
US-kundiges ontvang toekennings van Akademie vir Wetenskap en Kuns
Navorsers verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) tel weer vanjaar onder diegene wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hul bydraes tot die wetenskap en kunste vereer word. Die pryse sal tydens twee bekroningsplegtighede, onderskeidelik in Pretoria en Stellenbosch, oorhandig word.
Die bekroondes is prof Emile van Zyl van die Departement Mikrobiologie, prof Barend Herbst, Emeritus Professor in Toegepaste Wiskunde, en prof Lizette Joubert, hoofnavorser by die Landbou Navorsingsraad se Infruitec-Nietvoorbij navorsingsinstituut, en buitengewone professor in die Departement Voedselwetenskap.
Prof Van Zyl word met die Havenga-prys vir Lewenswetenskappe vereer vir sy innoverende navorsing in die natuurwetenskappe, sy navorsingsuitnemendheid, mededingendheid, en sy akademiese vakkundigheid. Hy bewyer hom reeds vir meer as 'n dekade vir die gebruik van omgewingsvriendelike alternatiewe vir fossielbrandstowwe en het ʼn groot impak op die gebied gemaak.
Die Havenga-prys vir Fisiese Wetenskappe (Chemie) word toegeken aan prof Barend Herbst vir ʼn akademiese loopbaan wat oor veertig jaar strek en deur navorsingsuitsette van die hoogste gehalte en dienslewering op verskeie vlakke gekenmerk is. Herbst was onder meer betrokke by die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade en die Suid-Afrikaanse Simposium vir Numeriese en Toegepaste Wiskunde.
Prof Joubert ontvang ʼn erepennning van die SA Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie vir haar innoverende, volhoubare en toegepaste produkgebaseerde navorsing op rooibos en heuningbos. Haar navorsing het gelei tot die ontwikkeling van verskeie prosesse wat deur die rooibos- en heuningbosindustrie geïmplementeer word. Sy het ook internasionale erkenning hiervoor ontvang.
Onder die ander ontvangers tel alumni van die US.