Die tweesnydende swaard van feminiteit in die samelewing
“Mans tree op, vroue verskyn." (John Berger 1972, 47)[1]
Om met my feminiteit te worstel is iets wat ek nooit gedink het in my grootwordjare 'n kwessie sou wees nie. Ek het altyd van die kleur pienk gehou, nooit nie daarvan gehou om rokke te dra nie, en ek het graag saam met my ander meisiemaats “huis‑huis" gespeel. Ek het nie gedink of geweet dat hierdie dinge my vir 'n lewe van patriargale verwagtings ontvanklik sou maak nie.
Namate ek ouer geword het, het ek weggeskram van aktiwiteite wat ek gedink het slegs vir seuns bedoel is, nie net omdat ek nie daaraan wou deelneem nie, maar ook omdat dit my minder gewild sou maak, het ek gereken. Niemand vertel jou ooit hierdie dinge direk nie, maar op die een of ander manier het ek reeds op laerskool die idee in my kop gekry dat ek nie vanweë my genderidentiteit ongewild wou wees nie. Ek dink baie vroue is bang om ongewild te wees, omdat soveel van ons selfwaarde aan die opvatting van gewildheid/ongewildheid in die samelewing geheg word. Om graag gewild te wees en begeer te word, is nie in wese 'n negatiewe idee nie. Dikwels is dit egter wat ons doen om dit te bereik, wat ons in gevaar stel.
Op hoërskool is een van my meisieklasmaats na vore geroep om 'n wiskundige vergelyking op die witbord te voltooi. Sy het die vergelyking foutief gedoen en die onderwyser het “grappenderwys" gesê:
“Ek hoop regtig jy het geleer om te kook, want jy vorder nie juis met hierdie vlak wiskunde nie, maar dalk kan jy nog leer om vir jou man kos te maak."
Net daar het ek besluit ek wil nooit leer kook nie, want ek wou nie as huweliksmateriaal beskou word nie. Ek wou myself kon onderhou sonder die behoefte aan 'n manlike wederhelf. Ek het regtig gedink dat ek 'n denkbeeldige kompetisie gewen het, maar al wat ek gedoen het, was om te weier om 'n noodsaaklike lewensvaardigheid aan te leer. En die besluit om nie te leer kook nie, was eintlik net die begin. Ek sou hierdie narratiewe in my kop rondskommel en as't ware op eiers loop om nie die denkbeeldige feminiteitskaal in enige rigting te laat oorhel nie. Ek wou as vroulik beskou word, al wou ek in my kop niks met feminiteit te doen hê nie. Dit alles omdat die samelewing jong vroue wysmaak dat feminiteit minderwaardig teenoor maskuliniteit is.
Ek sluit hierdie stuk af deur weer na John Berger se aanhaling te verwys. Die patriargie reken vroue moet volgens die samelewing se idee van feminiteit in die daaglikse lewe verskyn en optree. Ek persoonlik reken dit het ons meer vatbaar vir die patriargie se kommentaar gemaak, omdat ons geleer is om baie diep op die samelewing se persepsies van ons ag te slaan. My advies aan vroue en enigeen wat in die algemeen as 'n vrou identifiseer, is die volgende: hou op om jou feminiteit ter wille van die samelewing in balans te probeer bring; indien jy voorkeure het wat nie in pas is met tradisionele feminiteit nie, is dit normaal en heeltemal in orde, en indien jou voorkeure wel in pas met tradisionele feminiteit is, is dit ewe normaal en heeltemal in orde so. Dit is tyd dat vroue optree en nie net as beeldmateriaal vir mans gebruik word nie. So, gaan uit en DOEN IETS.
[1] Berger, J. (1972). Ways of seeing. BBC en Penguin.