
Vula-toepassing slaan (nog) ʼn gesogte prys los
Daar is wêreldwyd meer as 2,5 miljard mense wat siggestremd en sonder geredelike toegang tot behandeling leef. James Chen, ʼn sosiale entrepreneur en filantroop van Hong Kong, se doelwit is egter om alle mense binne die volgende 20 jaar te help sien. Dit is ʼn reuse taak en daarvoor het hy Clearly, ʼn internasionale oogsorg-inisiatief, gevestig en die Clearly Vision Prize geloods. Hierdie kompetisie is daarop gemik om blink idees en vernuwing in dié sfeer te befonds deur altesaam $200 000 in prysgeld uit te deel.
Inskrywings van regoor die wêreld het ingestroom, maar op 12 Oktober vanjaar was dit dr William Mapham van die Universiteit Stellenbosch (US) wat die eerste prys met die Vula-selfoontoepassing losgeslaan het.
Mapham, ʼn kliniese assistent by die Afdeling Oogheelkunde aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), sê die toekenning het reeds gesorg vir publisiteit in internasionale media, onder meer in WIRED en Newsweek, asook vir belangstelling van beleggers. "Maar ʼn mens weet eers of dit werklik iets beteken as daar resultate is om te toon," sê hy beskeie.
"Ons sal die prysgeld ($100 000) aanwend om verder te groei en ons trefkrag in die landelike gesondheidsektor uit te brei."
Die Vula-selfoontoepassing maak dit vir primêre gesondheidswerkers moontlik om foto's en kliniese data per selfoon vir raad of verwysing aan spesialiste op bystand te stuur. Vula is uit Mapham se frustrasie met die tekort aan spesialiste in afgeleë landelike gebiede gebore. Hy wou ʼn manier vind om hulle met die primêre gesondheidswerkers te verbind.
"Dié direkte verbinding stel primêre gesondheidswerkers in staat om oogsiektes raak te sien, praktiese opleiding te ondergaan en data-ontledings te kan doen, wat met die strukturering van gesondheidstelsels help," verduidelik Mapham.
Vula, wat in 2014 bekendgestel is, het aanvanklik slegs op oogheelkunde gefokus. In April vanjaar het dit egter na kardiologie-, ortopedie-, brandwond-, dermatologie- en neurochirurgie-verwysings uitgebrei.
Vula het, volgens Chen, vier "briljante" mededingers, elk met "die potensiaal om die manier waarop oogsorg wêreldwyd gelewer en voorsien word, heeltemal om te keer" in die finale rondte van die Clearly-kompetisie geklop.
ʼn Oogtoets-instrument wat op die Origami-beginsel gebaseer is, het tweede plek gewen.
Mapham sê hy dink dat die beoordeellaars ʼn moeilike taak gehad het. "Die ander finaliste was almal ongelooflik. Hulle het in Vula dalk net die meeste potensiaal gesien om toegang tot sigverbetering regoor die wêreld te kan verbeter."
Vir Mapham was die hoogtepunt van die toekenningsgeleentheid, wat in die kelder van ʼn spog-restaurant in Londen gehou is, die blootstelling aan ander talentvolle mense, entrepreneurs en filantrope.
Mapham skryf Vula se groei toe aan ʼn dinamiese span. Volgens hom het Debbie Barrett (Hoofbedryfsbeampte), Sara Hilliard Garret (verantwoordelik vir strategie en regskundige) en Tiago Clemente Morgado (ʼn voormalige kliniese assistent in neurochirurgie) bydraes van onskatbare waarde gelewer.
Hy bedank ook prof David Meyer, Hoof van Oogheelkunde aan die FGGW, en Tygerberg Hospitaal se bestuurspan, vir die kultuur van vernuwing wat hulle vestig. "In 2014 is ek ses maande se onbetaalde sabbatsverlof gegun om aan Vula te werk," vertel Mapham. En dit het die hospitaal uiteindelik gebaat: Tygerberg se oogheelkundeverwysings het met 25% gedaal danksy die opleiding van primêre gesondheidswerkers in afgesonderde gebiede.
Mapham se volgende doelwit is ambisieus, dog eenvoudig: die uitbreiding van Vula in Suid-Afrika van twee provinsies na al nege, uitbreiding in Namibië en Rwanda teen die einde van 2017, en internasionale uitbreiding binne die volgende vyf jaar.
Foto: Die FGGW se dr William Mapham (links) ontvang die Clearly Vision Prize