Kabamba Floors Maties Rugby se nuwe senior mansafrigter
Die Universiteit Stellenbosch en Maties Sport is trots om Kabamba Floors as die Maties Rugby Senior Mans Hoofafrigter vir die volgende drie jaar aan te kondig.
Floors het in 2018 as die Young Guns se hulpafrigter by Maties aangesluit. Hy is in 2019 tot hoofrigter van die Young Guns bevorder en sy span het in dieselfde jaar die o.20-toernooi van die Varsitybeker-reeks gewen. Hy het in 2020 'n hulpafrigter vir die Westelike Provinsie se o.20-span en in 2021 vir die Curriebekerspan geword terwyl hy nog steeds by Maties afgerig het. Hy het hom in 2022 by die bestuur van Maties se eersteseniorspan aangesluit en was in beheer van die voorspelers, asook vir afbreekpunte en aanval.
Sê Floors: “Dit is 'n groot voorreg om met 'n pos toevertrou te word waarop ek die afgelope sewe voorberei is. Ek sien uit na die harde werk en uitdagings by ons klub wat hoë standaarde stel ten opsigte van sy waardes, kultuur en prestasie. Om met studente-atlete te werk is geen maklike taak nie, maar op grond van my uitgebreide ervaring hier by Maties Rugby, het ek 'n duidelike begrip van wat dit verg om die studente-atlete te bestuur en hulle te help om die balans te vind tussen 'n student en 'n atleet wees. Aan my Maties Rugbykantoor-gesin: Ek is opgewonde oor die volgende hoofstuk as Maties Rugby se hoofafrigter."
“Maties Sport en Maties Rugby is baie trots op die vordering wat Kabamba in sy loopbaan as afrigter gemaak het," sê Drikus Hancke, Hoof van Rugby by Maties Sport. “Hy ken Maties se strukture en wat dit verg om 'n goeie universiteitsafrigter te wees. Hy is 'n goedafgeronde afrigter met 'n wye kennis van die spel en beskik oor uitstekende interpersoonlike vaardighede. Hy weet hoe om met studente te werk en hoe om die beste uit hulle te kry. Dít, tesame met dieselfde mededingende aard wat hom 'n goeie speler gemaak het, het hom 'n uitstaande kandidaat gemaak. Ons is baie opgewonde om hom en die span te ondersteun in hulle deelname aan die Universiteitesport SA-kampioenskapstoernooi en dan die Westelike Provinsie-liga voordat hulle begin voorberei vir die Varsitybekertoernooi."