Skip to main content
Kanselierstoekenning ‘erken die waarde van data by US’

Kanselierstoekenning ‘erken die waarde van data by US’

Jacolette Kloppers
13 Desember 2023

​​Loumarie Kistner, ʼn data-analis in die Sentrum vir Besigheidsintelligensie in die Afdeling Strategiese Inisiatiewe en Inligtingsoorsigbestuur, het op Woensdag 13 Desember 2023 ʼn kanselierstoekenning in die kategorie professionele dienste tydens die Universiteit Stellenbosch se Desember-gradeweek ontvang. Die eerste ding wat ’n mens in Loumarie Kistner se netjiese kantoor in die historiese huis by Murraystraat 12, Stellenbosch raaksien, is ’n aansteekbord vol houtskoolsketse op wit A4-papiere. Dié sketse van diere, mense se gesigte en veral bome (haar gunstelingvoorwerp om te teken), getuig van fyn besonderhede en ’n goeie waarnemingsvermoë. Dit is nie verbasend nie omdat sy in haar dagtaak ook toegespits is op klein onderdele wat meebring dat ’n groot masjien, Stellenbosch Universiteit (SU), glad geolie voortstoom.

Die kanselierstoekenning gee erkenning aan US-personeellede wie se loopbaan van volgehoue uitnemendheid getuig. Kistner het dié eerbewys ontvang vir haar merkwaardige bydraes tot die ontwikkeling van data-ontleding as ’n strategiese instrument, veral die ontwerp, toepassing en afronding van SUN-i, die US se stelsel vir besigheidsintelligensie. Danksy hierdie stelsel is datagedrewe besluitneming oor ’n wye front binne die Universiteit moontlik.  Dr Wilhelm Uys, Kistner se lynbestuurder en kollega, sê haar rol ten opsigte van die ontwikkeling en uitbou van SUN-i is in 2014 geskep om ’n brug te bou tussen die behoeftes van die gebruikers van bestuursinligting, die databronne met die gepaste inligting, en die tegniese span wat die nodige funksies moes ontwikkel om oplossings vir hierdie behoeftes te skep.  “Loumarie het aanvanklik by SUNStudent gehelp met die toetsing van die inwoningsbestuurstelsel vir koshuise. Hierdie taak het later aansienlik uitgebrei om ook besigheidsontleding in te sluit, en sy moes help met die ontwerp om stelselbeperkings te probeer omseil. Sy het ’n groot rol gespeel om die gehalte van data te ondersoek sowel as die korrektheid van die gelewerde data deur middel van noukeurige toetsing saam met ander spanlede.” Kistner, wat in die vroeë 1980’s chemiese ingenieurswese aan die US gestudeer het en in daardie stadium die enigste vrouestudent in die fakulteit was – en boonop die topstudent in haar jaargroep, sê sy hou van syfers, wiskunde, probleemoplossings en ʼn verskeidenheid. Gevolglik het hierdie kursus haar soos ’n handskoen gepas. Haar loopbaan by die Universiteit het in 1987 as ’n deeltydse dosent in chemiese ingenieurswese begin. Later het sy op ’n deeltydse grondslag rekenaarvaardigheidsopleiding vir personeel en studente aangebied, en het sy begin om verskillende US-departemente en  afdelings met stelselontwikkeling en statistiese ontleding te ondersteun. Vanaf 2005 het sy as deeltydse data-ontleder by die Sentrum vir Voornemende Studente gewerk voordat sy in 2014 by die Afdeling Institusionele Navorsing en Beplanning aangesluit het. Sy het in 2013 ’n BComm-honneursgraad in statistiek met lof geslaag aan die US.  By die Sentrum vir Voornemende Studente was sy aanvanklik betrokke by die ontwikkeling en verwerking van die toegangstoetse – die voorloper van die hedendaagse nasionale normtoetse – wat alle studente geskryf het. Onder dr Celeste Nel se leiding het hulle begin om neigings met betrekking tot voorgraadse aansoeke, eerstejaarregistrasies en die akademiese prestasie van eerstejaarstudente te ontleed. Dié verwerking van studente-inligting, die identifisering van neigings en die verpakking daarvan in verstaanbare verslae, het die boustene gevorm vir die latere spesifikasies van die SUN-i-bestuursinligtingstelsel. As besigheidsanalis dien Kistner as ’n skakel tussen gebruikers van SUN-i, die IT-ontwikkelingspan en die institusionele databronne. Met haar kennis van verskillende besigheidsareas, ontwikkel sy ook spesifikasies oor hoe data ontsluit kan word en help sy om datamodelle te bou. Sy was betrokke by die ontwerp en inwerkingstelling van verskeie komponente van SUN-i, soos program-, verblyf- en beurse- en leningsaansoeke; program- en module-inskrywings; verblyfplasings; moduleslaagsyfers; graduerings; deurvloeisyfers; beurse en lenings toegeken; studentegelde; subsidie-eenhede; nagraadse studieleiding; en personeelaanstellings.  