Skip to main content
Ondersteun studente in nood

Ondersteun studente in nood

Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
13 September 2017

Voedselonsekerheid is 'n werklike, maar dikwels stille stryd wat studente daagliks voer. Daarom is beurse wat spesifiek bedoel is om etes aan behoeftige studente te voorsien, so belangrik.

'n Skenker wat op hierdie gebied 'n groot verskil by die Universiteit Stellenbosch (US) maak, is RoyalMnandi, 'n spesialis- uitgekontrakteerde spysenier en diensverskaffer by verskeie US-koshuise. Die maatskappy ondersteun tans agt studente 'n jaar, een vir elke koshuis waarvoor hulle voorsiening maak.

“'n RoyalMnandi-kosbeurs beteken dat 'n student wat kwalifiseer, gratis kos ontvang," sê die projekbestuurder Corlette Becker. Volgens Becker het hulle die behoefte aan voedselbeurse in 2010 geïdentifiseer, en tot en met 2017 het die maatskappy voedselbeurse aan 73 Matie-studente voorsien.

Volgens Becker het hulle studente in koshuise opgemerk wat nie geëet het nie en toe hulle gevra is hoekom nie, was die antwoord dat hulle nie geld het om kos te koop nie. Hierdie studente se beskikbare geld is net genoeg vir onderrig en verblyf, en kos het baie duur geword. Becker sê daar moet niks erger wees as om te studeer, te gaan slaap en dan op 'n leë maag eksamen te moet skryf nie. “Ons doel is om die ekstra spanning en bekommernis van waar die geld vir die volgende ete vandaan sal kom, weg te neem. Só kan hierdie studente op hulle studie konsentreer en uiteindelik uitblink."

Sy voeg by: “Dit is 'n groot voorreg vir ons om studente so te help en ons sal voortgaan om dit te doen."

Die US-maatskaplike werker, Lizzie Witbooi, sê mense is geneig om te vergeet dat studente ook geld vir die basiese noodsaaklikhede nodig het. As ons dink aan beurse in die hoëronderwyssektor, dink ons gewoonlik eerste aan klasgelde, boeke en akkommodasie.

Sy sê dat die US, benewens die broodnodige hulp van maatskappye soos RoyalMnandi, voedselonsekerheid deur verskillende finansiële hanteringsmeganismes aanspreek, waaronder voedseltoelaes vir beursstudente. Studente wat nie vir finansiële bystand kwalifiseer nie omdat hulle nie aan die akademiese kriteria vir finansiële hulp voldoen het nie, word ook bygestaan. Die Universiteit se Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings en Nagraadse Befondsing hanteer die bestuur daarvan.

Verder het die maatskaplike werker se kantoor deur die jare heen verskeie voedselinisiatiewe ingestel om studente in nood te help. Hierdie inisiatiewe sluit in die Vouch4US-kosbewysprojek wat personeellede en Maties-studente vra om 'n Pick n Pay-kaartjie van R50 te skenk, asook die Maties4Maties Food Drive-projek wat koshuise en private studente-organisasies (PSO's) se hulp vra met die insameling van niebederfbare kositems.

Witbooi sê dat altesaam 797 studente wat tussen 2013 en 2016 by hulle kantoor aangemeld het, hulp deur die Universiteit se voedselinisiatiewe ontvang het. “Aan die einde van die dag gaan dit oor die verwydering van die struikelblokke wat in die pad van 'n student se sukses staan."

Vouch4US-projek

Die Vouch4US Pick 'n Pay-voucher-projek is in 2013 geloods en is bedoel om behoeftige studente by te staan. Studente van beide Stellenbosch en Tygerbergkampus trek voordeel uit hierdie projek. Personeel en mede-Maties word gevra om 'n R50 Pick 'n Pay-koopbewys te skenk of om 'n skenking in die Universiteit Stellenbosch se bankrekening te betaal.

Bankbesonderhede:

Bank: Standard Bank

Rekening nommer: 073006955

Tak: 05-1001

Ref: 6430B project Nood

Bewys van betaling moet gestuur word aan Lorenza George [email protected]

Maties4Maties kos-projek

Hierdie projek is in 2012 geloods. Dit behels die hulp van koshuise en privaatstudentorganisasies (PSO's) om nie-bederfbare voedselprodukte in te samel. Hierdie kosse word dan in kospakkies verdeel en onder behoeftige studente versprei.

  • As jy graag betrokke wil raak, kontak gerus vir Lizzie Witbooi by die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling by [email protected] of skakel 021 808 4511.

Foto: Seth Segal en Corlette Bekker van RoyalMnandi.​