
Akkommodasiebedryf probeer hard om water, elektrisiteit te bespaar
As ʼn groot verbruiker van elektrisiteit en water, besef die toerisme-akkommodasiebedryf dit sal hierdie skaars hulpbronne meer volhoubaar moet gebruik. Ongelukkig is beperkte finansies en gaste se gerief van die vernaamste faktore wat die bedryf verhoed om dit te doen.
Dit is een van die belangrikste bevindings van 'n onlangse studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).
“Die toerisme-akkommodasiebedryf wil graag praktyke vir die volhoubare bestuur van water en elektrisiteit toepas, maar die aanvanklik hoë kapitaaluitgawe en lopende koste van die meeste volhoubaarheidsinisiatiewe, beperkte finansiële kapasiteit vir hulpbronne (fondse, mannekrag en tyd) om inisiatiewe te implementeer, en die gerief van gaste verhoed dit," sê dr Love Idahosa, ʼn nadoktorale navorser by die Skool vir Toerisme en Gasvryheid aan die Universiteit Johannesburg. Sy het onlangs haar doktorsgraad in Besigheidsbestuur en Administrasie aan die US behaal.

Idahosa het sleutelbesluitnemers in die akkommodasiebedryf se verstaan, persepsies en voorkeure rakende die bestuur van water- en elektrisiteitsbronne en omgewingsvolhoubaarheid ondersoek. Hier het sy hoofsaaklik op akkomodasie-besighede in Kaapstad en Stellenbosch gefokus. Sy het ook gekyk na die drywers van elektrisiteitsverbruik deur data oor die daaglikse energieverbruik van 22 hotelle regoor die land te gebruik. Hierdie data was afkomstig van die Energie-nutsmaatskappy Power-Star in Durbanville. Verder wou Idahosa die belangrikste uitdagings rondom die toepassing van volhoubare praktyke in die akkommodasiebedryf identifiseer.
Idahosa meen is daar 'n gebrek aan studies oor hoe die vraag na elektrisiteit en water in die bedryf bestuur word.
Sy sê onderhoude met eienaars, bestuurders en operateurs in die akkommodasiebedryf het getoon dat hulle redelik bewus is van die volhoubare bestuur van water en elektrisiteit, die impak van hul aktiwiteite op die omgewing en die rol wat hulle in hierdie verband moet speel.
“Hulle verstaan wat omgewingsvolhoubaarheid vir hul bedryf beteken en dat dit toegepas moet word."
“Hulle word egter deur die finansiële implikasies van sulke volhoubare praktyke (omgewingsvolhoubare praktyke kan redelik duur wees), en veral die besorgdheid om gaste nie ongemaklik te laat voel nie gekortwiek."
“Die bedryf fokus op die lewering van ʼn diens wat gaste se gerief eerder as omgewingskwessies prioritiseer. Dit was dan ook die vernaamste uitdaging in die implementering van omgewingsvolhoubaarheid in akkomodasie-besighede."
“In hierdie bedryf hang sukses van kliënte of gaste se tevredenheid af."
Idahosa sê dit is dus nie verbasend dat inisiatiewe vir die volhoubare bestuur van water en elektrisiteit nie na wense geïmplementeer word nie.
Sy wys daarop dat die verskeidenheid aktiwiteite rakende waterverbruik waaroor akkomodasie-besighede direkte beheer het beperk is.
“Dit is baie moeiliker om die waterverbruik van gaste, veral buitelandse toeriste, te reguleer."
Volgens Idahosa toon wêreldwye studies dat toeriste wat veral ontwikkelende lande besoek veel meer elektrisiteit en water as die plaaslike bevolking gebruik. Hierdie verbruik sal na alle waarskynlikheid in die volgende 25 jaar toeneem.
Wat die gebruik van elektrisiteit betref, sê sy die bevindinge daarop dui dat sekere eienskappe (bv. grootte van inrigtings) en fasiliteite wat aangebied word (bv. ʼn restaurant) die energieverbruik in die bedryf verhoog.
“Verhitting, ventilasie en lugversorging is waarskynlik die grootste direkte drywer van energieverbruik in akkommodasie-besighede."
Idahosa wys daarop dat besighede in Kaapstad en Stellenbosch probeer om water en elektrisiteitsverbruik te verminder deur waterbesparende stortkoppe, krane, toilette en urinale te gebruik, asook energie-doeltreffende beligting en kennisgewings om linnegoed te hergebruik.
“Waterverbruik in kombuise, tuine en waskamers en swembaddens kan verminder word. Hier sal standaard huishoudelike aanbevelings vir waterbesparings effektief wees."
Idahosa sê akkomodasie-besighede moet geteikende boodskappe gebruik om gaste se gedrag ten opsigte van water en elektrisiteitsverbruik te verander.
Sy voeg by dat pogings om die volhoubare verbruik van water en elektrisiteit te verbeter op befondsing en alternatiewe maniere om verbruik te beïnvloed moet fokus sonder om gaste enige ongerief te veroorsaak.
“Beleidsmakers moet 'n meer bevorderlike omgewing skep deur nuwe regulasies en beleide op te stel en/of voriges te wysig sodat dit makliker kan wees vir gewillige besighede om volhoubaarheidsinisiatiewe te implementeer."
Idahosa sê die Departement van Toerisme en die Toerisme Graderingsraad moet saam aansporings vir volhoubaarheid bevorder om operateurs in die bedryf aan te moedig deur middel van subsidies vir hernubare energie en waterbesparende toestelle, lae pryse vir doeltreffende energie (en water). Verder moet die huidige graderingstelsel aangepas word om ekstra graderings vir volhoubaarheidsinisiatiewe toe te ken, en moet die bedryf gehelp word om personeel in volhoubare gasvryheid op te lei.
“Dit is noodsaaklik omdat die toerisme-akkommodasiebedryf 'n belangrike komponent van die algehele toerismesektor en algehele toerisme-ervaring is. Die volhoubaarheid van die positiewe sosio-ekonomiese voordele van toerisme hang af van die wyse waarop sy omgewingsvoetspoor bestuur en hulpbrondoeltreffendheid verbeter word."
Hooffoto: Akkomodasie
SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Dr Love Idahosa
Kollege vir Sake en Ekonomie
Skool vir Toerisme en Gasvryheid
Universiteit van Johannesburg
Tel: 011 559 1042
E-pos: [email protected] / [email protected]
UITGEREIK DEUR
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4921
E-pos: [email protected]