Skip to main content

Inklusiewe, wederkerige skakeling lei tot wedersydse voordeel

Joanne Williams
08 Maart 2016

Funda Fundisa is 'n gestruktureerde vrywilligerprogram wat tutorbystand bied aan matriekleerders by Hoërskool Kayamandi op Stellenbosch. US-studente help die matrieks met Engels, Lewenswetenskappe en Wiskunde, en dien as rolmodelle vir die leerders, van wie die meeste weinig blootstelling aan die lewe buite Kayamandi het. As gevolg van die tutorhulp presteer baie leerders heelwat beter. Hulle onderwysers is ook besonder dankbaar vir die studentetutors se bystand en die verbetering wat hulle onder die leerders opmerk.

Volgens mev Matiwane, 'n onderwyser by die skool, is die skool "bly dat Funda Fundisa vrywilligers het wat diversiteit verstaan. Hulle toewyding, verdraagsaamheid en harde werk word hoog op prys gestel. In goeie én slegte tye by Hoërskool Kayamandi is die vrywilligers altyd daar vir ons leerders". 

Die Funda Fundisa-projek het 'n etos van inklusiwiteit en wederkerigheid. Dít blyk uit die inklusiwiteit op alle vlakke van die vennootskap, wat beplanning en inwerkingstelling insluit. Die gemeenskapslede word as kenners oor hulleself beskou, en die onderwysers en Funda Fundisa-vakhoofde werk saam, met bydraes deur die vrywilligers en die leerders. 

Danksy die projek kon twee voormalige leerders van Hoërskool Kayamandi ná matriek aan die US gaan studeer. Twee leerders is ook na 'n internasionale wetenskapkompetisie in Beijing genooi. Die leerders word dikwels nie aan die lewe buite Kayamandi blootgestel nie, en die vrywilligers bied hulle dus nuwe blootstelling en word rolmodelle wat betref die geleenthede wat deur die onderwys geskep kan word. Die vrywilligers wys die leerders hoe waardevol onderwys is en ook hoe kosbaar die leerders self is. Boonop help hulle die leerders met hulle aansoeke om tersiêre onderwys. 

Studentevrywilligers vind op hulle beurt baat by Funda Fundisa deur aan verskillende kulture en die volle spektrum van die lewe in 'n township blootgestel te word – die stryd om oorlewing, die chaos, maar ook die talent en volharding. Dié blootstelling verruim hulle wêreldbeskouings, wat hulle goed te pas sal kom in toekomstige werksaansoeke of nagraadse studie. Daarbenewens leer die studente praktiese, organisasie-, interpersoonlike en leierskapsvaardighede aan en geniet die positiewe omgewing en persoonlike verryking wat die ervaring hulle bied. Dít alles help rus hulle toe met die gewenste kenmerke van 'n US-gegradueerde.

Christelle Viljoen, een van die studentevrywilligers en voormalige voorsitter van Funda Fundisa, vat dit soos volg saam: "Ons dink aanvanklik oor hoe ons ander mense se lewens sal verander – sonder om te besef watter diepgaande invloed dit op ons eie lewens sal hê. Ek voel ook nou minder senuweeagtig om projekte aan te pak, want ek het meer geloof in myself en in my vermoë om by 'n uiteenlopende groep mense en persoonlikhede aansluiting te vind."