
#USVroue: Bevorder vrouegesondheid
Vroue- en voortplantingsgesondheid word dikwels afgeskeep in die openbare domein. Dr Rizwana Roomaney, 'n dosent in die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), wil dít help verander. As 'n ervare metodoloog wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika as 'n navorsingsielkundige geregistreer is, handel Roomaney se werk oor hoe sielkundige, gedrags- en kulturele faktore tot vroue se liggaamlike gesondheid bydra.
Om Vrouemaand te gedenk, vertel sy ons meer oor haar navorsing.
Vertel ons meer oor jou navorsing?
My navorsing handel oor vroue- en voortplantingsgesondheid. Ek stel belang in die ervaring van vroue wat met chroniese siekte, hoërisikoswangerskap, vrouekankers en gemoedsteurings saamleef. Ek het in my werk al 'n aantal aspekte van hierdie siektes ondersoek, soos gesondheidsverwante lewensgehalte, nood, sielkundige welstand, opvattings oor die self, die soeke na voordele, oorlewingstrategieë, ensovoorts. Boonop wil ek graag meer uitvind oor hoe die publiek aanlyn platforms soos blogs, mediese webtuistes en aanlyn ondersteuningsgroepe met betrekking tot hulle gesondheid gebruik.
Waarom dink jy is dít so 'n belangrike navorsingsgebied vir vroue in Suid-Afrika (en wêreldwyd)?
Vrouegesondheid is in die meeste gevalle 'n afgeskeepte navorsingsgebied. Selfs nog méér kommerwekkend is hoe dit in die openbare domein afgeskeep word. Die invloed van siekte op vroue word privaat gehou, en baie ly in stilte. In my gesprekke met vroue gedurende my navorsing, val dit my altyd op dat daar nie vir hulle genoeg ruimtes is om oor hulle ervarings te praat nie. Wanneer ons vroue vra om opnames te voltooi, spreek hulle 'n behoefte uit aan geleenthede om op 'n meer kwalitatiewe manier oor hulle ervarings te gesels. Vroue hanteer hulle uitdagings dikwels privaat, en daar is nie vir hulle ruimtes om met ander om te gaan nie. Daarom voel baie van hulle afgesonder – asof hulle die enigstes is wat ervaar wat hulle ervaar. En dít is waarom ons hierdie ruimtes moet skep, want dit kan vroue bemagtig. Ons moet onthou dat vroue 'n belangrike bydrae tot die samelewing en die ekonomie lewer, so om vroue te ondersteun en hulle lewensgehalte te help verbeter bied voordele wat veel verder as die individu strek.
Waarom of hoe het jy in hierdie bepaalde navorsingsgebied begin belang stel?
My belangstelling in vrouegesondheid is aangewakker deur my honneursstudieleier, prof Michelle Andipatin van die Universiteit van Wes-Kaapland. Haar toewyding aan, en belangstelling in die gebied was aansteeklik, en sy het soveel tyd daaraan gewy om my vaardighede op die terrein te ontwikkel. Sy is tot vandag toe een van my mentors. Namate ek gesels met vroue wat my van hulle ervarings vertel, met nagraadse studente wat ook in die gebied van vrouegesondheid belang stel, en met dokters, verpleegkundiges en akademici binne én buite Suid-Afrika, word my belangstelling in hierdie vakgebied net al hoe sterker.
Die COVID-19-pandemie het hoe ons werk en leef verander. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?
Ek moet bieg ek is nie een wat daarin glo dat 'n mens heeltyd gemotiveerd moet wees nie. Ons moet aanvaar dat dit nie altyd moontlik is om gemotiveerd te wees nie – ék is beslis nie. Ek beleef tye wanneer ek moedeloos voel. Nietemin, al voel ek wanhopig, hou ek aan werk, en hoop dat ek weer inspirasie sal kry. Ek put heelwat motivering uit my kollegas in die Departement Sielkunde én my studente, veral op nagraadse vlak.
Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?
Ek dink dit is belangrik om jou met mense te omring wat in dieselfde goed as jy belang stel en jou motiveer en ondersteun. Baie van ons toekomstige vrouenavorsers is nagraadse studente, en ek sou graag wou hê dat hulle mekaar ondersteun in plaas daarvan om met mekaar mee te ding. Ek dink ons bereik meer wanneer ons saamwerk en diegene om ons sukses gun.
Jy is in 2020 as een van 51 swart Suid-Afrikaanse akademici gekies wat 'n toelaag van die regering se bevorderingsprogram vir swart akademici (BAAP) ontvang het om jou nadoktorale navorsing (oor die psigososiale welstand van mans en vroue wat vrugbaarheidsbehandeling ontvang) te voltooi. Hoe belangrik is BAAP vir swart navorsers, en hoe het dit jou gebaat?
BAAP kan 'n belangrike rol vervul om transformasie in akademiese omgewings te ondersteun. Die toelaag het my in staat gestel om my onderrigpligte vir twee jaar opsy te skuif sodat ek op my navorsing kan konsentreer en my akademiese CV kan uitbou deur my navorsingsuitsette en nagraadse deursetsyfer te verhoog. Maar ek mis dit ook om dosent te wees, so ek sien daarna uit om in 2022 terug te wees in die klas.