
Chemikus van US kry R18 miljoen van die Wellcome Trust
Prof Bert Klumperman van die Universiteit Stellenbosch se Departement Chemie en Polimeerwetenskap, het R18 miljoen by die Wellcome Trust gekry vir die ontwikkeling van volgende generasie polimere ten einde membraanproteïene suksesvol te kan isoleer.
Tans maak membraanproteïene omtrent 70% uit van alle geneesmiddelteikens op die gebied van nanogeneeskunde, maar vordering word belemmer, aangesien dit baie moeilik is om hulle te isoleer in hulle ongeskonde, stabiele en ten volle funksionele vorm.
Die Wellcome Trust is 'n liefdadigheidstigting wat wêreldwyd poog om aandag te skenk aan die wêreld se mees dringende gesondheidsuitdagings deur middel van befondsing, veldtogte en vennootskappe. Die stigting is welbekend vir hul baanbrekerbenadering tot die ontwikkeling van nuwe geneesmiddels soos byvoorbeeld die antivirale middel AZT – die eerste middel wat goedgekeur is vir die behandeling van pasiënte met HIV.
Prof Klumperman het 'n lang gevestigde reputasie vir navorsing van 'n amfifiliese polimeer, poli(stireen-ko-malïensuur) of SMA. 'n Amfifiliese polimeer is 'n makromolekuul wat uit hidrofobiese (waterafstotende), sowel as hidrofiliese (waterliewende) komponente bestaan. Volgens Prof Klumperman het SMA in die onlangse verlede beduidend vastrapplek gekry as 'n effektiewe agent vir die onttrekking en stabilisering van membraanproteïene in fosfolipiede nanoskyfies.
Hy verduidelik: “Membraanproteïene verrig veelvuldige funksies wat noodsaaklik is in die lewe van die sel, en daarom kan hulle uiters suksesvol wees in die veld van nanogeneeskunde waar ons werk met geteikende geneesmiddelaflewering. Maar die onttrekking van hierdie proteïene in 'n ongeskonde, stabiele en ten volle funksionele vorm, is steeds buitengewoon uitdagend."
In die afgelope tien jaar het drie kommersieel beskikbare polimere interessante moontlikhede gebied vir die suksesvolle isolering van membraanproteïene. Maar prof Klumperman verduidelik dat hierdie kommersieel beskikbare polimere in die eerste plek nooit werklik spesifiek vir hierdie tipe toepassing ontwikkel is nie.
“Met hierdie projek poog ons om die volgende generasie amfifiliese ko-polimere, spesifiek vir die isolering van membraanproteïene, te ontwikkel. In samewerking met verskeie spesialiste op hierdie gebied wil ons die doeltreffendheid van die amfifiliese ko-polimere verbeter, asook bykomende funksionaliteit bekendstel wat benodig word vir die benutting van die geïsoleerde membraanproteïene op die gebied van die ontwikkeling van geneesmiddels, en weier."
Die navorsingsprojek getiteld “Unshackling Membrane Protein Research: New Amphiphilic Copolymers for Extraction of Stable, Active Membrane Proteins", sal oor vyf jaar strek en ten minste ses nagraadse studente betrek. Die projek sal uitgevoer word in noue samewerking met Prof. Tim Dafforn, 'n spesialis in biofisiese spektroskopie in die Skool vir Biowetenskappe by die Universiteit van Birmingham in die Verenigde Koninkryk. As mede- hoofnavorser sal sy navorsingsgroep verantwoordelik wees vir die toetsing van polimere wat by die US ontwikkel word. Vir spesifieke toepassings is daar verskeie bilaterale subprojekte wat membraamproteinwetenskaplikes van die VK, Denemarke, die Nederlande, Suid-Afrika en Kanada insluit.
Op die foto, van links na regs: Prof Bert Klumperman en sy span nagraadse studente, insluitend een nadoktorale genoot: Lauren Ball (PhD-student), Sinothando Sibariboyi (PhD-student), Ruvimbo Chagwedera (PhD-student), Michael-Phillip Smith (MSc-student), dr Chandré Smit (post-doc) and Gestél Kuyler (PhD-student). Foto: Stefan Els