Skip to main content
Kry jou inenting nou!

Kry jou inenting nou!

Prof Wim de Villiers: Rector and Vice-Chancellor / Rektor en Visekanselier
24 Augustus 2021

​Beste studente en kollegas

Terwyl ek hier skryf, is sowat 11 miljoen van die Suid-Afrikaanse bevolking van ongeveer 60 miljoen mense reeds teen COVID-19 ingeënt. Dit is wonderlike nuus, maar aansienlik meer mense sal in die volgende paar weke ingeënt moet word indien ons enigsins ’n kans wil hê om die koronavirus te klop.

Soos julle weet, kan enigiemand wat 18 jaar en ouer is, nou die inenting in SA ontvang. Dit beteken dat die oorgrote meerderheid van julle nou ingeënt kan word. Ek wil julle in my hoedanigheid as Rektor en Visekanselier sowel as ’n mediese praktisyn aanmoedig om ingeënt te word. Die oomblik wat dit vir my moontlik was, is ek ingeënt en het geen newe-effekte ervaar nie.

Instagram, Facebook, Twitter en TikTok is vol mense wat hul inspuitings ontvang, en sosialemediatydslyne en nuusvoere word oorlaai met video’s en selfies vanaf inentingsterreine landwyd. Ek ondersteun dit ten volle. As daar ooit ’n tyd was om trots te wees op ’n selfie, is dit nou! Ek moedig jou aan om jou vriende en familie te wys dat jy ingeënt is deur die profielfotoraam op die Universiteit Stellenbosch (US) se Facebookblad af te laai en die US in jou plasing te etiketteer. Die foto’s van die lang toue buite die US se eie inentingsterrein by die Lentelus-sokkerklubhuis in Hammanshandweg, Stellenbosch, het my hart laat swel van trots oor ons studente en personeel wat besluite het om deel te word van die oplossing. Soos ek voorheen reeds gesê het: “Geen inspuiting, geen pret!”

Baie geluk en knap gedaan aan elkeen van julle wat reeds jul inenting ontvang het.

Ek wil diegene wat nog huiwerig is, die versekering gee: Die COVID-19-inenting – hetsy jy die Pfizer- of die Johnson & Johnson-entstof ontvang – is heeltemal veilig. Dit is getoets, goedgekeur deur mediese owerhede en, wat veral van belang is, dit red lewens.

Dit is wat entstowwe veronderstel is om te doen, en reeds vir dekades lank wêreldwyd regkry. Entstowwe het gehelp om pokke uit te roei en om te voorkom dat siektes soos polio en TB ernstige simptome en sterftes veroorsaak. En nou doen dit dieselfde vir COVID-19.

Ons moet in hierdie tyd van valse inligting, fopnuus en samesweringsteorieë veral waaksaam wees oor ons inligtingsbronne. So, wanneer jy nalees oor COVID-19 en entstowwe, of na video’s oor die onderwerp kyk, gaan jou bronne na en maak seker dat hulle betroubaar is. Die afdeling met gereelde vrae en antwoorde op ons inentings-webblad is ’n goeie vertrekpunt.

Gaan asb voort om julle maskers te dra, handhaaf ’n veilige afstand van ander, ontsmet, vermy plekke waar daar ’n samedromming van mense en swak ventilasie is en kom alle COVID-19-protokols na.

Ons beleef ’n uitdagende tyd. Moenie bang wees om hulp te soek nie. Tree met die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) en ons Kampusgesondheidsdiens of die Afdeling Menslike Hulpbronne in verbinding indien jy enige vrae het.

Gaan kry jou inenting nou!

Vriendelike groete Prof Wim de Villiers Rektor en Visekanselier