
Tikverslawing het negatiewe impak op plattelandse maatskaplike werkers
Maatskaplike werkers op die platteland probeer daagliks hul bes om volwassenes met metamfetamienafhanklikheid (volwassenes wat aan tik verslaaf is) op die regte pad te help, maar hul pogings word deur verskeie uitdagings in die wiele gery.
“Hulle voel uitgebrand weens die gebrek aan infrastruktuur, te min personeel, ʼn gebrek aan die nodige kennis en vaardighede, hoë gevalleladings en onrealistiese verwagtinge oor die dienste wat hulle moet lewer," sê dr Hannelie Krige wat onlangs haar doktorsgraad in Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.
Krige, self ʼn maatskaplike werker, het navorsing gedoen oor die uitdagings van maatskaplike werkers wat op die platteland dienste lewer aan volwassenes wat aan tik verslaaf is. Sy het onderhoude gevoer en fokusgroepe met van hierdie maatskaplike werkers gehou.
Krige sê sy het gereeld gesien hoe tik nie net individue, gesinne en gemeenskappe in die platteland verwoes nie, maar ook ʼn negatiewe impak op maatskaplike werkers het.
Volgens haar sukkel maatskaplike werkers in die platteland om die nodige dienste (bv. voorkomings-dienste, vroeë intervensie, statutêre en nasorgdienste) te lewer omdat die aanvraag eenvoudig te groot is. “Die aanvraag in dienslewering vir volwassenes wat aan tik verslaaf is, is baie hoër as die dienste wat tans aangebied word.
“Maatskaplike werkers se taak word verder bemoeilik deur die oorbeklemtoning van prosedures, nie-regeringsorganisasies se afhanklikheid van die staat vir befondsing, en die wyse waarop befondsingsooreenkomste hul werksaamhede reguleer.
“Op ʼn liggaamlike vlak voel maatskaplike werkers bedreig deur die optrede van volwassenes wat aan tik verslaaf is. Psigies voel hul ontoereikend in hul dienslewering omdat hulle nie die nodige kennis en vaardighede het om die komplekse verskynsel van tikverslawing onder hierdie volwassenes doeltreffend aan te spreek nie.
“Daar is ook nie genoeg diensverskaffers om in ʼn multidissiplinêre span dienste aan dié volwassenes te lewer nie. Die samewerking tussen en koördinering van hierdie dienste is ook onvoldoende."
Krige voeg by dat die staat en nie-regeringsorganisasies van maatskaplike werkers verwag om met al hierdie uitdagings steeds ʼn doeltreffende diens te lewer.
“Dit alles dra daartoe by dat baie maatskaplike werkers die beroep verlaat en die diens aan tikverslaafdes, hul gesinne en die gemeenskap gevolglik skipbreuk ly."
Krige sê die situasie is betreurenswaardig, veral as in ag geneem word dat maatskaplike werkers juis die mees kwesbare persone wil bemagtig om take en aktiwiteite te verrig wat nodig is om in hul basiese behoeftes te voorsien en alledaagse rolle in die samelewing te vervul.
Hulp
Krige sê maatskaplike werkers kan gehelp word deur die vestiging van ʼn multidissiplinêre span (bv. sielkundiges, psigiatriese susters, dokters) wat holistiese en gespesialiseerde dienste kan lewer om die fisiese, psigiese en sosiale funksionering van volwassenes wat aan tik verslaaf is, aan te spreek.
“Hierdie soort samewerking en koördinering kan die druk op maatskaplike werkers verminder en keer dat hulle onbevoeg voel."
Krige voeg by dat maatskaplike werkers met vaardighede vir traumaberading toegerus moet word en opleiding moet ontvang in psigososiale ondersteuning en die relevansie daarvan vir dienslewering aan volwassenes wat aan tik verslaaf is.
“Opleiding en voortgesette professionele ontwikkeling is nodig om spesifieke vaardighede en kennis te ontwikkel om middelgebruikstoornis te kan identifiseer, te kan verwys en 'n effektiewe behandelingprogram aan te bied. Die uitbreiding van maatskaplike werkers se kennis en vaardighede sal hulle bemagtig om ʼn meer effektiewe diens te lewer."
Volgens Krige is supervisie belangrik vir die voortgesette professionele ontwikkeling van maatskaplike werkers.
“Die wyse waarop maatskaplike werkers voortdurende professionele ontwikkeling kan ondergaan, is deur supervisie, want deel van die funksies van supervisie is opleiding en ondersteuning ten einde emosionele bevoegdheid vir die praktyk te kweek."
Sy meen plaaslike dwelmaksiekomitees behoort versterk te word deur rolspelers soos regerings- en nie-regeringsinstansies, die privaatsektor, munisipaliteite en kerke te betrek ten einde hulpbronne en infrastruktuur uit te brei.
“Die effektiewe bestuur van maatskaplike werkers se werksladings en meer befondsing sal hulle ook help om meer doeltreffende dienste te lewer aan volwassenes wat aan tik verslaaf is," voeg Krige by.
- Foto: ʼn Glaspyp wat gebruik word om tik te rook. Fotokrediet: Wikimedia Commons.