Skip to main content
Taalleerhub bevorder kulturele diversiteit

Taalleerhub bevorder kulturele diversiteit

Rozanne Engel - Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
31 Julie 2018

Die voormalige Suid-Afrikaanse president Nelson Mandela het eenmaal gesê: “As jy met 'n man praat in 'n taal wat hy verstaan, gaan dit na sy kop. As jy met hom in sy eie taal praat, gaan dit na sy hart."

Helga Sykstus en Arné Binneman hoop om juis dit met die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Taalleerhub te bereik. “Ons wil mense nader aan mekaar bring deur meer oor mekaar se taal en kultuur te leer," sê Helga.

Die Taalleerhub is op die been gebring om die veeltalige aspirasies van individuele studente te ondersteun waar hulle nie tans voordeel trek uit genoegsame taalleergeleenthede in Afrikaans en Xhosa binne die bestaande Universiteitstrukture nie.

Die Taalleerhub is deel van die Universiteit se Taalsentrum, wat taal- en kommunikasiehulp aan studente en personeel van die US sowel as eksterne kliënte verleen. Met die Hub word daar gepoog om 'n eenstopdiens te skep waar kliënte volgens hul taalleerbehoeftes gehelp kan word.

“Daar is heelwat studente wat graag 'n ander taal wil aanleer of hulle bestaande taalvaardighede wil verbeter, en met die Taalleerhub hoop ons om die dienste en geleenthede daarvoor te skep," sê Arné.

Helga en Arné glo verder dat die Hub, deur virtuele en fisiese ruimtes met verskillende leergeleenthede buite die standaard leeromgewings te integreer, 'n waardevolle bydrae tot gehalte taalleer kan lewer.

Die geleenthede wat by die Taalleerhub aangebied word, sluit in:

  • 'n gratis konsultasie om die verskillende outonome leergeleenthede te verduidelik;
  • taalonderrig vir een-tot-een-taalbehoeftes, óf van aangesig tot aangesig óf via Skype (insluitende die verbetering van grammatika, uitspraak en gespreksvaardighede);
  • informele Japtrapafrikaans- en -xhosasessies vir koshuise en Luister-, Leef- en Leerhuise met behulp van 'n gemengde benadering;
  • beginners-, elementêre en voor-intermediêre kursusse in verskillende formate (van aangesig tot aangesig en/of gemengde leer) vir die aanleer van Afrikaans en Xhosa;
  • gemoniteerde selftoegang tot aanlyn taalonderrigwerktuie in Afrikaans, Engels en Xhosa via SUNLearn;
  • pasgemaakte taalkursusse en -werksessies vir eksterne kliënte;
  • gespreksgenote (eenrigtingleer) en tandemtaalleer;
  • informele taalleergroepe vir eweknie-interaksie;
  • boek- en rolprentklubs (albei van aangesig tot aangesig op Twitter of ander sosialemedia-platforms); en
  • toegang tot selfleerhulpbronne vir 'n verskeidenheid tale.

Vir meer inligting oor die dienste en die gepaardgaande koste, kontak: