
Studente vang 2 grade in dubbele graadprogram
'n Dubbele meestersingenieursprogram wat gesamentlik deur die Universiteit Stellenbosch (US) en die Reutlingen-universiteit (RU) in Duitsland aangebied word, dra by tot vaardigheidsontwikkeling op die gebied van ingenieursbestuur en digitale bedryfsingenieursbestuur.
Die derde kohort studente wat deel was van hierdie program, het vandeesweek hul dubbele kwalifikasies by die US se Maart 2021-gradeplegtighede ontvang.
Die graduerende klas sluit die US-studente Marion Kretzschmar en Johan Van Schalkwyk in, asook Magdalena Bertele, Marc Ungen en Marius Wippel van die RU. Die studente het 'n meestersgraad in Ingenieursbestuur van die US ontvang, en 'n MSc in Digitale Bedryfsbestuur en Ingenieurswese van die RU.
Dit bring die totale aantal graduati wat die program sedert sy aanvang in 2019 opgelewer het, op 16 te staan.
Mnr Konrad von Leipzig, 'n senior dosent in die departement Bedryfsingenieurswese by die US en bestuurder van die Stellenbosse onderafdeling van die program, sê die twee universiteite se samewerking strek sover terug as 2012 begin, en die uitbreiding na die dubbele meestersprogram het in 2019 hieruit gevolg. Die program is 'n inisiatief van Von Leipzig en sy kollega, prof Vera Hummel van die RU. Sy is sedert 2010 'n uitgelese professor in die departement Bedryfsingenieurswese aan die US, en een van die akademici wat by die program betrokke is. Prof Daniel Palm bestuur die program by die RU en dra by tot die noue samewerking tussen die twee universiteite.
In die eerste jaar van die program het slegs twee US-studente en twee studente van die RU vir die program ingeskryf. Vanjaar het die program uitgebrei en het 17 studente vir die dubbele meestersgraad ingeskryf. Die program vereis dat studente drie semesters by hul tuisuniversiteit en een semester as 'n uitruilstudent by die gasheeruniversiteit deurbring.
Ungen van die RU het die internasionale vennootskap tussen die US en sy tuisinstelling geloof en moedig ander studente aan om vir die kursus in te skryf.
“Toe ons Suid-Afrika die eerste keer besoek het, het die hartlike verwelkoming wat ons ontvang het, ons dadelik laat tuis voel. Dit was 'n ongelooflike ervaring om aan hierdie program deel te neem," sê Ungen.
Vir hom was sy tyd by die US, veral om deel te wees van die studentelewe, baie waardevol. “Die studentelewe op Stellenbosch is eenvoudig ongelooflik. Dit was beslis 'n unieke ervaring om een van die talle wynplase na werk te besoek, om die aand by een hierdie fantastiese straatsoirées deur te bring of om sommer net om saam met vriende iewers op Stellenbosch bymekaar te kom," sê hy. “Ek sal altyd onthou hoe mooi Suid-Afrika is. Die natuurlewe, die natuurskoon, oseane en mense het só 'n indruk op my gemaak dat ek regtig voel ek moet terugkom hierheen."
Bertele, nog 'n RU-student, sê hulle het gehoop om na Suid-Afrika te kan reis vir die gradeplegtigheid. Weens die wêreldwye uitwerking van COVID-19 moes hulle egter tevrede wees met 'n virtuele gradeplegtigheid.
US-student Kretzschmar sê sy is dankbaar vir die geleentheid om aan só 'n unieke program deel te neem en om die geleentheid te kry om in Duitsland te studeer. Sy sê dit het haar professionele netwerk uitgebrei en het tot haar persoonlike ontwikkeling bygedra.