
#USVroue: COVID-19 en die invloed daarvan op vroue
Vir Hannah Simba, 'n PhD-kandidaat in Openbare Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), is die bevordering en insluiting van vrouewetenskaplikes noodsaaklik om algehele wetenskaplike uitnemendheid te kweek.
Hierdie ontvanger van L'Oreal se PhD-genootskap vir vrouewetenskaplikes van Afrika suid van die Sahara werk in die US se Afrika Kanker-instituut en vervul reeds die afgelope dekade 'n kernrol om dogters en jong vroue in die wetenskap te ondersteun en van mentorskap te voorsien.
As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, het sy ons meer vertel van haar navorsing en die verskeie inisiatiewe wat sy al van stapel gestuur het en ondersteun.
Jy het onlangs klaargemaak met navorsing oor COVID-19 en die impak daarvan op vroue. Vertel ons meer daarvan?
Ek het by die aanvang van die pandemie met 'n projek begin om die impak van COVID-19 op vrouegesondheid te ondersoek en die vereiste openbare gesondheidsreaksies en -strategieë te identifiseer om vroue minder kwesbaar te maak. Ek het die navorsing saam met my vriendin en kollega Silindile Ngcobo gepubliseer. In ons manuskrip, wat deur Frontiers uitgegee is, ondersoek ons die geslagsbelaaide aard van pandemies en kom tot die gevolgtrekking dat vroue en vrouestandpunte noodsaaklik is in besluitneming oor pandemiereaksies. Ons stel ook voor dat geslagsgebaseerde reaksies en strategieë die norm moet wees om die hardnekkige geslagsongelykhede gedurende uitbrekings die hoof te bied. Dít vereis egter dat vroue deel uitmaak van die gesprek, en beklemtoon na my mening een van die hoofredes waarom ons meer vroue in die wetenskap nodig het.
Jy het L'Oreal se PhD-genootskap vir vrouewetenskaplikes van Afrika suid van die Sahara ontvang. Vertel ons meer van jou doktorale navorsing, en waar jou belangstelling in jou studieonderwerp vandaan kom?
My navorsing handel oor die genetiese en omgewingsfaktore wat met slukdermkanker in die Suid-Afrikaanse bevolking verband hou. Dit is die sesde algemeenste oorsaak van kankersterfte en die sewende algemeenste vorm van kanker ter wêreld. Slukdermkanker is een van die wêreld se mees aggressiewe kankers en het hoë sterftesyfers tot gevolg, veral in ontwikkelende lande. Voorkomssyfers in Afrika suid van die Sahara is veral hoog, en die oorsake word nog nie ten volle verstaan nie. In Suid-Afrikaanse verband kom dit besonder baie in die Oos-Kaap voor.
My studie probeer die rol van genetiese en omgewingsfaktore in die ontwikkeling van slukdermkanker beoordeel en tipeer, en ondersoek die onderliggende molekulêre patobiologie deur geenuitdrukking te ontleed.
Ek het in hierdie onderwerp begin belang stel omdat daar so min studies oor slukdermkanker in Afrika bestaan, al maak dit 'n groot siektelas in sekere brandpuntgebiede uit. Die kennis uit my studie sal ons die genetiese en omgewingsgrondslag van slukdermkanker in Afrika help verstaan, en sal uiteindelik ons werk ondersteun om die risiko van, en vatbaarheid vir, die ontwikkeling en progressie van die siekte te reguleer, nie net in Suid-Afrika nie, maar oor die hele vasteland.
Jy is betrokke by verskeie inisiatiewe om vroue in die wetenskap te ondersteun. Vertel ons meer daarvan, en waarom dit so belangrik is om jong dogters en vroue aan te moedig om wetenskaplikes te word?
Ek het al gemeenskapsaktiwiteite gereël om jong dogters oor onder meer voortplantingsgesondheid op te voed en van sanitêre doekies te voorsien. Ek was 'n afdelingshoof vir die stigting Working to Advance African Women (WAAW) en dien tans as hulle ambassadeur in Suid-Afrika. WAAW bied uitreik- en mentorskapsprogramme vir hoërskooldogters in die wetenskap sowel as koderingskampe vir jong vroue aan, en ek is ten nouste daarby betrokke.
Ek is ook 'n vrywiliger vir die Pan-Afrika-organisasie vir Gesondheidsonderwys en -navorsing (POHER), wat mediese studente van mentorskap voorsien en gesondheidsbewusmakingswerk in Afrikagemeenskappe doen. En dan neem ek boonop deel aan 'n deurlopende projek oor die rol van mentorskap om vroue-akademici te ondersteun en in die akademie te behou. 'n Opsomming van hierdie navorsing is in 2019 by die konferensie vir vroueleiers in globale gesondheid in Rwanda aangebied.
Dit is baie belangrik om jong dogters en vroue te ondersteun om wetenskaplikes te word. Hulle bevordering en insluiting is noodsaaklik om algehele wetenskaplike uitnemendheid te kweek. Die voortdurende onderverteenwoordiging van Afrikavroue in navorsing is 'n ondiens aan nie net die wetenskaplike gemeenskap nie, maar die mensdom in die geheel.
Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou gemotiveerd in hierdie tyd?
Ek bly gemotiveerd deur te beplan en realisties te wees oor die daaglikse, weeklikse en maandelikse doelwitte wat ek kan bereik. Dan is dit ook belangrik om tyd vir selfsorg opsy te sit, en ek prioritiseer my geestesgesondheid. Dit is 'n moeilike tyd om produktief te wees, maar dit help tog om realistiese doelwitte te stel en tyd in te ruim om na jouself om te sien en die dinge te doen wat vir jou lekker is. Oor die algemeen hou dit my ook aan die gang om te weet dat my werk 'n groter doel het.
Wat is jou boodskap vir die volgende geslag vrouenavorsers?
Moenie jouself onderskat nie, mik hoog, werk hard en wees dapper.