Skip to main content
Graduatus wil mense en masjiene beter laat saamwerk

Graduatus wil mense en masjiene beter laat saamwerk

Corporate Communication and Marketing: Rozanne Engel/ Photograph by Stefan Els
31 Maart 2021

​Dale Sparrow, 'n doktorale graduatus van die Universiteit Stellenbosch (US) was nog altyd geïnteresseerd in hoe goed in die wêreld werk en om oplossings vir verskillende probleme te vind. Dit is dus geen wonder dat sy doktorale navorsing ook daarop gefokus het om mense en masjiene in moderne vervaardigingsomgewings beter te laat saamwerk nie.

“My PhD het gefokus op hoe menslike werkers by moderne vervaardigingsomgewings geïntegreer kan word. Baie navorsers erken dat die probleem bestaan, maar het nog nie probeer om dit ten volle aan te spreek nie, deels weens die ingewikkeldheid en verskille tussen mense en masjiene," sê Sparrow.

“Mense se intelligensie, handvaardigheid en probleemoplossing is ongeëwenaard, maar hulle is almal uniek en moeilik om te bestuur in vergelyking met masjiene. Die voordeel daarvan om mense beter by vervaardigingsomgewings te integreer is dat fabrieke by al die positiewe kenmerke van mense sal kan baat, terwyl hul tekortkominge met digitale tegnologieë aangevul word. Vir Suid-Afrika, wat hoofsaaklik 'n menslike werkerskorps het, beteken dit om mededingend in ons vervaardiging te bly en om moontlik unieke vaardighede soos massa-pasmaking in vergelyking met oorgeoutomatiseerde fabrieke in die res van die wêreld moontlik te maak."

Sparrow en 133 ander doktorale graduati het hul grade gedurende die US se Maart 2021-hibridiese gradeplegtighede ontvang. Hy het Woensdag (31 Maart 2021) 'n PhD in Megatroniese Ingenieurswese ontvang.

Volgens Sparrow het sy studieleier, dr Karel Kruger, hom geïnspireer om die uitdagings van hervormbare vervaardigingstelsels te ondersoek. Kruger het Sparrow se projekte ondersteun en vir hom leiding gegee wat hom reg deur die navorsingsproses geïnspireerd gehou het.

“Die personeel by die Fakulteit Ingenieurswese was altyd vir my 'n hoogtepunt, selfs gedurende my voorgraadse studies. Hulle is altyd bereid om te verduidelik en om weetgierige studente te help. Daar heers 'n gees dat almal saam besig is om aan iets groots te werk, terwyl hulle jou wil voorberei om hulle daarmee te help wanneer jy afstudeer."

Sparrow glo studente moet 'n punt daarvan maak om hul professors beter te leer ken en hulle altyd met mense omring wat hulle en dit wat hulle wil bereik, respekteer.

“Stellenbosch is 'n florerende naaf waar van die briljantste mense wat Suid-Afrika het om te bied, versamel is. Die hoeveelheid geleenthede en die gehalte van die personeel is uitstaande. Stellenbosch het ook 'n sterk verbintenis met die internasionale gemeenskap en word gerespekteer vir die gehalte van sy navorsing en studente."

Sparrow het onlangs 'n afwentelmaatskappy begin op grond van die navorsing wat hy by Stellenbosch gedoen het. Hy hoop om dit met die hulp van sy navorsingsgroep en die Universiteit tot 'n suksesvolle onderneming uit te bou in ooreenstemming met die visie wat hy vir die tegnologie het.