Skip to main content
Eerstejaars in eerste virtuele verwelkoming aangemoedig om diversiteit te omarm

Eerstejaars in eerste virtuele verwelkoming aangemoedig om diversiteit te omarm

FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
09 Maart 2021

Eerstejaar-studente van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) is die eerste keer in die geskiedenis virtueel by die Tygerberg-kampus verwelkom, waar hulle die volgende vier tot ses jaar sal studeer.

“Dit is ons voorreg om julle by ons Fakulteit te verwelkom. Onder gewone omstandighede sou ons julle van aangesig tot aangesig by ʼn geleentheid op die kampus verwelkom het, maar weens die Covid-19-pandemie is die omstandighede allesbehalwe normaal," het prof Jimmy Volmink, FGGW-dekaan, in ʼn verwelkomingsvideo aan die nuwe studente gesê. 

Nagenoeg 580 voornemende gesondheidspraktisyns het vanjaar by die FGGW ingeskryf – 340 van hulle vir die MBChB-program om mediese dokters te word; 55 vir die B-graad in Arbeidsterapie; 36 vir BSc-dieetkunde; 60 vir BSc-fisioterapie; 35 vir die B-graad in Spraak-Taal- en Gehoorterapie; en 50 vir die B-graad in Verpleeg- en Verloskunde.  

Die FGGW bied studente “veel meer" as die nodige vaardighede om ʼn bekwame gesondheidsorgverskaffer te word, het Volmink gesê.

“By die FGGW moedig ons studente aan om in hulle beste self te ontwikkel. Ons Fakulteitswaardes is inklusiwiteit, deernis, verantwoordbaarheid, respek, uitnemendheid en regverdigheid – en ons moedig personeel en studente aan om hierdie waardes te omarm. Ons reken dit sal nie net van hulle beter gesondheidspraktisyns en gesondheidsorgwerkers maak nie, maar ook beter mense," het Volmink gesê.

Hy het die nuwe studente meegedeel dat hulle aan ʼn diverse groep mense by die Fakulteit blootgestel sal word en het hulle aangemoedig om te leer van mense wat van hulle verskil, asook om hulle te probeer verstaan.

“Ons hoop ons studente sal agente van verandering in die gemeenskap word en, lank nadat hulle gegradueer het, steeds daarna sal strewe om ʼn betekenisvolle verskil in die lewe van mense en gemeenskappe te maak," het Volmink gesê.

In haar virtuele verwelkomingsrede het me Kristin Arends, voorsitter van die Tygerberg-studenteraad, eerstejaars ook aangemoedig om nuwe ervarings te omarm. “Om ʼn oop gemoed te hê is een van die beste goed wat jy vir jouself op universiteit kan doen. Stel jouself oop om nuwe mense te ontmoet en om met ander met verskillende waardes en oortuigings om te gaan. Op die Tygerberg-kampus is ons geseënd met diversiteit in alle lewensaspekte en almal doen hulle bes om hierdie diversiteit te vier," het Arends gesê.

Sy het nuwe studente aangeraai om geduldig met hulleself te wees wanneer hulle by die kampus aankom. “Daar is vir elkeen ʼn plek onder die son en julle sal julle plek sommer gou vind. Sy het hulle ook aangemoedig om hard te werk en hulleself uit te daag, maar ook om na hulle geestesgesondheid om te sien en om tyd daarvoor te neem wanneer hulle dit nodig het.

Dr Therese Fish, die FGGW se Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak, het studente bekend gestel aan die “aanvangsverbintenis" wat in 2018 ingestel is en waartoe FGGW-eerstejaarstudente hulle met die aanvang van hulle studies verbind. Dit is ʼn verklaring van die student se verbintenis daartoe om ʼn gesondheidsorgstudent te wees. Dié aanvangsverbintenis is in al die amptelike tale voorgelees.

Kyk die verwelkomingsvideo vir 2021 se eerstejaars hier: