Skip to main content
Belowende kitaarspeler vang graad ná vele laat nagte

Belowende kitaarspeler vang graad ná vele laat nagte

Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
05 April 2022

​Om 'n suksesvolle musiekloopbaan en jou studie vir 'n meestersgraad in ingenieurswese gelyk te hanteer, verg fyn voetwerk.Maar vandeesweek het Roelof van der Merwe, 'n lid van die bekroonde folk-akoestiese musiekgroep, Van Der Aven, bewys dit kan gedoen word toe hy sy meestersgraad in Chemiese Ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch (US) se April-gradeplegtigheid ontang het.Hy speel kitaar en sing in die groep saam met sy broer, Theunis van der Merwe, en hul goeie vriend, Paul Avenant. Van der Merwe, 'n Karooklong van Beaufort-Wes, kom uit 'n familie met 'n ryke Matie-geskiedenis. Hy volg in die voetspore van sy oupa, 'n professor aan die US en hoof van die Departement Sielkunde, sy pa en drie sibbe wat almal oud-Maties is. “Ek is ongelooflik dankbaar en opgewonde om my meestersgraad te ontvang. Dit was 'n lang pad met baie laat nagte, maar ek wou aan myself bewys dat ek hierdie doel kon bereik. Dit was nogal uitdagend om my tyd doeltreffend tussen die vertonings en studie te verdeel. Dit het maar afgehang van goeie beplanning en om tyd te maak vir die belangrike goed," sê Van der Merwe.Sy navorsing vir sy graad het gefokus op die aanwending van ongesuiwerde industriële soliede kelp-afval as 'n meer bekostigbare alternatiewe bron om grondaanvullings te lewer wat waterretensie kan bevorder en kunsmis se vrystellingskoers van voedingstowwe en die pH in die grond kan beheer. Hy sê dit was nie 'n maklike taak nie. Hy het in sy voorgraadse jare gesukkel om 'n balans te vind tussen sy nie-akademiese belangstellings en die akademie. “Om dit sagkens te stel: Ek het die meeste van my voorgraadse vakke net-net deurgeskraap. Vir my finalejaarprojek het ek egter 'n onderwerp ontvang wat regtig my belangstelling geprikkel het en ek het ongelooflike terugvoer gekry."Hierdie positiewe terugvoer het hom geïnspireer. “Ek het besluit om my navorsing voort te sit en op die voltooiing van my meestersgraad in Chemiese Ingenieurswese te fokus om te bewys dat my voorgraadse prestasies nie werklik my ware vermoëns weerspieël het nie," sê hy.Hy het voortgegaan met sy navorsing oor die aanwending van industriële soliede kelp-afval om grondaanvullings te lewer wat waterretensie en die vrystellings van kunsmis se voedingstowwe kan verbeter terwyl die pH-vlakke in die grond beheer word. Hy moes weer eens 'n balans tussen al sy belangstellings vind, maar dié keer binne die Covid-19-grendeltyd. “Die pandemie het ons baie beïnvloed en dit was beslis 'n uitdaging om my navorsing vir my meestersgraad te voltooi," vertel Van der Merwe.Die musikale chemiese ingenieur is positief oor sy toekoms – oor sy navorsing én sy musiek. Hy wil voortgaan om sy passie uit sy kinderdae uit te leef om as die musiekgroep se kitaarspeler op te tree. Die groep het immers al baie bereik: Hulle het in 2019 as wener uit die stryd getree in die “battle of the bands"-kompetisie (Band or Bust) by die US Woordfees, het al saam met Karen Zoid gewerk en saam met kunstenaars soos Francois van Coke, Arno Carstens, Bottomless Coffee Band, Deon Meiring en Kaleidoskoop opgetree. Wat sy navorsing aanbetref, hoop hy dit eendag  gekommersialiseer sal word. “Die gebruik van industriële afval vir die lewering van grondaanvullings toon groot potensiaal vir toekomstige landbou-aanwending en is ook 'n uitstekende manier om die afval van nywerhede te hergebruik vir die skep van nuwe produkte," sê Van der Merwe.Fotograaf: Stefan Els