
FGGW lewer rekordgetal gesondheidswerkers
Meer as 350 graduandi aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het tydens die jaarlikse eedafleggingseremonie beloof om die mensdom met respek te dien, en met deernis etiese en doeltreffende gesondheidsorg te verskaf. Hierdie geleentheid gaan die gradeplegtigheid vooraf en is 'n trotse tradisie van die FGGW.
"Ons vertrou dat hierdie eed julle sal lei in julle professionele loopbane," het die dekaan van die FGGW, prof Jimmy Volmink, gesê. Hy het verwys na die eed, waarin graduandi hulself verbind daartoe om hoë etiese, morele en professionele standaarde tydens hul loopbaan as gesondheidswerkers te handhaaf.
Vanjaar het 222 mediese studente en 139 aanvullende gesondheidwetenskappe-studente aan die FGGW gegradueer.
"Ek wil graag die klas van 2016 gelukwens met hierdie prestasie. Wat dit nog meer spesiaal maak is dat dit die grootste groep MB,ChB [mediese] graduandi is in die geskiedenis van die fakulteit, wat die hoogste slaagsyfer (96%) ooit bereik het, en die meeste studente wat met lof slaag (13) tot nog toe opgelewer het," het Volmink gesê.
By die eedafleggingseremonie vir die aanvullende gesondheidwetenskappe-studente het prof Hester Klopper, Viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering aan die US, die studente geluk gewens met die suksesvolle voltooiing van hul studies en hulle geprys vir hul beroepskeuse wat sal lei tot diensbaarheid aan ander.
Sy het hulle aangemoedig om vier karaktereienskappe te kweek wat hulle tydens hul loopbane sal lei: waagmoed; gelykheid; dienende leierskap; en dankbaarheid.
"Ek nooi julle uit, graduandi, om die moed, dienende leierskap en dankbaarheid te hê om na 'n gelyke en geregtige Suid-Afrika te streef. Julle is ons hoop. Gaan uit en maak 'n verskil," het Klopper gesê.
Die geleentheidsrede by die seremonie vir die MB,ChB-geleentheid is gelewer deur die medestigter van TB Proof, dr Dalene von Delft. Sy is 'n alumnus van die FGGW wat veelvoudige middelweerstandige-TB ontwikkel het nadat sy pasiënte met die siekte behandel het. Na 'n uitdagende hersteltydperk het Von Delft 'n kampvegter geword vir die destigmatisering van TB en veilige werkspraktyke om gesondheidswerkers teen die siekte te beskerm.
Die toppresteerders in die onderskeie programme is ook tydens die eedafleggingseremonie aangewys. Die top- akademiese presteerders was as volg:
- Lara Puchert het 'n gemiddeld van 78,9% behaal vir Arbeidsterapie.
- Jolané van Niekerk het 'n gemiddeld van 79% behaal vir Spraak-Taal- en Gehoorterapie.
- Jade Tamarin Jackson het 'n gemiddeld van 75,62% behaal vir Dieetkunde.
- Danielle Foot het 'n gemiddeld van 77.35% behaal vir Fisioterapie.
- Suzanne Pretorius het 'n gemiddeld van 83,05% behaal vir die MB,ChB program.
'n Dekaansprys is toegeken aan Chane Lisa-Mae Kulenkampff vir die beste studente-navorsingskripsie, terwyl Zibusiso Mbhele, Suzanne Pretorius en Nabeela Kajee elk 'n Dekaansmedalje ontvang het vir onderskeidelik, leierskap, die beste finalejaarstudent en die beste voorgraadse student.