
Viserektor (Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies) vereer US-navorsers
Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs erkenning verleen aan 45 van die US se top navorsers wat die grootste bydraes tot geakkrediteerde publikasies en/of die meeste doktorale graduandi by die Desember 2015/ Maart 2016 gradeplegtighede gelewer het. Hulle is vereer by `n funksie wat by US Botaniese Tuine gehou is.
Hierdie navorsers het presteer in een of meer van die volgende drie kategorieë: die grootste bydrae gelewer het ten opsigte van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se navorsingspublikasie subsidie-eenhede; die grootste aantal geakkrediteerde navorsingspublikasies gelewer in samewerking met nasionale en internasionale navorsingsvennote en studente – in albei kategorieë is die 2014 uitsetjaar-inligting gebruik; en drie of meer PhD-graduandi afgelewer het in 2015 (Desember 2015/Maart 2016 gradeplegtighede).
Prof Eugene Cloete het gesê publikasies en doktorale graduandi is van die belangrikste produkte wat deur US navorsers gelewer word.
"Hierdie aktiwiteite lewer `n kritiese bydrae tot die uitbou van die US se reputasie as `n uitnemende navorsingsuniversiteit. Nog meer belangrik is die feit dat nuwe kennis wat aan die US gegenereer word, op hierdie wyse oorgedra word na `n wêreldwye gehoor om sodoende die toepassing van navorsingsresultate en die vestiging van hoëvlak menslike kapasiteit moontlik te maak."
Prof Cloete het verder die navorsers bedank vir hul besondere bydrae tot die US se navorsingspoging en genoem dat navorsers wat hierdie tipe uitsette van hoogstaande kwaliteit lewer, met reg as een van die belangrikste bates aan enige universiteit beskou kan word.
- Foto: Prof Eugene Cloete saam met van die navorsers by die funksie by die Botaniese Tuine.
- Fotograaf: TC Kieck