Skip to main content
US smee bande met Universiteit van Illinois in Urbana-Champaign, VSA

US smee bande met Universiteit van Illinois in Urbana-Champaign, VSA

Amanda Tongha
27 Februarie 2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) het bande gesmee met een van die top navorsingsuniversiteite in die VSA vir moontlike navorsingsamewerking. Prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het dr Robert J. Jones, kanselier van die Universiteit van Illinois in Urbana-Champaign (UIUC), by die universiteit op Donderdag 22 Februarie verwelkom.

Dr Jones, 'n erkende universiteitsadministrateur en wetenskaplike met 'n agtergrond in agronomie, het die US genader vir samewerkingsgeleenthede in landbou en ingenieurswese. Die voormalige president van die Universiteit van Albany, SUNY en senior vise-president van die Universiteit van Minnesota, het ook belangstelling getoon in 'n studente-mobiliteitsprogram tussen die twee universiteite. Hy het 'n uitnodiging aan prof de Villiers gerig om besoek af te lê by UIUC, 'n instelling wat daarmee spog dat hulle die eerste grafiese webblaaier bedink het. Die universiteit wat as een van die 15 beste openbare universiteite in die VSA beskou word, spog ook met 24 Nobelpryswenners op die gebied van medisyne, fisika en chemie. Die universiteit word geklassifiseer as 'n R1 doktorale navorsingsuniversiteit onder die Carnegie-klassifikasie van hoër onderwys instellings, wat dui op 'n hoë vlak van navorsingsaktiwiteite.

Dr Jones, wat op 'n weeklange besoek aan Suid-Afrika en Malawi is, het 'n lang geskiedenis met Suid-Africa. Van 1984 tot 1994 was hy 'n akademiese en wetenskaplike konsultant vir aartsbiskop Desmond Tutu se Onderwysprogram. Prof Jones is op reis saam met sy vrou, dr Lynn Hassan Jones, 'n diagnostiese radioloog.

Foto: Drs Lynn Hassan Jones en Robert J. Jones het tydens hul besoek ook met 'n groep US-studente ontmoet. Die Jones-egpaar is derde en vierde van regs en prof de Villiers is links op die foto.

​Foto: Anton Jordaan