US spog met eerste aanlyn-loopbaneportaal vir landbou in SA
Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe het pas die eerste loopbaneportaal bekend gestel wat net fokus op die landbou- en voedselsektor.
Dié interaktiewe portaal vir die landbousektor is die eerste in sy soort in Suid-Afrika en op die vasteland. Dit is die geesteskind van prof Danie Brink, dekaan van die fakulteit.
Hierdie webportaal sal na verwagting baie help met studente se loopbaanontwikkeling en om in bedryfsbehoeftes te voorsien, het prof Brink by die bekendstelling op 4 Oktober gesê. Studente in hul finale jaar asook nagraadse studente in die fakulteit en rolspelers in die landbousektor het die geleentheid op kampus bygewoon.
“Ons glo hierdie webportaal sal help om nuwe geleenthede vir ons studente te ontsluit en ook tot voordeel strek van die landbousektor," het prof Brink gesê. “Ons wil sien dat ons gegradueerdes die mark suksesvol betree."
Die fakulteit het die finansiering bewillig vir die ontwikkeling van die portaal. Die diens sal later uitgebrei word na ander universiteite en tersiêre opleidinginstellings in Suid-Afrika, asook moontlik na internasionale en privaat universiteite.
Die privaatsektor is volgens Prof Brink gereed om in hierdie inisiatief te belê, aangesien hulle uitdagings ondervind om behoorlik gekwalifiseerde gegradueerdes met toepaslike vaardighede te werf.
Die landbousektor se behoeftes asook die onderrigbehoeftes van studente het die afgelope dekades wesenlik verander, het prof Brink gesê. “Minder as 20% van die fakulteit se studente is deesdae afkomstig vanuit 'n landbou-agtergrond. Ons glo daarom dat hierdie portaal sal help bruê bou tussen ons studente en rolspelers in die sektor."
Die landbousektor en verwante bedrywe is kompleks, het Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, bygevoeg. “Ons benodig 'n nuwe generasie van multidissiplinêre kundiges wat passievol oor landbou is."
Die portaal bied 'n nuttige instrument waarmee die landbousektor nader kan beweeg aan studente. Só het Monika Basson, die fakulteit se koördineerder van voorgraadse werwing en bemarking, verduidelik. Studente sal as werksoekers daarop kan registreer en maatskappye kry op hul beurt toegang tot kandidate deur poste, internskappe (lang- of korttermyn) en beurse daarop te adverteer. Die portaal verskaf ook onder meer inligting oor loopbaangeleenthede en kursusse, asook riglyne vir werksgereedheid.
Volgens Marianne van der Laarse, besturende direkteur van Agrijob, vervul hierdie loopbaneportaal in 'n groot bedryfsbehoefte. “Die huidige tendens dat jongmense huiwerig is om in landbouwetenskappe te studeer is wyd bekend, en die bedryf is met reg bekommerd daaroor," het sy gesê. “Maatskappye en organisasies in die landbou- en agri-voedselbedryf bevestig gereeld dat hulle 'n tekort ervaar aan gegradueerdes in landbouwetenskappe met toepaslike vaardighede.
“Uit 'n werwingsperspektief word hierdie persepsie van die bedryf egter weerspreek deur die taamlik groot aantal landbougegradueerdes wat sukkel om werk of internskappe te kry. Ons is derhalwe baie opgewonde oor hierdie interaktiewe, omvattende platform wat landbou-verwante werksgeleenthede gaan help ontsluit."
Die privaatsektor, bedryfsorganisasies en regeringsinstellings is strategiese vennote om die sukses van die projek te help verseker, het sy gesê.
Van der Laarse het gesê die platform stel studente ook in staat om self proaktief op te tree wat hul eie loopbaanontwikkeling betref. “Wees gereed om jouself buite jou gemaksone te bevind as jy om werk aansoek doen en die werksplek aandurf. Doen internskappe en bekwaam jou in bykomende velde met ekstra kursusse," het sy gesê.
“Dit is jóú loopbaanstorie - neem eienaarskap daarvan."
Besoek www.agrijob.co.za vir meer inligting. Kontak Marianne van der Laarse per epos by [email protected] of skakel 0823881000.