Skip to main content
Wêreld TB-dag: Geteikende intervensies nodig om mense met TB te help

Wêreld TB-dag: Geteikende intervensies nodig om mense met TB te help

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
24 Maart 2022

Hoewel daar doeltreffende behandeling vir Tuberkulose (TB) beskikbaar is, het dit voor Covid-19 die grootste aantal sterftes wêreldwyd weens 'n enkele aansteeklike agent veroorsaak. Meer navorsing oor die voorspelling en verbetering van mense se nakoming van behandeling is noodsaaklik ten einde die Wêreldgesondheidsorganisasie se doelwit te bereik om die TB-epidemie teen 2035 te beëindig.

Dít is die siening van dr Leigh Rynhoud, 'n kliniese sielkundige wat onlangs haar doktorsgraad in Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. Sy het die doeltreffendheid van die Gesondheidbeskouingsmodel (GBM), asook demografiese faktore, opvattings oor medisyne, middelgebruik en simptome van depressie geëvalueer om getrouheid in die gebruik van medikasie by mense wat weens TB gehospitaliseer word, te voorspel. Die GBM is 'n teorie wat algemeen gebruik word om gesondheidsgedrag te verstaan en te voorspel. Gegrond op die GBM is mense meer geneig om met behandeling vir TB aan te hou wanneer hulle glo hulle is meer vatbaar vir die ontwikkeling van weerstand, dat TB 'n ernstige siekte is, dat behandeling groter voordele inhou met minder struikelblokke en dat hulle in staat is om behandeling na te kom en in 'n omgewing waar nakoming aangemoedig word deur aanwysings vir aksie.

Rynhoud het as deel van haar doktorale studie die Tuberkulose-nakomingskaal ontwikkel om getrouheid aan TB-behandeling te meet. Sy het ook die Tuberkulose-gesondheidbeskouingsmodel ontwerp om die GBM-konstrukte rakende TB en nakoming te meet. Rynhoud het inligting versamel oor demografie en sosio-ekonomiese faktore, middelgebruik, gelowe oor medisyne, gesondheidsbeskouings, depressie en nakoming van 175 deelnemers wat met TB gehospitaliseer is. Hulle is gehospitaliseer by twee hospitale wat spesialiseer in TB. Beide hospitale is in die Wes-Kaap geleë.

Rynhoud sê haar navorsing het getoon dat deelnemers wat vir TB-behandeling gehospitaliseer is, 'n laer sosio-ekonomiese status as die algemene bevolking van die Wes-Kaap gehad het, hoë vlakke van middelgebruik gehad het. Net minder as 50% het simptome van depressie getoon wat bo die normaal-tot-lig-graad van erns was.

“Die resultate het getoon dat 58 deelnemers (33,1%) 'n lae nakoming gehad het, 60 deelnemers (34,3%) se nakoming was gemiddeld en 57 deelnemers (32,5%) het 'n hoë nakoming getoon.

“Die meeste deelnemers het geglo in hul vermoë om getrou aan behandeling te bly en die voordele daarvan asook die noodsaaklikheid van behandeling. Hulle was bewus daarvan dat TB gevaarlik is en dat nienakoming van behandeling skadelik kan wees.

“Sommige deelnemers was bekommerd oor die medikasie en die moontlike skadelike uitwerkings, terwyl die verneemde moontlikheid om middelweerstandige TB te ontwikkel ook hoog was.

Rynhoud voeg ook by dat gesondheidsorgwerkers mense se beskouings oor medikasie – veral oor uitwerkings op die lang termyn en verslawing – in ag moet neem.

Sy wys daarop dat jonger deelnemers en diegene wat minder alkohol gebruik, minder depressiesimptome getoon het, nie so bekommerd was oor die skadelike uitwerking van TB-behandeling nie, betekenisvol besig kon bly en meer waarskynlik aan behandeling getrou sou bly.

Volgens Rynhoud het ons geteikende intervensies nodig wat daarop gerig is om die uitdagings wat mense met TB ondervind, te identifiseer en aan te spreek ten einde optimale getrouheid aan behandeling en beter uitkomste te verseker.

“Die Tuberkulose-gesondheidbeskouingskaal kan waardevolle inligting verskaf oor mense se beskouings en omstandighede wat getrouheid aan behandeling kan verhinder. Strategieë om mense se persepsies van TB aan te spreek, asook om hindernisse tot 'n minimum te beperk en die voordele van behandeling tot die maksimum te benut, behoort die getrouheid aan behandeling te verbeter."

Rynhoud sê een van die verrassende bevindings van haar navorsing was dat vrees wat met die bedreiging van TB verband hou, negatief met verbeterde getrouheid geassosieer word. Sy stel voor dit kan dalk gesondheidsorgpraktisyns help om nie strategieë te gebruik wat hoofsaaklik daarop gemik is om vrees oor die nagevolge van swak nakoming te verhoog sonder om ook die voordele van behandeling te beklemtoon nie.

“Dit is noodsaaklik om swak nakoming betyds te identifiseer ten einde uitdagings aan te spreek vóór moontlike middelweerstandigheid vererger word, die siekte vorder en die tydperk van besmetting vergroot. Dit geld veral as 'n mens die onlangse bekendstelling van nuwe medikasie om middelweerstandige TB te behandeling, in ag neem."

Rynhoud sê die Tuberkulose-nakomingskaal moet gebruik word om nakoming op gereelde tussenposes te meet om te verseker dat nakoming gereeld gemonitor word.

“Aangesien meer depressiesimptome en hoër middelgebruik redelik baie met die nienakoming van TB-behandeling verbind word, word die sifting van mense met TB vir middelgebruik en depressie, tesame met die inwerkingstelling van toepaslike intervensies, hoog aanbeveel."