Skip to main content
Chemikus en fisikus ontvang US kanselierstoekennings

Chemikus en fisikus ontvang US kanselierstoekennings

Media & Communication, Faculty of Science
12 Januarie 2016

’n Teoretiese fisikus en ’n analitiese chemikus van die Fakulteit Natuurwetenskappe het die Universiteit Stellenbosch se Kanselierstoekennings vir buitengewone prestasie tydens die Desember 2015 gradeplegtigheid ontvang.

Hulle is prof. Hendrik Geyer, direkteur van die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), en prof. Harald Pasch, bekleër van die SASOL-navorsingsleerstoel in Analitiese Polimeerwetenskap in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap aan die US.

Prof. Geyer het erkenning ontvang vir sy uitnemende bydraes tot die gemeenskap, leierskap in die universiteitsomgewing en beroepsliggame, en uitstekende navorsing. Hy dien as voorsitter van die Departement Fisika, direkteur van die Instituut vir Teoretiese Fisika, en op die raad van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Fisika. Deur sy toewyding kom die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika (NITHeP) in 2008 tot stand, waar hy as tussentydse direkteur gedien het. Hy is sedert 2008 ook direkteur van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), waar hy as kampvegter vir interdissiplinêre navorsing optree. Sy navorsing is al met die Alexander von Humboldt-genootskapstoekenning en ’n silwer medalje van die SAIF bekroon.

Prof. Pasch het hom in 2008 as bekleër van die SASOL-navorsingsleerstoel en hoof van die Polimeerafdeling by die US aangesluit. Gedurende die volgende sewe jaar het hy die analitiese groep in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap tot ’n internasionaal erkende sentrum van uitnemendheid in gevorderde polimeerontleding uitgebou. Met meer as 300 portuurbeoordeelde publikasies op sy kerfstok, konsentreer sy huidige navorsing op multidimensionele vloeistofchromatografie, gevorderde spektroskopie, die ontwikkeling van analitiese medtodes vir nanomaterial en hoëdeursetproefnemings. Het het al vir meer as 50 nagraadse studente in Duitsland en Suid-Afrika as studieleier opgetree.

Tydens die Fakulteit Natuurwetenskappe se Desember 2015 gradeplegtigheid is bykans 300 BSc-grade en nog 255 nagraadse kwalifikasies toegeken. Van die nagraadse kwalifikasies sluit in 172 BSc-honneursgrade, 60 MSc-grade en 23 doktorsgrade.

Op die foto, (links) prof. Hendrik Geyer en (regs) prof. Harald Pasch.