Skip to main content
Gewilde Siyakhula-personeelprogram nuut verpak en uitgebrei

Gewilde Siyakhula-personeelprogram nuut verpak en uitgebrei

Monica du Toit
01 April 2019

Die Siyakhula-personeelprogram is nuut verpak en uitgebrei as deel van die Diensbillikheid- en Diversiteit-kapasiteitsontwikkelingsprogram.

Sedert 2016 het meer as 600 personeellede op alle posvlakke in verskillende afdelings en dissiplines deelgeneem aan gespreksessies as deel van 'n transformasievaardigheidsreeks. Die model van die Siyakhula-personeelprogram is nog altyd goed ontvang omdat dit erkenning gee aan die kompleksiteit van uitdagings vir Universiteit Stellenbosch-personeel in 'n snel veranderende konteks. Die program bemagtig personeel met diversiteitskennis deur van mekaar te leer, houdings te ondersoek en vaardighede te deel om die gehalte van kommunikasie en verhoudings te verbeter.

Die nuwe program sal voortbou op die sukses van vorige jare en voortbestaan as ʼn vennootskap tussen Menslike Hulpbronne, die Transformasiekantoor, die Eenheid vir Gelykwaardigheid en die Eenheid vir Gestremdhede. Monica du Toit sal steeds die program in haar nuwe rol as deel van Menslike Hulpbronne en spesifiek die Diensbillikheid- en Diversiteit-kapasiteitsontwikkelingsprogram koördineer. Die 2019-program bied 18 verskillende besprekingstemas wat oor praktiese uitdagings soos diversiteitsbestuur, seksuele teistering, rassisme en diensbillikheid handel en empatie-, bemiddelings- en fasiliteringsvaardighede bevorder. ʼn Bykomende tema fokus op die kreatiewe vaardighede van personeel rakende die ontwerp van inklusiewe en toeganklike ruimtes vir almal.

Oor die jare het talle afdelings hierdie program gekies as 'n meetbare manier om transformasiedoelwitte te implementeer, maar dit het ook 'n geleentheid geword vir leiers om na personeelervarings te luister en om te help verseker dat pogings tot inklusiwiteit tot outentieke praktyke en gedrag lei. Vanaf 2019 sal groepe die temas van hul keuse by hierdie skakel kan bespreek: https://goo.gl/JheT2s

Personeel kan ook met Monica du Toit by [email protected] skakel rakende spesifieke behoeftes of reëlings. Die beskikbare programopsies en -inhoud word in die aangehegte dokumente uiteengesit met die opsie om aansoek te doen om aan ʼn sentrale driedag-program deel te neem of om spesifieke sessies vir spanne te bespreek. Die program word gratis vir Universiteit Stellenbosch-personeel aangebied.