Skip to main content
Regering nie ernstig genoeg oor vroeë kinderontwikkeling

Regering nie ernstig genoeg oor vroeë kinderontwikkeling

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
05 April 2019

'n Verslag wat in Februarie verlede jaar deur Statistieke Suid-Afrika bekendgestel is, beklemtoon hoe belangrik die belegging in vroeë kinderontwikkeling vir die toekoms van die land is. Ongelukkig is die werklikheid 'n perd van 'n ander kleur. Die fisieke, kognitiewe, taalkundige en sosio-emosionele ontwikkeling van baie Suid-Afrikaanse kinders word belemmer deur die regering se versuim om die verskeie beleide oor vroeë kinderontwikkeling te implementeer.

Dit is die siening van dr Eric Atmore, adjunk-medeprofessor in Sosiale Ontwikkeling aan die Universiteit van Kaapstad en die direkteur en stigter van die Sentrum vir Vroeë Kinderontwikkeling in Claremont, Kaapstad. Hy het Vrydag, 5 April 2019 sy doktorsgraad in Opvoedingsbeleidstudie by die sesde seremonie van die Universiteit Stellenbosch (US) se April-gradeplegtigheid ontvang.

As deel van sy doktorale tesis onder toesig van prof Nuraan Davids van die US se Departement Opvoedingsbeleidstudie, het Atmore al 27 beleide en beleidsverwante dokumente oor vroeë kinderontwikkeling wat sedert 1990 die lig gesien het in Suid-Afrika, opgespoor, gelees en ontleed. Daarna het hy onderhoude met 19 sleutelfigure wat tussen 1990 en 2015 by die beleidsvorming oor vroeë kinderontwikkeling betrokke was, gevoer. Hy het ook sy eie stem bygevoeg om sy boodskap oor te dra.

Eric Atmore1.jpg

Atmore wys daarop dat sy studie die eerste van sy soort in Suid-Afrika en, sover hy kon vasstel in al die literatuur, die eerste een ter wêreld is wat gekyk het na die verloop van beleidsvorming oor vroeë kinderontwikkeling oor só 'n lang tydperk.

Die 63-jarige Atmore is reeds sedert 1979 by vroeë kinderontwikkeling betrokke en baie passievol daaroor. Hy sê hy het die studie gedoen omdat daar sedert 1990 reeds 27 beleide en beleidsverwante dokumente oor vroeë kinderontwikkeling vir Suid-Afrika was, maar daar was minimale implementering van die beleide en vroeë kinderontwikkeling-programme.

“Ek het ook hierdie navorsing gedoen omdat ek redelik aktief betrokke was by beleidsvorming oor vroeë kinderontwikkeling tussen 1990 en 2012 en daar is 'n storie om te vertel oor hoe vroeë kinderontwikkeling in die ná-apartheidstydperk in Suid-Afrika ontvou het.

Hy sê dat hoewel goeie geleenthede vir hoë-gehalte vroeë kinderontwikkelingservarings noodsaaklik is vir jong kinders se groei en ontwikkeling, ons as 'n land nie veel van die proses van beleidsvorming vir vroeë kinderontwikkeling verstaan nie en daar is swak plekke in die implementering van vroeë kinderontwikkelingbeleide.

“My motivering om by vroeë kinderontwikkeling betrokke te wees, is die wete dat jong kinders 'n fundamentele reg op goeie gehalte vroeë onderrig en ontwikkeling het – wat gesondheidsorg en voeding insluit, maar daar is baie, sowat 70% van Suid-Afrika se kinders, wie se reg nie geëer word nie," voeg Atmore, wat self drie kleinkinders het, by.

Gebrek aan politieke wilskrag

Hy sê sy navorsing het getoon dat daar sedert 1994 'n merkbare gebrek aan politieke wilskrag by die regering was om vroeë kinderontwikkeling in Suid-Afrika te ondersteun.

