Skip to main content
Konkrete aksies nodig om kinderregte te bevorder

Konkrete aksies nodig om kinderregte te bevorder

Mark Tomlinson
06 November 2020

Wêreldkinderdag word elke jaar in November gehou en Suid-Afrikaners vier Nasionale Kinderdag op die eerste Saterdag van die maand. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (3 November) skryf prof Mark Tomlinson van die Instituut vir Lewensloop-gesondheidsnavorsing dat tasbare optrede nodig is om kinderregte ʼn werklikheid te maak.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Mark Tomlinson*

Wêreldkinderdag word elke jaar in November gehou (lande verskil oor die spesifieke datum). Die dag is daarop gemik om kinders se welstand te bevorder en die onstaan daarvan kan na die 19de eeu teruggespeur word. In die huidige vorm fokus die dag daarop om Kinderregte te bewerkstellig en te verseker. Op 20 November 1959 het die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering amptelik die Verklaring van die Regte van die Kind aanvaar. Dié dag is ook die dag waarop die Algemene Vergadering in 1989 die Konvensie oor die Regte van die Kind (KRK) aanvaar het.

In Suid-Afrika vier ons elke jaar Nasionale Kinderdag op die eerste Saterdag in November om die vordering wat in die bevordering en verwerkliking van die regte van kinders gemaak is, te beklemtoon. Die KRK kodifiseer beide die betrokkenheid van kinders in besluite wat hulle raak, en stel ook standaarde vir gesondheid, onderwys en maatskaplike dienste.

Met die eerste oogopslag wil dit voorkom of 'n Konvensie oor die Regte van Kinders eenvoudig en maklik is om te ondersteun – wie is per slot van rekening nie lief vir kinders en ondersteun hulle nie? Maar soos dit met die meeste dinge die geval is, is dit bietjie meer ingewikkeld as dit. Die Verenigde State (VSA) se weiering om die KRK te bekragtig, is 'n perfekte voorbeeld van die ingewikkeldheid daarvan. Vir 'n lang tyd was die enigste drie lande wat nie die KRK wou bekragtig nie, Somalië, Suid-Soedan en die VSA. Maar selfs hier is dit meer ingewikkeld as wat dit op die oog af lyk.

Die VSA het inderdaad die Konvensie ('n bevestiging van die beginsels daarvan) onderteken, maar het geweier om dit te bekragtig (om hulleself dus regtens tot die voorwaardes daarvan te verbind). Dit is nie die enigste ooreenkoms wat die VSA nie bekragtig het nie – ander sluit die Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede en die Konvensie oor Biologiese Diversiteit in. Hul weiering om dit te bekragtig, is grootsliks gegrond op 'n vrees onder konserwatiewe Republikeine dat dit sal beteken dat hulle die Amerikaanse soewereiniteit prysgee en dus die VSA oopstel vir hofsake om vir die voorwaardes daarvan te betaal.

Wat van Wêreldkinderdag in 2020? ʼn Pandemiese jaar met 'n miljoen sterftes, agt miljoen infeksies en 'n wêreldekonomie wat op sy knieë gedwing is. Soos ons nou weet, word kinders die ergste skade van die direkte uitwerking van COVID-19 gespaar. Ongelukkig ervaar hulle van die ergste indirekte uitwerkings van COVID-19 en ten opsigte van die naskokke van die pandemie op die langer duur, sal hulle waarskynlik die swaarste las van almal moet dra. Daar word geskat dat daar op die heel ergste 'n bykomende een miljoen kindersterftes en meer as 50 000 moedersterftes kan voorkoms weens die vermindering in die dekking van moeder-en-kind gesondheidsingrypings.

Namate ekonomieë voortsukkel, sal dit die armes (in ryk lande) en arm lande wees wat die uitwerking die ergste gaan voel. Een gebied wat die gouste geraak word (en die uitwerkings word alreeds gevoel) is voedsel. Miljoene kinders en gesinne wêreldwyd het onvoldoende voedsel. Een van die bedriegliker uitwerkings van chroniese ondervoeding is die belemmering van kinders se groei. Dit word as die oorsaak van verskeie probleme regdeur die lewensloop beskou – waarvan een van die ergstes kinders se vermoë om by skoolopleiding te baat is.

Na raming (en dit was voor die pandemie) loop 250 miljoen kinders (43%) jonger as vyf jaar wêreldwyd die risiko om nie hul ontwikkelingspotensiaal te verwesenlik nie weens die uitwerking van groeibelemmering en armoede. Die meeste kinders in Suid-Afrika het die helfte van hul skooljaar of langer verloor. Dit gaan moontlik vernietigende gevolge op 'n aantal kognitiewe en sosiale sfere hê.

