Skip to main content
Interdissiplinêre kurrikulumontwerp: 'n gevallestudie uit 'n module oor gender, kultuur en religieuse diversiteit

Interdissiplinêre kurrikulumontwerp: 'n gevallestudie uit 'n module oor gender, kultuur en religieuse diversiteit

Anthea Jacobs
26 September 2018

SOL AUXIN SESSIE, 25 SEPTEMBER 2018

te Den Bosch, van 12h45 – 13h45

Dr Anita Jonker, wie die vier interdissiplinêre modules in die VGP-steunvak, Inleiding tot die Geesteswetenskappe in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe koördineer, was die aanbieder by die AUXIN sessie op 25 September 2018. Die titel van Dr Jonker se aanbieding was “Interdissiplinêre kurrikulumontwerp: 'n gevallestudie uit 'n module oor gender, kultuur en religieuse diversiteit as deel van die VGP-steunvak, Inleiding tot die Geesteswetenskappe."

Sy het verduidelik hoe die module ontwerp is met die doel om 'n breër wêreldbeeld by veeltalige studente uit verskillende kulturele en godsdienstige agtergronde te kweek. Gasdosente uit verskillende fakulteite was genooi om, onder andere, met studente te praat oor gender-konsepte wat deurslaggewend is in enige kritiese nadenke oor die menswaardigheid, en ook om studente bekend te stel aan die belangrikste godsdienstige tradisies en die potensiaal van intrareligieuse, interreligieuse en sekulêre dialoog om plaaslike en internasionale konflik vreedsaam op te los. Studente kon deelneem aan hierdie lesings in die taal van hul keuse, sodat hulle bydraes deel kon vorm van die kurrikuluminhoud, terwyl daar terselfdertyd erkenning gegee is aan hulle veeltalige identiteite. Ander vorme van studente-deelname sluit in tutoriale, leeswerk en ekskursies na byvoorbeeld 'n moskee.

Tydens haar aanbieding het Dr Jonker na terugvoer vanaf studente verwys, en die volgende punte uitgelig: studente het die manier waarop dosente verskillende konsepte verduidelik het, waardeer; hulle het die interaksie tydens klasbesprekings geniet; hulle het die tutoriale stimulerend gevind; die gasdosente en hul entoesiasme was noemenswaardig; en studente het melding gemaak van hoe die module hul in staat gestel het om die waarde van integrasie in alle aspekte van hul lewens te sien.

Alhoewel studente positiewe terugvoer oor die module verskaf het, is daar steeds 'n paar sleutelvrae. Ontwikkel studente werklik 'n waardering vir 'n breër wêreldbeeld? Is studente meer verdraagsaam teenoor ander kulture, gelowe en taalgroepe? Is studente in staat om in multi-kulturele groepe met diverse identiteite te werk? Hierdie vrae verdien meer in-diepte ondersoek.

Om na 'n potgooi van die sessie te luister, besoek gerus: http://www.sun.ac.za/english/learning-teaching/ctl/professional-learning-opportunities-for-t-l/auxin/auxin-resources

Hierdie AUXIN sluit die 2018 AUXIN program af. Die volgende AUXIN sal op 26 Februarie 2019 plaasvind.

Foto 1: Die Aanbieder, Dr Anita Jonker

Foto 2: (van L na R) Me Busiswa Sobahle (tutor); Dr Anita Jonker (aanbieder); Mnr Earl Basson (tutor); Dr Karin Cattell-Holden (SOL); Prof Xolilwe Simon (gasdosent)