Skip to main content
EBW lewer rekordgetal PhD’s op

EBW lewer rekordgetal PhD’s op

Pia Nänny
07 Desember 2016

Minstens 30 studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch sal in 2016 PhD-grade ontvang – die meeste PhD's wat hierdie fakulteit nog ooit in een akademiese jaar gelewer het.

Drie van hierdie PhD-ontvangers, wat Woensdag (7 Desember) hul grade ontvang het, is deel van die eerste groep studente wat toegelaat is tot die Nagraadse Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, wat in 2014 gestig is om voornemende PhD-studente in staat te stel om hul graad in drie jaar te voltooi met behulp van ruim beurse.

Die aantal PhD's wat die fakulteit lewer, het oor die afgelope paar jaar geleidelik toegeneem, met nege studente wat in 2013 hul PhD's ontvang het, 17 in 2014, en 22 in 2015.

Ná die 2016 akademiese jaar sal altesame 23 studente hul PhD-grade in Desember ontvang terwyl minstens nog sewe na verwagting hul PhD-grade in Maart 2017 sal ontvang.

Prof Stan du Plessis, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, is baie trots op hierdie prestasie.

"Dit was 'n belangrike doelwit van die Fakulteit om ons PhD-deurvloeikoerse en die totale aantal PhD's per jaar aansienlik te verhoog en dit is wonderlik om te sien dat ons besig is om daardie doelwit te bereik."

Volgens prof Du Plessis vorm die Nagraadse Skool 'n integrale deel van die Fakulteit se plan om meer doktorsgrade te lewer.

"Ons kan sien dat hierdie program werk en dat studente in die Ekonomiese en Bestuurswetenskappe met die regte ondersteuning en weldeurdagte navorsingsprojekte doeltreffend kan vorder met hul PhD's. Die sukses van die program ontsluit belangrike nuwe navorsingsmoontlikhede vir die fakulteit."

Die eerste inname van tien voltydse PhD-studente het hul doktorale reis in 2014 begin, terwyl 'n tweede groep in Januarie 2015 verwelkom is. Met die 2016-inname het die Nagraadse Skool sy teiken van 30 voltydse PhD-studente bereik. Nege studente sal in 2017 by die groep aansluit.

"Ons doel is om so ver moontlik hindernisse uit die pad van doktorale navorsing te ruim. Dis baie moeilik om doktorale studies met 'n voltydse werk te kombineer. Danksy die beurse kan kandidate hul aandag by hul studies bepaal," verduidelik dr Jaco Franken, Hoof van die Nagraadse Skool.

"Ons is baie trots op die PhD-studente wat nou gradueer. Hulle het baie hard gewerk om hierdie doelwit te bereik en het 'n waardevolle bydrae gelewer tot die sukses van die program."

Anderson Gondwe van Malawi se PhD-onderwerp was " 'n Empiriese ontleding van armoede, ongelykheid en die arbeidsmark in Malawi".

Voor sy PhD-studies het hy vir CDH Investment Bank in Malawi gewerk, maar hy sal nou vir die Internasionale Navorsingsinstituut vir Voedselbeleid, wat in Lilongwe gebaseer is, werk.

"Ons hooftaak is om armoede en hongersnood in lande te beëindig. Hierdie werk is meer akademies van aard as die een wat ek gehad het voordat ek vir 'n PhD ingeskryf het. Sonder hierdie program sou ek steeds by die bank gewerk het. Ek het nooit daaraan gedink om 'n PhD te doen totdat die geleentheid hom voorgedoen het nie," sê hy.

Nóg 'n lid van die Nagraadse Skool, Elina Amadhila van Namibië, het gefokus op "Finansiering van klein-en-medium-skaal landbou-ondernemings in Namibië".

Voordat sy haar PhD-studies aangepak het, het sy as 'n junior navorser en 'n menslike hulpbron-administrateur by die Universiteit van Namibië gewerk.

"Die ondersteuning wat die Nagraadse Skool voorsien het, het 'n groot rol gespeel in die voltooiing van my PhD. Ek waardeer die feit dat ek nie vir 'n gepaste studieleier moes soek om my in my werk by te staan nie. Ek was ook gelukkig genoeg om bykomende finansiering te kry om konferensies oorsee by te woon waar ek my werk kon aanbied. Ek wil graag in die veld van ontwikkelingsfinansies werk," voeg sy by.

Qiaowen Zhang, 'n dosent by Zhejiang Normaal Universiteit in China, het korporatiewe regering, institusionele beleggers en maatskappyprestasie in Suid-Afrika en China vergelyk.

"Die Nagraadse Skool het groot ondersteuning vir my PhD-navorsing gebied. Dit het 'n kanaal vir kommunikasie en interaksie tussen die fakulteit en PhD-studente verskaf, sowel as 'n platform vir kennisdeling en navorsingsamewerking."

ONDERSKRIF: Van links na regs is drr Qiaowen Zhang, Anderson Gondwe en Elina Amadhila. Foto: Stefan Els