Skip to main content
Kommunikasie: US-koshuise

Kommunikasie: US-koshuise

Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
16 April 2023
17 Maart 2023​Voorgestelde aanpassings in verhouding van plasing van mans en vroue in US-koshuise op hoofkampusBeste kollegas en studenteDie persentasie vrouestudente wat aan die Universiteit Stellenbosch studeer, het die afgelope twee dekades stelselmatig gestyg tot die huidige 58,0%* van die totale voorgraadse studentebevolking.Dit is hoofsaaklik omdat meer vroue in Suid-Afrika en internasionaal toegang tot hoër onderwys het. Volgens die Gender-feitestaat (Maart 2020 en 2021) van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding is dit twee maal meer waarskynlik vir vroue om universiteit toe te gaan en is 58% van Suid-Afrikaanse tersiêre studente nou vroue.In ooreenstemming met die neigings in die afgelope paar jaar se innames, het die Universiteit se eerstejaarsaansoeke vir die 2023-akademiese jaar hierdie profiel weerspieël. Van die eerstejaarsaansoeke vir ’n plek in ’n koshuis in 2023, was 37% mans en 63% vroue. Hierdie koshuisaansoeke verteenwoordig alle studente wat ’n akademiese aanbod van die Universiteit ontvang het. Die Universiteit het altesame 5 579 beddens in voorgraadse koshuise op die Stellenbosch-kampus beskikbaar. Plekke vir eerstejaars is nie vasgestel nie en hang af van die aantal senior studente wat in ’n spesifieke jaar uittrek. Die plasingsverhouding van eerstejaars in koshuise op die Stellenbosch-kampus was vanjaar 49% mans en 51% vroue.Dit beteken vroue word in werklikheid benadeel in die oorweging van plasings op grond van akademiese prestasie. ’n Vroulike aansoeker moet byvoorbeeld in die eerste rondte van plasings nagenoeg 85% behaal om in ’n koshuis geplaas te word, terwyl haar manlike eweknie met ’n akademiese punt van 80% geplaas sal word. Manlike aansoekers se kans om vanjaar geplaas te word, was 50% hoër as dié van vroue. Dit beteken slegs een uit sewe vrouestudente sal ’n plek in ’n koshuis kry in vergelyking met een uit vyf manlike aansoekers. Die US is maar al te bewus van hierdie demografiese werklikhede, nasionale en wêreldwye neigings en die gevolglike groeiende groep vrouestudente. Daarom is die Universiteit tans besig om maniere te ondersoek om die aantal plekke wat vir vrouestudente in sy koshuise beskikbaar is, na ’n billiker 60/40-verhouding aan te pas. Daar is by ’n onlangse vergadering van die Rektoraat tot ’n vergelyk gekom oor die behoefte om met toepaslike belanghebbendes in gesprek te tree oor maniere waarop meer plekke vir vrouestudente in koshuise op die Stellenbosch-kampus stelselmatig beskikbaar gestel kan word.  ’n Styging oor die volgende paar jaar tot 60% van die beskikbare plekke sal die verhouding van beskikbare koshuisbeddens vir mans en vroue billiker maak. Volgens inligting van Statistiek Suid-Afrika is daar meer vroue as mans in die land en die US se koshuisplasingsbeleid moet dit weerspieël. Die Advieskomitee vir Studentegemeenskappe, waarvan ek (prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig) die voorsitter is, het ’n werkgroep onder leiding van dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, aangestel om voorstelle vir die stelselmatige inwerkingstelling van ’n 60/40-koshuisplasingsbeleid te formuleer. Die komitee bestaan uit verteenwoordigers van Studentesake, Studenteverblyf, Fasiliteitsbestuur, SunCom (“handelsdienste”) en die Primkomitee. Aangesien die konsulterende proses nog aan die gang is, is daar nog geen besluit geneem oor hoe hierdie stelselmatige inwerkingstelling van die 60/40-plasing sal plaasvind nie en geen koshuise is al vir hersamestelling geïdentifiseer nie. Die gendersamestelling vir inwoners in die twee nuwe koshuise wat tans langs Goldfields in aanbou is en na verwagting in 2024 sal open, moet ook nog bevestig word. Die werkgroep sal verskeie moontlikhede vir die hersamestelling van koshuise op die Stellenbosch-kampus vanaf 2024 ondersoek. Hulle sal ook finansiële oorwegings, infrastruktuurvereistes en studentegemeenskap-omgewings in ag neem. Daarna sal hulle aanbevelings by die Rektoraat doen ten einde ’n geleidelike verskuiwing in genderplasings in koshuise vanaf die 2024-inname te bewerkstellig.Hierdie aanpassing in die verhouding van die plasing van mans en vroue in die Universiteit se koshuise beklemtoon die US se verbintenis daartoe om ’n transformerende studente-ervaring by die instelling te verseker wat die diversiteit van sy studenteliggaam ten volle weerspieël. *Hierdie getal is gegrond op finale registrasiestatistiek. Die persentasie vroue op die Stellenbosch-kampus is 56,3% en 76,3% by Tygerberg. Vriendelike groete Prof Deresh RamjugernathViserektor: Leer en onderrig