Kistner sê naas gehalteversekering is menseverhoudings krities. Dit is belangrik om te weet wat mense nodig het en om dan die oplossings op ’n verstaanbare en bruikbare manier te kan oordra. “My werk bied aan my ’n kombinasie van dinge waaroor ek passievol is – praktiese dinge, nuwe dinge, uitdagings en ’n groot verskeidenheid. ’n Mens hoef nooit te stagneer nie, want nuwe oplossings is altyd nodig. Dit is ’n voorreg om by die Sentrum vir Besigheidsintelligensie te werk, want ek word omring deur kollegas wat mekaar ondersteun, as ’n klankbord vir mekaar dien en ’n voortdurende bron van inspirasie is.” En die waarde van die kanselierstoekenning? “Dit is ’n besonderse voorreg om erkenning te kry vir my alledaagse werk – werk wat ek baie geniet. Die toekenning is ook ’n erkenning van die toenemende rol wat SUN-i by die Universiteit speel ten opsigte van datagedrewe besluitneming. Ek voel trots op die ontwikkeling van SUN-i, en dat ek deel kon wees van die ontwikkelingspan. Die toekenning vervul my ook met dankbaarheid vir soveel kollegas wat oor baie jare my lewe op ’n persoonlike en professionele vlak verryk het.”  GesinsleweKistner het haar eggenoot, Johann Kistner, ’n direkteur in die US se Afdeling Informasietegnologie, destyds in die klas ontmoet tydens hulle ingenieurstudies, en die appels het nie ver van die boom af geval nie. Nie net het al drie hulle seuns ook ingenieurswese aan die US gestudeer nie, maar ook hulle twee skoondogters. Wanneer sy haar kantoordeur toetrek, hou sy steeds daarvan om haarself met praktiese dinge en handwerk besig te hou, soos naaldwerk, tuinmaak en teken. Met dié dat daar ook twee kleinkinders in hulle lewe is, sluit dit ook die “groot lekkerte” in van koekies bak en speel in die sandput. Só sê Loumarie se kollegas: Dr Barbara Pool (Senior Direkteur: Strategiese Inisiatiewe & Inligtingsoorsigbestuur):“Hierdie toekenning gee erkenning aan die unieke en toegewyde manier waarop Loumarie nie net haar eie kundigheid en vaardighede ontwikkel het nie, maar dit ook deurlopend aangewend het in belang van die Universiteit. Sy het ’n sleutelbydrae gelewer tot die ontwikkeling van data-ontleding as ’n strategiese instrument aan die US.”  Dr Wilhelm Uys (Direkteur: Besigheidsintelligensie, Strategiese Inisiatiewe & Inligtingsoorsigbestuur):“Danksy ’n unieke kombinasie van vaardighede en ’n oog vir detail en hoë standaarde, is Loumarie ’n onvervangbare lid van die besigheidsintelligensiespan. Dit dryf haar om deurlopend waarde vir die US te ontsluit. Ondanks die uitdagings wat met ’n multidimensionele rol gepaardgaan, skitter sy in haar taak en het sy oor die jare die weg help baan om ’n stelsel van wêreldgehalte daar te stel.” Dr Celeste Nel (Direkteur: Aansoeke, Studenteverblyf en Kliëntediens):“Ek en Loumarie werk al meer as 15 jaar lank saam. Geen taak is vir haar te groot of te klein nie, solank dit waarde toevoeg. Vir Loumarie is die belangrikste deel van haar werk, naamlik datastelle, instrumentpanele (dashboards) en ondersoekende verslae, dat iemand dit moet kan gebruik. Danksy haar briljantheid, menslikheid, nederigheid en diepe omgee vir die mense om haar, is sy nie net ’n merkwaardige kollega nie, maar ook ’n lewenslange vriend.” Carla Kroon (data-tredhou-analis, Strategiese Inisiatiewe & Inligtingsoorsigbestuur):“Loumarie is ’n staatmaker en ’n briljante kollega. Dit is ’n voorreg om saam met so ’n bekwame kollega te werk wat so baie bydra tot die data- en inligtingswêreld by die US en waarby ons so baie kan leer. Sy is ’n groot bron van ondersteuning en insig vir baie kollegas en belanghebbendes by die Universiteit.” Bron: Amptelike Motiveringsdokument vir benoeming (18 Augustus 2023)

Foto: Dr Barbara Pool, Senior Direkteur: Strategiese Inisiatiewe en Inligtingsoorsigbestuur, Loumarie Kistner, ʼn data-analis in die Sentrum vir Besigheidsintelligensie en die ontvanger van ʼn kanselierstoekenning in die kategorie professionele dienste, en prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake. Foto deur: Stefan Els