Skip to main content
Hendricks ontvang Global Minds-studiebeurs om PhD te voltooi

Hendricks ontvang Global Minds-studiebeurs om PhD te voltooi

Sue Segar
18 Maart 2019

Toe die prestigeryke PhD Global Minds-studiebeurs deur die Universiteit van Leuven aan haar toegeken is, was Lynn Hendricks nie voorbereid op temperature van -6°C en die eensaamheid en gevoel van oorweldiging om in ʼn nuwe land te wees nie.  

Maar dit is alles die moeite werd, sê dié navorsingsielkundige en onlangse gegradueerde van die MSc-program in Kliniese Epidemiologie aan die Fakuteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. “In hierdie kort vier weke het ek reeds meer geleer oor kunsgebaseerde navorsing as wat ek die afgelope jare deur die lees van boeke en artikels wys geraak het," het sy gesê. 

Hendricks, wat tans as ʼn onderwysfasiliteerder by die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGGS) werk, was oorstelp van vreugde toe sy onlangs gehoor het die ten volle befondste studiebeurs van vier jaar is aan haar toegeken deur Leuven, wat net buite Brussels in België geleë is. 

Sy sal tussen vier en vyf maande per jaar in Leuven deurbring en die res van die tyd by die SBGGS. 

Haar toekenning, ter waarde van sowat R2 miljoen oor vier jaar, is ʼn uitstaande prestasie omdat die mededinging straf is, met net een kandidaat per landstreek wat elke jaar gekies word. 

As ʼn bydrae tot ontwikkeling ken Leuven, België se grootste universiteit, jaarliks studiebeurse aan uitmuntende studente uit ontwikkelende lande toe om hul PhD daar te voltooi. Die idee is dat hulle hul verwerfde kundigheid sal toepas wanneer hulle weer tuis is. Die studiebeurse word toegeken aan uitstekende voorleggings wat met ʼn ontwikkelingsverwante onderwerp verband hou en wat verkieslik volhoubare ontwikkeling ten doel het. 

Hendricks se werk as onderwysfasiliteerder behels die ontwikkeling van nuwe modules vir navorsingsmetodes en werk aan navorsingsprojekte. Haar studiebeurs-projek behels ʼn transdissiplinêre, gesamentlike PhD tussen die Universiteite van Leuven en Stellenbosch. “Ek ondersoek deur deelnemende navorsing die ervarings van perinataal besmette MIV-positiewe Suid-Afrikaanse jeugdiges en wat hulle as ʼn bemagtigende omgewing beskou vir voldoening en hul vermoë om te floreer. Voorts ondersoek ek die gebruik van kunsgebaseerde navorsing as

ʼn metodologie en navorsingsfilm as ʼn disseminasie-uitkoms dwarsdeur my projek."

Hendricks sê sy voel “werklik geseënd" dat sy die beurs ontvang het. “Toe ek gehoor het ek het dit gekry, was ek uit my vel! Ek het die voorreg om elke oomblik van my werksdag navorsing te doen waaroor ek passievol is, saam met mense wat ek bewonder en in ʼn vakgebied waaroor ek mal is."

Hoogtepunte van haar ervaring tot dusver sluit in haar “wonderlike" PhD-toesighouers ­– proff K. Hannes en C. Mathei (Leuven) en prof T Young (Stellenbosch) – asook die bywoning van die derde Europese Kongres van Kwalitatiewe Ondersoek in Skotland. “Ek het kontakte met navorsers in België, Oostenryk en die Verenigde Koninkryk opgebou en selfs ʼn uitnodiging ontvang om in April vanjaar in Poland ʼn aanbieding oor kwalitatiewe sistematiese oorsigte te doen."

Hendricks pas vinnig by hierdie verandering in haar lewensomstandighede aan: “Ek het wonderlike mense ontmoet, my navorsingsgroep is baie ondersteunend en my familie is net ʼn video-oproep ver.

“Ek sal as ʼn nuwe mens met herlaaide batterye na die Universiteit Stellenbosch terugkeer, gereed om te onderrig! Dis ongelooflik om ʼn Global Minds-student te wees!"