
Kampusgemeenskap onthou Hannah Cornelius, ander oorlede studente
Op Vrydag (2 Junie) het die Rektor en Visekanselier, Prof Wim de Villiers, 'n boodskap aan studente en personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) gestuur na aanleiding van voorvalle die afgelope twee weke, waarin twee matiesstudente, Hannah Cornelius en Mikhail Hendricks, oorlede is, en 'n medestudent Cheslin Marsh aangerand is:
Kom ons staan saam in hierdie moeilike tyd
Die heengaan van ons studente Mikhail Hendricks en Hannah Cornelius die afgelope twee weke het ons as ’n Universiteits-gemeenskap baie diep geraak. Ons betuig ons meegevoel met hul families en vriende, en dink aan hulle in dié tyd. Ek is verlig om te hoor dat Cheslin Marsh, wat saam met Hannah gekaap is, vordering maak, hoewel hy steeds in ’n baie ernstige toestand is. Ons wens hom alle sterkte toe en hoop dat hy volkome sal herstel. Hy sal op elke moontlike manier bygestaan word om akademies in te haal.Ons waardeer die flink manier waarop die Suid-Afrikaanse Polisiediens gereageer het om die verdagtes aan te keer. Indien ’n skuldigbevinding volg, behoort die oortreders aan die volle omvang van die reg onderwerp te word.Dankie aan personeellede van Studentesake, die leierskap van die koshuise Goldfields en Irene sowel as lede van die Studenteraad (SR) wat Mikhail en Hannah se vriende ondersteun het. Hoewel die kaping in die dorp plaasgevind het, is die soeklig op kampussekuriteit gewerp. Ek wil graag beklemtoon dat studente en personeellede se veiligheid vir ons van die allergrootste belang bly. Hierdie voorvalle, soos alle ander, sal gebruik word om ons veiligheidsmaatreëls en die steun wat ons aan studente bied in samewerking met ander rolspelers verder te versterk.Ek doen weer ’n beroep op elkeen om waaksaam te wees en ons aktiewe vennote in kampusveiligheid te word. Dat die misdaadvlakke ons hierdie las opgelê het, is ’n jammerlike toedrag van sake, maar dit is ongelukkig ’n werklikheid. Deur saam te werk, kan ons die getal voorvalle op kampus in ’n groot mate beperk namate ons streef na ’n veiliger Stellenbosch vir al sy inwoners. Ten slotte, kom ons onthou die studente wat ons verloor het as die ongelooflike jongmense wat hulle was. Al is hulle nie meer hier by ons nie, bly hulle ’n inspirasie vir ons almal.[Inligting opgedateer op Vrydag 2 Junie]Gedig vir Hannah
Die bekende digter prof Joan Hambidge van die Universiteit van Kaapstad, wat ook op die US Raad dien, het die volgende gedig ter nagedagtenis aan die ontslape Hannah Cornelius geskryf.
Optog en nagwaak op kampus in herinnering van Hannah Cornelius
Matiesstudente en -personeel en ander lede van die Stellenbosch-gemeenskap het vandag (1 Junie) 'n optog deur die strate van Stellenbosch gehou na die moord van hul medestudent Hannah Cornelius en die aanranding van Cheslin Marsh, op Saterdag 27 Mei.
Lede van die vrouekoshuis Irene, waar Cornelius 'n inwoner was, het swart strikkies uitgedeel aan dié wat aan die staptog deelgeneem het. Die groep het met Victoria- en Merrimanstraat langs gestap na die Nouveau-woonstelblok in Birdstraat, waar Cornelius en Marsh gekaap is. Daar het die groep Amazing Grace gesing, en 'n oomblik van stilte gehou.
'n Nagwaak word Donderdagaand (1 Junie) 20h00 op die Wimbledon-plein agter Irene-koshuis gehou, in herinnering van studente wat onlangs oorlede is. Studente en personeel word aangemoedig om die geleentheid by te woon en 'n kers saam te bring.
Op 19 Mei het die kampusgemeenskap van die Universiteit Stellenbosch (US) ook met skok en spyt kennis geneem van die dood van ʼn finale jaar regstudent en inwoner van Goldfields-koshuis op die Stellenbosch-kampus, Mnr Mikhail Hendricks. Hendricks, wat as 'n briljante en deernisvolle leier beskryf word, het in verskeie leierskapshoedanighede gedien, onder meer as lid van Goldfields se studenteleierskap. Hendricks was besig met ‘n internskap by die Universiteit Stellenbosch se Regshulpkliniek, waar hy die praktiese deel van sy regsopleiding gedoen het. Hy was ook ‘n navorsingsassistent vir die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Eiendomsreg en ‘n tutor in Kriminele Reg en Grondwet Reg by die Fakulteit Regsgeleerdheid.
[Inligting opdateer op Vrydag 2 Junie]
Kampusgemeenskap geskok oor kaping, dood van student
“Ons kampusgemeenskap is geskok deur hierdie sinnelose daad en ons harte gaan uit na die familie en vriende van die student wat haar lewe verloor het, asook die student wat in die voorval beseer is. Ons is baie verlig om te verneem dat die SAPD verdagtes in verband met die kaping in hegtenis geneem het. Die oortreders moet nou met die volle omvang van die wet gestraf word.”
Dit was die boodskap van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), nadat dit bekend geword het dat twee Matiestudente oor die naweek gekaap is. Me Hannah Cornelius, 'n BA (Geesteswetenskappe)-student is Saterdagoggend (27 Mei) dood gevind, terwyl ʼn mansstudent met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem is.
Prof De Villiers het sy diepste meegevoel met die betrokkenes betuig en gesê: “Ons gedagtes is by die slagoffers van hierdie verskriklike daad. Ons wens die beseerde student beterskap toe en sal alles in ons vermoë doen om bystand te verleen – ook aan die SAPD in hul ondersoek.”
Personeel van die Afdeling Studentesake was Saterdagaand met die ouers oor die kaping in verbinding en het begin om ondersteuning te bied aan me Cornelius se vriende. Traumaberaders het reeds sessies by me Cornelius se koshuis aangebied en is op bystand om ondersteuning te bied. Die Universiteit se Krisisdiensnommer is 082 557 0880 en studente word aangemoedig om van die dienste wat beskikbaar is, gebruik te maak.
Die SAPD het Saterdagmiddag (27 Mei 2017) bevestig dat sake van moord, poging tot moord en kaping ondersoek word. Volgens ʼn SAPD-verklaring is die vrouestudent Saterdagoggend omstreeks 08:30 op die Knorhoekpad buite Stellenbosch gevind. ʼn Blou VW Citi Golf wat hulle bestuur het, is deur drie verdagtes gekaap. Die SAPD het versoek dat enige persoon wat verdere inligting kan verskaf, Crime Stop by 08600 10111 moet kontak.
'n Roudiens vir Cornelius sal Vrydag 2 Junie om 11:00 by die NG kerk in Vishoek gehou word.
- Lees die Studenteraad se verklaring hier.
[Inligting opgedateer op Dinsdag 30 Mei 2017]