Skip to main content
US help sosiale geregtigheid seëvier

US help sosiale geregtigheid seëvier

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
18 Maart 2019

Met Menseregtedag wat op 21 Maart gevier word, tree die tema van sosiale geregtigheid sterk op die voorgrond gedurende Maart en 'n mens kan nie anders as om aan die woorde van die eertydse president van Suid-Afrika, wyle Nelson Mandela, te dink nie. Mandela het gesê opvoeding is nie net 'n middel tot ekonomiese ontwikkeling nie, maar ook tot sosiale geregtigheid, menseregte en demokrasie. Wanneer dit by 'n bydrae tot sosiale geregtigheid kom, staan die Universiteit Stellenbosch (US) bankvas agter sy studente deur hulle te help om hul akademiese drome te bewaarheid ondanks finansiële, maatskaplike en akademiese uitdagings.

Van 2010 tot 2018 het die US in totaal meer as R800 miljoen van sy jaarlikse institusionele begroting gespandeer om voorgraadse studente te help befonds. Oor dié nege jaar het die Universiteit gemiddeld 28,34% van sy jaarlikse hoofbegroting aan voorgraadse beurse en lenings gespandeer.

Die US het ook duidelike prosesse ingestel om meer studente uit veral voorheen benadeelde agtergronde te help om toegang tot en befondsing vir hul hoër-onderwysdrome te kry.

Prof Wim de Villiers, die rektor en visekansellier van die US, het personeel by 'n onlangs personeelbyeenkoms op Stellenbosch verseker dat die US daartoe verbind is om studente nie net akademies nie, maar ook finansieel te help. “Ons beleid en ons grootste begeerte is om geen student op grond van finansiële redes uit te sluit indien die student akademiese meriete het nie," het De Villiers gesê.

Oor die jare is die US toegewyd om finansiële ondersteuning te gee aan die bruin, swart Afrikaan, Indiër en Asiër (BSIA) studentebevolking van die Universiteit.

“Die Universiteit streef daarna om die diversiteit van sy studentebevolking te bevorder. Voldoende finansiële hulp aan studente verseker dat hulle op hul studies kan fokus en hul graadstudies suksesvol kan voltooi. As graduandi lewer hulle 'n bydrae tot die ekonomie en maak hulle 'n verskil in ons land as 'n geheel," sê Arrie Hanekom, die US se Hoof: Beurse en Lenings (voorgraads).

Volgens Hanekom het die instelling van die Ikusasa Finansiële Hulpprogram vir Studente (ISFAP) al baie gesinne uit die sogenaamde 'verlore middel' gehelp. “Voorheen kon gesinne met 'n bruto jaarlikse inkomste van tot R600 000 nie die hoë studentegelde bekostig nie en sou hulle nie hul kinders universiteit toe kon stuur sonder finansiële hulp in die vorm van beurse en lone nie."

Oor die jare het die US ook baie studente bygestaan wat op hul toelae van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) wag deur hulle te help om die nodig studiemateriaal en kos te bekom gedurende hul studies.

“Dit is belangrik om te noem dat die Universiteit baie van sy eie geld vir beurse beskikbaar stel, afgesien van die ander private befondsers in die stelsel. In baie gevalle is ons Universiteit in die bevoorregte posisie om studente wat nog op die uitbetaling van hul NSFAS-toelaes wag, te help," sê dr Ronel Retief, Registrateur (Akademiese Toelating).

Klik hier​ 'n uiteensetting van die ondergraadse beurse en lenings by die US van 2010 tot 2018.

Vir meer inligting oor beskikbare US-beurse en -lenings, besoek gerus www.sun.ac.za.​