Vir kinders in graad R en graad 1–2 wat besig is om basiese syfer- en geletterdheidsvaardighede aan te leer, kan die onderbrekings in die vaslegging van die grondslag van hierdie vaardighede verreikend wees. En dit is bykomend tot die reeds skokkende syfer van 78% van graad 4-leerders wat in 2016 nie met begrip kon lees nie. Hoewel syfervaardighede en geletterdheid belangrik is, gaan onderrig ook daaroor om te leer hoe die wêreld werk, oor portuurgroepbetrokkenheid, oor vriendskappe en selfbeheer en wederkerigheid in verhoudings. Skoolsluitings, die inperkingstydperk en afwesigheid van onderwysers weens COVID-19-siekte gaan waarskynlik in die jare wat voorlê, aansienlike uitdagings inhou.

Maar wat het hierdie ietwat donker prentjie met kinderregte te doen? Ek wil aan die hand doen dat ons lippediens bewys aan die idee van kinderregte en dat ons voortdurend daarin faal om op tasbare wyse te verseker dat dit bereik word. Ons skryf liedjies oor “hoe kinders ons toekoms is", ons skep meme van “oulike kindertjies", maar gegewe hoe ons kinders op so baie plekke behandel, sal dit nie vergesog wees om te sê dat daar vir baie 'n soort teenstrydigheid oor kinders is nie.

In die meeste wêreldlande (en Suid-Afrika is een van die ergstes), sal meer as 70% van kinders gewelddadig deur versorgers gestraf word. Kinders word tuis en by die skool geslaan en aanskou hoë vlakke van interpersoonlike geweld in hul gemeenskappe en in hul huise. Maar in plaas van wydverspreide veroordeling van lyfstraf, hoor ons gereeld uitings soos “my pa het my geslaan" en “ek het heel goed opgeëindig".

Hoe verseker ons dat Kinderdag en Kinderregte nie net 'n wonderlike stel beginsels bly waaroor ons een keer 'n jaar vurig praat, terwyl ons voortgaan om geweld op 'n groot aantal van die wêreld se kinders af te dwing nie? Ek sou voorstel dat een manier om te verseker dat kinderregte 'n kans het om 'n werklikheid te word, is om die heeltyd kinders en adolessente die middelpunt van alle beplanning regoor alle ministeries te maak.

Dit mag aanvanklik absurd voorkom. Wat het wetgewing wat mynregte beheer met kinders te doen? Wat het die beplanning van nuwe paaie met kinders te doen? Maar wanneer 'n regering kinders op die voorgrond plaas van hoe hulle hul begrotings struktureer en die middelpunt maak van hoe hulle hul programme beplan, het dit 'n betekenisvolle en diepgaande verskuiwing in omtrent alles tot gevolg. Wanneer nuwe paaie met kinders in gedagte beplan word, word hierdie paaie skakels tussen mense, vir kinders na hul skole, vir gesinne en gemeenskappe na werkplekke en gesondheidsfasiliteite. Die paaie word nog steeds gebou en is steeds tot beskikking van die handel en nywerheid.

En wanneer die skade aan kinders weens alkoholmisbruik in die gesin en kitskos die kern van ons besluite oor wetgewing word om skadelike advertensies te beperk, word die verbanning van alkohol-advertensies 'n gegewe en is beperkings op die advertering van gaskoeldrank en kitskos 'n natuurlike volgende stap. Besluite oor mynregte en hidrobreking sal geneem word op grond van hul moontlike uitwerking op kinders, gesinne en gemeenskappe en nie bloot op grond van die winsmotief van multinasionale konglomerate en steunwerwers nie.

In Februarie 2020 – vroeg in die pandemie – het ons 'A Future for the World's Children? – a World Health Organization–UNICEF–Lancet Commission bekendgestel. Hierin is grondige redes vir 'n wêreldwye beweging vir verandering aangevoer; een wat kinders en adolessente die middelpunt maak van alles wat ons doen, en kinders is uitgenooi om betekenisvolle belanghebbers in besluitneming oor hul lewens te word. COVID-19 het dit nog dringender gemaak. Wat goed is vir kinders, is goed vir die samelewing.

Indien ons dit nie dringend doen nie, gaan ons 'n las regoor die komende geslagte dra en die idee van “kinderregte" sal 'n gemeenplaas bly wat een keer per jaar en by VN-gedenkdae afgestof word ter wille van die emosionele weerklank daarvan, maar dit sal steeds buite bereik bly.

*Prof Mark Tomlinson is mededirekteur van die Instituut vir Lewensloop-gesondheidsnavorsing by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.