“Terwyl die beleidsdokumente die belangrikheid van die verskaffing van vroeë kinderontwikkeling-dienste beklemtoon, is dit minimaal geïmplementeer. Die Nasionale Tesourie het ook nie genoegsame befondsing verskaf om hierdie vroeë kinderontwikkeling-beleide te implementeer nie en ons regeringsamptenare op nasionale en provinsiale vlak het nie die kapasiteit om vroeë kinderontwikkelingsprogramme op die been te bring soos dit in die verskillende beleidsdokumente uiteengesit word nie.

“Die regering het nie naastenby genoeg vir ons jong kinders en vir vroeë kinderontwikkeling gedoen nie. Die regering se verbintenis tot die Verenigde Nasies se Konvensie op die Regte van die Kind en ander internasionale konvensies is swak," voeg Atmore by.

Hy sê sy navorsing bevat talle lesse oor die implementering van vroeë kinderontwikkelingbeleide en oor die pad vorentoe om in die behoeftes van jong kinders in Suid-Afrika en in die res van die wêreld te voorsien.

“My navorsing toon ook dat groter aktivisme van verskaffers van vroeë kinderontwikkelingsdienste nodig is.

“Daar is sowat 30 000 vroeë kinderontwikkelingsentrums met sowat 90 000 mense, oorwegend vroue, wat elke dag onderrig, ontwikkeling en sorg aan ons jongste kinders bied. Dit word al vir lank deur die nie-winsgewende en gemeenskapsektore verskaf. Die aktivisme moet tot politieke wilskrag en die regering se verbintenis tot ons jongste kinders in Suid-Afrika lei."

Volgens Atmore is die uitgebreide netwerk van vroeë kinderontwikkeling-diensverskaffers in die gemeenskap een van die sterkpunte van hierdie sektor in Suid-Afrika.

Oor hoekom daar 'n gebrek aan navorsing oor vroeë kinderontwikkelingbeleide in Suid-Afrika is, sê Atmore dit is moeilik om beleid na te vors. Hy voeg by dat die meerderheid navorsing in vroeë kinderontwikkeling oor programme en die implementering daarvan handel, terwyl slegs 'n paar navorsers op vroeë kinderontwikkeling-beleidstudies fokus.

Hy sê een van die hoogtepunte sedert hy die Sentrum vir Vroeë Kinderontwikkeling op die been gebring het, is om te sien hoe vroue uit verskeie gemeenskappe regoor Suid-Afrika vroeë kinderontwikkelingsdienste aan jong kinders verskaf.

“Hoewel dit nie altyd die beste gehalte is nie, inspireer dit 'n mens om te sien wat Suid-Afrikaners kan doen as hulle regtig vasbeslote is en die visie het om ons jong kinders te onderrig en na hulle om te sien.

“Ons het al verskeie onderwystoekennings ontvang, wat die Presidentstoekenning vir vroeë kinderontwikkeling en die Afrika ICT-toekenning in Onderwys insluit. Maar niks kom daarby om te sien hoe hierdie inspirerende vroue uit ons gemeenskappe vroeë kinderontwikkelingsdienste aan ons jong kinders verskaf nie."

Atmore sê regeringsbeamptes en aktiviste in die vroeë kinderontwikkelingsektor, sowel as mense wat by onderrig en maatskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika en regoor die wêreld betrokke is, sal baat vind by sy navorsing.

Hy het ook reeds die eerste ruwe manuskrip vir 'n boek wat op sy tesis gegrond is, voltooi en beplan om die boodskap daarvan by konferensies in Suid-Afrika en oorsee te versprei.

  • Hooffoto: Kinders in 'n créche. Krediet: Wikimedia Commons
  • Foto 1: Dr Eric Atmore by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Eric Atmore

Sentrum vir Vroeë Kinderontwikkeling

Tel: 021 683 2420

Sel: 082 568 0200

E-pos: [email protected]

     UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4851

E-pos: [email protected]