale program gekoppel. Sweedse munisipaliteite en hulle eweknieë in die deelnemende lande word in pare ingedeel. In samewerking met akademiese vennote onderneem hulle dan projekte oor verskillende menseregtesake wat wissel van toeganklikheid en geslagsgelykheid tot die insluiting van die jeug, en kinderregte.

In Suid -Afrika werk die ICLD en sekere Sweedse munisipaliteite reeds saam met die munisipaliteite van Stellenbosch, Bergrivier, JB Marks en Overstrand.

Ooreenkomstig die MvV tussen die US en die ICLD sal albei ondertekenaars beurse en stipendiums vir magister- en PhD-studente voorsien, geleenthede bied vir data-insameling oor plaaslike demokrasieë, gesamentlike seminare en werksessies aanbied, navorsers as eksterne kundiges by programme betrek, en uitruilbesoeke vir navorsingsdoeleindes onderneem.

In sy kommentaar op die ooreenkoms beklemtoon Lilja die belang van noue samewerking. “Deur saam te werk, kan ons 'n konkrete impak op volhoubare ontwikkeling en plaaslike demokrasie hê. Hierdie MvV met die Universiteit Stellenbosch is die begin van 'n produktiewe en vrugbare langtermynvennootskap wat daarop gerig is om burgers op plaaslike vlak te baat," sê hy.

Prof De Villiers is ewe ingenome met die MvV, en opgewonde oor die moontlike voordele wat dit inhou: “Die samewerking is deel van die ICLD-projek in Afrika, waarby verskeie plaaslike owerhede betrokke is, waaronder Stellenbosch Munisipaliteit, wat saam met die Sweedse stad Jönköping ingedeel is. Die gedagte is ook om ons huidige band met die Universiteit van Jönköping op die gebied van ingenieurswese uit te brei en sodoende ons bestaande universiteitsdorp-inisiatief te ondersteun. Daarbenewens het hierdie ooreenkoms die potensiaal om ons produktiewe samewerking met ons eie munisipaliteit te versterk," sê De Villiers.

Die aanvoorwerk vir die ooreenkoms het in Februarie begin, toe die ICLD die US se Afdeling Sosiale Impak genader het met die voorstel van 'n langtermyn- strategiese vennootskap as deel van 'n program wat plaaslike regerings en die akademie met mekaar verbind. Die einddoel is om menseregte in plaaslike verband te versterk met die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte as rigsnoer.

Volgens Lilja vervul die akademie 'n kernrol om kundigheid te voorsien en navorsing te onderneem oor plaaslike prosesse van verandering. Benewens die US, het die ICLD verskeie ander universiteite en navorsingsinstellings genader om by die program aan te sluit. Die akademiese vennote in Suid -Afrika is die Universiteit van Johannesburg en die Dullah Omar-instituut vir Staatsreg, Staatsbestuur en Menseregte en die Skool van Regering (laasgenoemde twee instellings is van die Universiteit van Wes-Kaapland). Ander navorsingsinstellings in Botswana, Zambië, Uganda, Kenia, Tanzanië en Indonesië is ook betrokke by die program.