Skip to main content
US wil Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit word

US wil Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit word

Corporate Communications Division
24 Julie 2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn nuwe visie wat die instelling posisioneer om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit" te word wat “wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word" en wat “kennis tot diens van die samelewing bevorder".

Dit maak deel uit van ʼn nuwe strategiese raamwerk, wat die Universiteitsraad op 18 Junie, kort voor die halfjaarreses, goedgekeur het. Noudat klasse weer begin het, is die raamwerk vandag [Dinsdag 24 Julie 2018] by ʼn personeelbyeenkoms bekend gestel. Die nuwe rigtinggewende dokument vervang die Universiteit se bestaande Institusionele Voorneme en Strategie 2013-2018, wat vanjaar verstryk.

“Die voortdurende verandering in die hoër onderwys vereis ʼn gepaste reaksie van diegene wat op ʼn bepaalde tydstip in die geskiedenis by ʼn universiteit betrokke is. Dít is veral waar vir die US wat sy tweede bestaanseeu binnegaan. Die bestuur het opdrag ontvang om ʼn nuwe roetekaart vir die toekoms op te stel, en ons is tevrede dat die visie en strategiese raamwerk waarmee hulle vorendag gekom het die instelling goed te pas sal kom," het die voorsitter van die Raad, mnr George Steyn, gesê.

Kern strategiese temas

Om sy nuwe visie te verwesenlik, sal die US van 2019 tot 2024​ ses kern strategiese temas nastreef: om ʼn transformerende studente-ervaring te bied, om genetwerkte en samewerkende onderrig en leer te voorsien, om navorsing vir impak te onderneem, om aan doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke deel te neem, om 'n voorkeurwerkgewer in die hoëronderwyssektor te word, en om die US in die geheel 'n florerende organisasie te maak.

“Ek is trots daarop om die US in sy Eeufeesjaar te kan lei. En ek is veral trots op ons bekwame en toegewyde personeellede en studente. As verantwoordelike rentmeesters, wil ons gesamentlik die US se nalatenskap vir toekomstige geslagte uitbou en ʼn selfs beter instelling agterlaat. Ons is almal deel van iets groter. Ons nuwe visie en strategiese raamwerk neem ons saam vorentoe," het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, gesê.

Die US se nuwe visie en strategiese raamwerk is teen die agtergrond van Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan, die Afrika-unie se Agenda 2063 en die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte opgestel. Die Universiteit wil in die behoeftes van Afrika se al hoe groter bevolking voorsien – nie slegs deur kontakleer nie, maar ook leer op digitale platforms. Die klem sal val op die bevoegdhede en vaardighede wat nodig is om studente vir die toekoms toe te rus.

Die nuwe raamwerk is oor ʼn tydperk van twee jaar deur middel van ʼn inklusiewe proses onder leiding van prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, ontwikkel. Vyf taakgroepe het verskillende aspekte ondersoek, personeellede en studente is oor die US se waardes geraadpleeg, en die Institusionele Forum en Senaat het kommentaar gelewer en uiteindelik ook die dokument by die Raad aanbeveel.

“Die visie en strategie is onboetvaardig dapper, met die aspirasie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd erkenning geniet. Die strategie sal hoë eise aan ons stel en aansienlike investering verg, maar ons is vol vertroue dat dit ons sterkpunte optimaal benut en ons terselfdertyd ruimte bied om te groei," het Klopper gesê. ​